Home

DIE GETUIE UIT DIE

WERKLIKHEID


ABRAHAM KRIEL


Hierdie is 'n 2014 verwerking van vroeëre uitgawes. Dit is verkrygbaar by www.apkriel.co.za. (Ook in Engels). As eienaar van die kopiereg verleen die skrywer belangstellendes die reg om dit in geheel of gedeeltelik te kopieer, af te druk of te versprei. Enige korrespondensie of kommentaar sal verwelkom word by apkriel@gmail.com.



  1. ONTMOET DIE WERKLIKHEID.

'n Militante ateïs is per geleentheid gevra wat hy sou doen as hy na sy dood nogtans vir God sou ontmoet. Sy antwoord was: “Ek sou Hom vra waarom Hy altyd so goed weggekruip het.”

Wat ek graag sou wou weet, is wat hy op sy beurt sou antwoord as hy gevra word hoe deeglik hy gekyk en geluister het. Het God nie straks meermale aan hom gesê: “Hier is Ek,” nie? En as Hy dit wel gesê het, is dit nie straks baie belangrik wat Hy ook nog daar bygevoeg het nie?

Daar is egter meer as een manier om te sê: “Hier is ek.” En die aankondiging hoef nie noodwendig mondelings te geskied nie. Neem die volgende geval wat reeds duisende jare gelede plaasgevind het.

In Genesis 43:33 word daar berig dat Josef se broers in Egipte, voordat hulle geweet het dat dit met hom is wat hulle te doen het, na 'n ete genooi is, waar hulle toe vind dat hulle aan tafel volgens hulle ouderdomme plekke aangewys word. Josef was wel veronderstel om te weet dat Benjamin die jongste broer is, maar die ander tien, het hulle gereken, moes vir hom totale vreemdelinge gewees het. Hy het selfs deur middel van 'n tolk met hulle gekommunikeer. Wat sou dié vreemde Egiptenaar nou van hulle ouderdomme weet? Geen wonder nie, dat die broers mekaar verwonderd aangekyk het.

Wat het hulle dan laat wonder?

Wat die broers laat wonder het, is dat twee rangskikkings van tien broers presies ooreengekom het. Een daarvan was die rangskikking volgens ouder-domme, en die ander die rangskikking by die ete deur 'n vermoedelik wildvreemde Egiptenaar.

As daar net twee broers was, sê nou maar A en B, kon hulle net op twee maniere gerangskik word, naamlik AB of BA. Dit sou niemand verbaas as hulle dan toevallig volgens hulle ouderdomme plekke aangewys word nie. In die geval van drie word dit ABC of ACB of BAC of BCA of CAB of CBA. Dit wil sê daar is nou ses moontlikhede. Die meeste mense sal waarskynlik nog aanvaar dat drie van hulle toevallig van die oudste tot die jong-ste gerangskik kan word. Vir tien broers is die moontlikheid egter een uit heelwat meer as drie-en-halwe miljoen. Geen won-der nie, dat die broers mekaar verwonderd aangekyk het. Hulle het lont geruik, al sou hulle nie kon uitspel wat dit was nie. Hulle het aangevoel dat die rangskikking nie sonder 'n intelligente rangskikker, wat hulle ook geken het, kon geskied het nie, maar dit het natuurlik vir hulle onmoont-lik gelyk. Vandaar dan hulle verbasing. Hulle het nie besef dat dit hulle broer Josef was wat vir hulle sê: “Hier is ek” nie.

Dat 'n intelligente rangskikker deur sy rangskikking sê: “Hier is ek” geld nie uitsluitlik vir die belangrikste rangskikkings nie. 'n Spesifieke rangskikking van aansittendes is nie baie belangrik by 'n ete nie. Dit doen niks aan die gehalte en smaak van die kos nie. Maar dikwels het rangskikking tog wel belangrike implikasies. Ruil die orde van die vonkproppe in jou motor om, en kyk of hy loop. Foutiewe rangskikking van kragte is een van die faktore wat 'n gebeurtenis onmoontlik mag maak.

Maar selfs korrekte rangskikking kan nie vergoed vir die totale afwesigheid van krag nie. 'n Motor mag in die puikste toestand wees, met elke partjie en deeltjie presies op die korrekte plek; maar as die eienaar vergeet het om brandstof in te tap om die krag te voorsien, bly hy staan.

Vergun my weer 'n voorval om die rol van kragte te belig.

Lank gelede was 'n gesiene inwoner van my geboortedorp nie gediend met die sendingwerk wat die Morawiërs in Genadendal gedoen het nie. Hy het gekla dat hulle klokke Sondagoggende sy stemming versteur. Aangesien omtrent sewentig kilometer die sendingstasie van Stellenbosch skei, en daar ook nog berge tussenin is, neem ek die vrymoedigheid om, ten spyte van sy hoë aansien, sy woorde in twyfel te trek en te sê wat hy beweer het was onmoontlik.

Tog het daar 'n tyd aangebreek toe dit nie meer onmoontlik was om sulke veraf klokke te hoor nie, naamlik toe die telefoon sy verskyning gemaak het. As 'n belangrike persoon op 'n Sondagoggend gesteur wou word, en hy het 'n vriend in Genadendal gehad wat vlak langs die kerk woon, kon hy hom gebel het, en moontlik sou hy die klokke op die agtergrond hoor..

Vandag kan 'n Stellenbosser die klokke selfs baie verder as Genadendal, en wel in Maastricht in Nederland, nie alleen hoor lui nie, maar hulle ook sien swaai, en selfs jare nadat dit gebeur het en so dikwels as wat hy wil. Dit kan hy doen met 'n DVD van André Rieu.

Wat het dan die onmoontlike moontlik gemaak?

Net eenvoudig die beskikbaarheid en rangskikking van die nodige kragte en prosesse. Dit is gelukkig nie nodig om die besonderhede te verstaan nie, en vir die meeste van ons is dit seker genoeg om te weet dat elektrisiteit een van hierdie kragte is wat die telefoon en die DVD-speler laat werk.

Wat my oortuig dat dit onmoontlik was vir Genadendal se klokke om iemand in Stellenbosch te ontstig, is dus net eenvoudig die wete dat die nodige kragte destyds afwesig was.


Ontmoet die misterie

Maar gestel ek is absoluut seker dat iets wel gebeur het, en net so seker dat die nodige kragte afwesig was. Wat dan?

Dan moet ek die tekortkoming by my sekerheid soek en erken dat ek nie met al die kragte vertroud is nie. En dat daar onbekende kragte of minstens onbekende moontlikhede van bekende kragte aan die werk is. Wat my betref, het ek voor 'n geheimenis of misterie te staan gekom.

Een van die mees versoberende waarhede waarvoor 'n soeker moet buig, is die krapperige feit dat wat vir hom 'n misterie is, net so 'n deel van die werklikheid is soos dit wat hy glashelder voor sy oë kan sien. Dit mag wees dat hy dit later sal verstaan, of dit mag wees dat hy dit nooit sal verstaan nie. Selfs as dit nooit vir hom moontlik sou wees om te verstaan nie, verander dit niks aan die feit dat die misterie 'n volwaardige deel van die werklikheid is nie.


Wat is die werklikheid dan?

Oor die werklikheid of die realiteit is boekdele geskrywe, maar ons sal die woord gebruik in teenstelling tot een of ander soort dwaling. Laasgenoemde mag 'n oordrewe vertroue wees, soos wanneer iemand 'n slim plan bedink om gou ryk te word, maar vind dat dit in die werklike lewe nie uitwerk nie, of wanneer hy 'n baie aange-name droom het, maar dan weer moet ontwaak tot die harde werklikheid van die daaglikse lewe. “Werklikheid” verwys dan na die omstandighede waarin jy jou bevind, sonder dat jou begeertes en verwagtinge in ag geneem word. Die ondervinding leer ons dat dit die verstandigste is om dit te leer ken, sodat ons nie daarmee in botsing kom en die gelag moet betaal nie. Die werklikheid mag natuurlik ook soms 'n verligting besorg, soos wanneer iemand wakker word van 'n nagmerrie.


Waarom dan belangrik?

Waarom is dit dan so belangrik om soveel as moontlik van die werklikheid te weet?

Ek sou net eenvoudig sê omdat ons seker kan wees dat ons dit die een of ander tyd gaan ontmoet.

Ons kan droom en fantaseer soveel ons wil, maar ons bestaan in omstandighede waaraan ons die naam “werklikheid” gegee het. En ons voel kriewelrig solank daar vir ons geheimenisse is. En al sou ons nie seker wees dat ons uiteindelik die onrus kan verdryf nie, doen ons wat ons kan om dit minstens te verlig deur kennis van die werklikheid in te samel.


Ons toerusting.

Een ding is seker: ons sou van die werklikheid niks geweet het sonder ons sintuie nie. Ons beweer gewoonlik dat ons vyf daarvan het. Deur te sien en te hoor en te voel en te proe en te ruik maak ons kontak met die werklikheid waarin ons lewe. Maar hoe ver bring die sintuie ons?

Ons aanvaar dat ons hierdie vyf sintuie nodig het om die nodige inligting omtrent ons omstandighede te verkry, en as baie van ons ons waarnemings vergelyk en vasstel dat hulle ooreenstem, aanvaar ons dat die inligting korrek is. Met ons sintuie neem ons eerstens waar wat bestaan. Maar dit is nie al nie, want ons neem ook gedurig veranderinge waar. Met ander woorde, ons neem kennis van gebeurtenisse. En verder nie net wat per geleentheid gebeur nie, maar ook wat reëlmatig onder sekere omstandighede en in 'n sekere volgorde gebeur. Die ontdekking van sulke reëlmatighede gee ons dan die vrymoedigheid om wette te formuleer. En wat ons veral interesseer, is die feit dat sekere dinge gereeld uit sekere ander dinge ontstaan. Maar die hele proses van kennismaking met die werklikheid spring weg met ons sintuiglike waarneming.


Hond se gedagte

Maar nou vertoon die mens 'n eienaardigheid, naamlik dat hy nog deur al die eeue en dwarsoor die wêreld die vae agterdog verraai dat wat hy deur sintuiglike waarneming en die daaropvolgende afleidings leer ken, glad nie al is wat in die werklikheid voorkom nie. Hierdie vermoede blyk uit sy verwagting dat hy in drome kennis mag opdoen wat nie uit die daaglikse ondervinding verkrygbaar is nie. Maar selfs al het ons nooit gedroom nie, is daar ander oorwegings en waarnemings wat ons mag oortuig dat ons nog glad nie die hele verhaal omtrent die werklikheid gehoor het nie. Ons mag selfs wonder of ons oor al die nodige sintuie daarvoor beskik.

Hoeveel sintuie?

Ons praat van ons vyf sintuie, en ons reken geredelik dat dit al is wat daar kan wees. Maar wat sou mense wat net vier sintuie het, gedink het as ander hul nie ingelig het nie? Ek het eenkeer vir 'n blindgebore man gevra of hy enige idee kon vorm wat bedoel word met 'n woord soos “rooi”. Hy het erken dat hy dit nie kon doen nie. Hy het ongetwyfeld goed geweet dat bloed rooi is, dat sekere blomme rooi is, moontlik selfs dat 'n posbus gewoonlik rooi is, dat 'n mens rooi van skaamte kan word, en dies meer. Maar dit het hy geweet omdat hy mense vertrou het wat hom dit vertel het, en toe het hy hulle woorde geglo, en miskien selfs herhaal, sonder om presies te weet wat hulle beteken. Hoe sou 'n mens rooiheid aan hom kon verduidelik sonder om 'n ander woord te gebruik wat hy ewe onverstaanbaar sou vind? (Sit nou eers die boek neer en probeer om dit te doen, al is daar niemand wat luister nie.) Selfs die woord “kleur” sou vir hom 'n raaisel wees. Van wat aan hom vertel is, sou hy weet dat daar verskillende kleure is met verskillende name. Maar sou iemand hulle aan hom op so 'n wyse kon verduidelik dat, as hy skielik sy gesig moes kry, hy sou weet watter voorwerpe rooi of blou of geel is? En dit is nie slegs kleure wat aan hom onbekend sou bly nie. As hy alleenlik op sy eie ondervinding moes staatmaak, selfs al sou hy vermoed dat daar iewers 'n liggaam soos die son moet wees wat hitte uitstraal, sou hy nooit weet dat daar wolke en sterre en 'n maan is nie. En sou hy in die geheel ooit presies weet hoe dit is om te sien?

Neem dit nou verder en dink aan 'n eiland waarop al die mense blind gebore is, terwyl hulle darem op een of ander manier daarin geslaag het om voort te bestaan. Verder is hulle nog nooit meegedeel dat daar mense is wat wel kan sien nie. Dan verskyn iemand met al vyf sintuie skielik eendag in hulle midde en hy begin praat van die maan en die sterre en wolke en kleure. Hoe sou hulle reageer?

Aanvanklik, reken ek, sou hulle hom uitlag. Maar geleidelik mag hulle tog vasstel dat hy op 'n afstand van dinge gewaar kan word. Hy kan vir hulle sê: “Daar kom So-en-so aangestap,” en na 'n paar sekondes sluit So-en-so ook werklik by hulle aan. Hy doen ook ander dinge wat hulle oortuig. En so glo hulle uiteindelik nie alleen in hom nie, maar hulle begin hom selfs vertrou om dinge vir hulle te doen wat hulle nie self kan doen nie.

Maar stadig oor die klippe met die “al vyf”! Ons het na die besoeker verwys as iemand met “al vyf sintuie.” Hoe seker kan ons wees van daardie “al”? Ons ore en oë kan sekere golwe opvang, en ons neuse en tonge reageer op sekere chemikalieë, maar daar is ander wat buite hul bereik val, maar wat wel deur sekere diere waargeneem kan word. Nie alleen kan hulle note hoor wat te hoog vir ons is nie, maar palings vind hul weg terug na die plek van hul geboorte, vermoedelik gelei deur die aarde se magnetiese velde; en vlermuise vlieg rond in pikdonker grotte sonder om teen mekaar of teen die wande te bots. En alhoewel 'n hond reeds baie fyner kan ruik as 'n mens, word daar gesê 'n wolf se reuk is nog baie skerper. Dan is daar nog ander golwe en strale wat slegs 'n uitwerking het op sekere instrumente, en wat dus selfs nie deur diere waargeneem kan word nie. As dit nie so was nie, sou ons geen radios, selfone, afstandbeheer-ders en televisiestelle gehad het nie. Daar mag selfs meer wees wat ons nie kan waarneem nie as wat wel binne ons perke val. Net soos die bogenoemde blindes op die eiland, loop ook ons gevaar om die werklikheid te verskraal om by ons waarnemingstoerusting te pas.


'n Sesde sintuig?

Daar is dan ook inderdaad mense wat daarop aanspraak maak dat hulle kan waarneem wat vir andere verborge is. Hoe sou u kort na u huwelik die geselskap van 'n spook op prys stel? Jare gelede, toe ek 'n telefoonberader was by Noodlyn, het 'n man gebel en gesê hy het pas van sy wittebrood teruggekeer, maar nou was daar 'n spook wat vasbeslote was om by hom en sy bruid in hul woonstel aan te sluit. Van sy beskrywing het sommige ander inwoners van die gebou die indringer herken as iemand wat tevore daar gewoon het, maar wat hy nie self geken het nie. Ek het nooit persoonlik iets soortgelyks ervaar nie ('n gebrek waaroor ek hoegenaamd geen selfbejammering koester nie!), en die naaste wat ek daaraan gekom het, het een aand in my kinderjare plaasgevind toe ek teenwoordig was waar 'n dame wat ek goed geken het, gesien het dat iemand ver van ons huis besig was om te sterf. Die “sesde sintuig” of “buitesintuiglike waarneming” is deur verskillende gesiene navorsers ondersoek, en twee broers wat beide daarin belang gestel het, was Aldous en Julian Huxley. Diegene wat self hierdie verskynsel ondervind het, sluit mense soos die digter Goethe en die sielkundige Jung in. Ek gee nie te kenne dat sulke waarneming die deur sal open vir 'n meer verhewe soort kennis as wat ons met ons gewone beperkte toerusting kan bekom nie, maar die feit dat dit wel bestaan, gee ons alle rede om beskeie te wees as ons daarop aanspraak maak dat ons die werklikheid volledig deurgrond het. Deste meer aangesien sulke ondervindings soms kennis meedeel van gebeurtenisse wat nog in die toekoms lê.


Nog redes tot nederigheid

Nie alleen ons sintuie nie, maar ook die wette wat ons met hulle hulp formuleer, blyk soms meer beperk te wees as wat ons aanvanklik vermoed. Al ons ondervinding leer ons dat, as enige deel van ons liggaam tot bokant 'n sekere graad verhit word, dit ondraaglik word en selfs tot verbranding lei. (In my jeug het ek eenkeer per ongeluk hierdie reël eksperimenteel bevestig deur kaalvoet in warm as te trap.) Tog vind daar seremonies plaas waarin mense kaalvoet oor gloeiende kole loop sonder om iets oor te kom. Sommige wetenskaplikes erken dat hulle nie vuurlopery kan verklaar nie, en dié wat dit wel probeer en wat tot my kennis gekom het, doen dit so onoortuigend, dat hulle slegs hul eie onvermoë verraai.

Of neem iets met 'n meer akademiese klank. Vandag vertel die fisici ons dat die wette wat vir die kwantumwêreld geld, totaal verskil van dié waaraan ons gewoond is en wat ons vanuit ons sintuig-like waarnemings geformuleer het. “Nie-mand in kwantum-meganika praat nog van onmoontlikhede nie,” sê Lyall Watson, terwyl hy voorstel dat daar 'n verband mag wees tussen die probleme wat hierdie ver-takking van die wetenskap oplewer, en die “gawes van onbekende dinge” wat hy op die eilande van die Stille Oseaan ondervind het.(bls. 142) Bill Bryson verwys na Nils Bohr wat eenmaal verklaar het dat iemand wat nie woedend word as hy die eerste maal van die kwantumteorie hoor nie, nie verstaan wat gesê word nie. Hy noem James Trefil se verwysing na “'n gebied van die heelal wat ons breine net nie bedraad is om te verstaan nie,” en Feynman se stelling: “Dinge op 'n klein skaal gedra hul hoegenaamd nie soos dinge op 'n groot skaal nie.” (blss.189 – 192) Gideon Joubert beskryf kwantumfisika as “'n spookagtige landskap waar onaardse dinge gebeur. Alles is onwerklik. Niemand weet wat met dinge gebeur as nie daarna gekyk word nie.” (blss. 199, 203) Maar is die kwantumwêreld nie ook deel van die werklikheid nie?

Alhoewel baie hiervan bokant die begrip van die deursnee leser (en, laat ek maar erken, die huidige skrywer) mag val, sou dit gewis 'n wyse belegging van ons verstandelike aktiwiteit wees om daaroor na te dink voordat ons 'n finale standpunt inneem oor die sleutelvraag: “Wat is moontlik en wat nie?” As ons die vraag nie duidelik stel nie, mag ons gebrek aan 'n antwoord daarop ons denke verder beperk en hopeloos verwar.


Moontlikheid

Van die sleutelvraag oor moontlikheid gepraat: die ganse werklikheid lê nie op hierdie oomblik oop en bloot voor ons uitgesprei nie. 'n Groot deel daarvan lê in die verlede, en baie bekwame navorsers bestee hul lewens daaraan om dit te ontrafel. Dit sluit geskiedkundiges in sowel as talle natuurwetenskaplikes, en ook regsgeleerdes wat gedurende 'n verhoor moet vasstel wat in die onlangse verlede gebeur het. En een van die nuttigste begrippe wat tot hul hulp kom, is die term “onmoontlik.” As vasgestel word dat een of ander beweerde gebeurtenis onmoontlik is, weet hulle dat hulle dit met 'n geruste hart uit hul oorwegings kan uitsluit. As iemand in Riviersonderend doodgeskiet is, maar 'n verdagte kan bokant enige twyfel bewys dat hy daardie middag in Putsonderwater gesien is, is die alibi vir hom 'n verligting, en moontlik ook vir die regsgeleerdes..

In hierdie geval is dit welbekend wat die potensiaal van die betrokke kragte en faktore is. Dit is bekend hoe ver 'n koeël kan trek en wat die vereistes is vir 'n aanvaller om sy slagoffer te kan sien en om so korrek te kan mik dat die koeël sy werk doen. Maar dit is nie altyd so eenvoudig nie. Waarom nie?

Daar is min gebeurtenisse wat beskryf kan word as die produk van een enkele faktor. Om enige gebeurtenis te veroorsaak, is daar gewoonlik 'n samewerking van kragte en faktore nodig. Ook moet hulle reg gerangskik word en mekaar in die regte volgorde opvolg. Na so 'n vrugbare rangskikking en opeenvolging van faktore en kragte kan verwys word as 'n proses. En slegs as hierdie faktore en kragte aan ons bekend is, kan ons waag om afleidings te maak omtrent wat moontlik en onmoontlik is.

As iets gebeur het, weet ons beslis dat dit moontlik moes gewees het. Selfs al is dit vir ons 'n misterie wat dit veroorsaak het, weet ons een ding: dit kon baie beslis nie deur afwesige kragte veroorsaak gewees het nie.

Die misterie van oorspronge.

Maar selfs die mees bekende en alledaagse voorwerp van ons kennis kan lei tot 'n misterie as daar gevra word langs watter pad dit gekom het. Neem as voorbeeld 'n gewone koppie of 'n piering of 'n bord. Dit is algemeen bekend hoe dit uit klei gevorm en daarna gebak en geglasuur is. Min mense sou dit beskou as 'n misterie, en dié wat dit wel so beskou kan geredelik ingelig word. Dit is minder algemeen bekend hoe die klei ontstaan het. En nog minder hoe die stowwe self ontstaan het waaruit die klei ontstaan het. En uiteindelik kom ons af op iets waarvan niemand die ontstaan kan verklaar nie. Dit geld vir die lewelose omgewing, sowel as vir lewende plante en diere. Al hierdie dinge het een tyd nie bestaan nie, dog moes op een of ander manier in die tyd ontstaan het. En hierdie oorspronge is van die mees tergende geheimenisse. Hoe het materie ontstaan? En die bewussyn? En boweal, die lewe?



Die lewe.

Neem laasgenoemde as voorbeeld. Beide spesialiste en leke vra hoe die lewe ontstaan het. En dit is moontlik in 'n oomblik van desperaatheid of moedeloosheid dat sommige selfs voorgestel het dat dit êrens in die ruimte moes ontstaan het en toe na die aarde gebring is. So 'n verklaring verskuif die probleem geografies, en moontlik buite ons bereik, maar dit is skaars 'n oplossing, en beklemtoon maar net weer hoe onoplosbaar ons dit vind. Trouens, die feit dat sekere wetenskaplikes die probleem na die ruimte verskuif, is 'n aanduiding dat ook hulle nie 'n verklaring kan gee wat deur ander wetenskaplikes aanvaar sal word nie. Maar eintlik word daar meer gevra as hoe die lewe ontstaan het, want die spesialiste word selfs gepla deur die meer basiese vraag: “Wat is dit?” Neem enige dier en sny sy suurstof-voorraad af. Gestel binne drie minute het die lewe hom verlaat. Maar wat het fisies verander? Alles wat vier minute gelede in hom was, is nog daar. Maar wat is dan weg, en kan dit teruggeplaas word? Een skrywer wat die situasie opgesom het, het verduidelik dat, aangesien ons nie weet wat die lewe is nie, ons maar moet let op wat die lewe doen. Hy beskrywe die lewe as 'n “squirrelly thing.” En al hierdie vrae dui daarop dat wat die mens daagliks met sy sintuie ervaar, nie die werklikheid uitput nie. Want as enigiets tot die werklikheid behoort, dan is ook die ontstaan daarvan noodwendig net so 'n deel daarvan as die bestaan, of daar nou ook al iemand is wat weet hoe dit gebeur het of nie.


Kan die misterie beperk word?

Maar kan ons aan die misterie voorskryf wanneer en waar om te verskyn? Kan ons sê: “Goed, ons is gewillig om vir jou 'n plek in te ruim reg aan die begin van die geskiedenis van die werklikheid, maar jy moet jou plek ken, en vandag moet jy jou gedra en nie ons sake deurmekaarkrap nie.”? As ek gewillig is om te glo dat die waarneembare werklikheid lank gelede op 'n misterieuse wyse tot stand gekom het, is dit dan logies om te ontken dat dieselfde misterie tans aan die werk kan wees?


Ooreising van die bekende

Daar is 'n ou verhaaltjie van twee mans wat nog nie met 'n fiets bekend was nie en wat 'n fietsspoor in die sagte grond raakgeloop het. Een verklaring was dat dit twee kruiwaspore was. Maar waar was die voetspore van die stoters dan? Uiteindelik is 'n oplossing gevind: iemand het in een kruiwa gesit terwyl hy die ander een stoot!

Die krag waarmee hulle nie rekening gehou het nie, is die vermoë van die mens om hom te balanseer as hy in beweging is. Daarom was so iets soos 'n fiets, met net twee wiele agter mekaar, vir hulle ondenkbaar, en moes die bekende kragte wat gebruik word wanneer 'n kruiwa gestoot word, ingeroep word vir 'n verklaring.

Enige verskraling van die beeld van die werklikheid deur die ontkenning van sekere aspekte daarvan kan vergelyk word met die situasie wat ontstaan wanneer werkers in enige bedryf afgedank word. Dit lei dikwels daartoe dat die oorblywendes ooreis word. En net so lei die beperking van die aantal magte van die werklikheid waarmee wel rekening gehou word, dikwels daartoe dat van die oorblywende magte verwag word om te doen wat bokant hul vermoë lê.

In hierdie verband is dit nuttig om te let op 'n diepgewortelde oortuiging wat baie dikwels sy kop uitsteek.


Net nie hier en nou nie!

'n Profeet sukkel maar steeds om in sy eie dorp aanvaar te word; en wanneer berigte van rampe 'n mens bereik, is dit alte maklik om so vaagweg te voel: “Dit kan nie hier gebeur nie.” In baie lande in Afrika, en vermoedelik ook elders in die wêreld, kom die geloof voor dat die werklik bekwame towenaars en geneeshere van oorkant die grens moet kom, omdat hulle meer krag besit as die plaaslikes. Maar meer nog as die afstand in ruimte, het afstand in tyd hierdie uitwerking om die grense van die moontlikheid te verskuiwe en die opvatting te vestig dat rare dinge lank gelede kon gebeur het. Selfs die eerste verhaal van die Broers Grimm begin met die woorde “Lank gelede, toe dit nog gehelp het om te wens ...” Vandag, weet ons, verander blote wensdenkery niks. Maar verskuiwing in die verre verlede maak dit oënskynlik moont-lik. Is hierdie soort geloof in die moontlik-hede van die oertyd beperk tot die storie-vertellers van toet? Of kom dit vandag nog voor? Glo mense nog dat wat vandag onmoontlik is, lank gelede wel kon gebeur het?

Is die gedagtes rondom die oerknal nie 'n voorbeeld van so 'n geloof nie?

Wanneer daar vandag op enige plek 'n ontploffing plaasvind, wil almal weet wat dit veroorsaak het. Watter indruk sou 'n informant maak wat beweer: “Nee wat, dit is nie veroorsaak nie, dit het sommer net plaasgevind. Ontploffings gebeur soms net”? Wie sou beïndruk wees? En tog, as 'n punt in die absolute niks wel miljarde jare gelede uitgeplof het en die heelal gevorm het, wat verhinder 'n baie geringer ontploffinkie vandag om sommer in ons straat te gebeur sonder om deur enigiets veroorsaak te word? Of is die geloof dat afstand in die verlede die onmoontlike moontlik maak, dalk nog springlewendig ?

Die kardinale vraag is nie of die oerknal plaasgevind en die heelal voortgebring het nie. Want selfs al het dit plaasgevind, bly die vraag nog wat dit laat knal het. Dit mag lyk asof, hoewel dit onmoontlik is vir die heelal om sommer in een oomblik uit die huidige niks te ontstaan, dit darem makliker was vir 'n uiters klein stofdeeltjie (maar met haas onbeperkte potensiaal) om hom uit die oerniks aan te meld en dan te ontplof om sy huidige bykans onmeetlike omvang aan te neem. Om een of ander rede lyk dit meer redelik om so iets te aanvaar as dat daar 'n onpeilbare persoonlike Skepper was wat mag tot sy beskikking het waarvan ons geen idee kan vorm nie. Maar beteken die feit dat so 'n geloof makliker is, omdat dit meer in ooreenstemming is met die huidige gangbare denke, dat dit meer redelik is? Die feit is eenvoudig dat, al sou alles deur 'n oerknal ontstaan het, ons met ons sintuiglike waarneming en logiese denke nie die vermoë besit om te bewys dat geen persoonlike Skepper daarvoor verantwoordelik was nie. Vir denke wat alleenlik op ons daaglikse menslike ondervinding gebaseer is, mag 'n ongeskape Skepper 'n onmoontlikheid wees. Maar vir 'n begin wat op enige ander wyse geskied het, geld presies dieselfde probleem, want ons het geen ondervinding van enigiets wat iets anders uit niks tevoorskyn kan laat kom nie. Daar word soms daarop gewys dat teïste wat glo dat daar 'n Skepper was, hulle dan as 't ware in 'n hoek vasgeverf het, omdat hulle nie verder kan gaan en verklaar waar die Skepper vandaan kom nie. Maar is die materialis enigsins in 'n gunstiger posisie? Kan hy verklaar wat die oerknal laat knal het? Of moet albei erken dat, as hulle net op hul eie denke en afleidings uit hul eie ondervinding moet staatmaak, hulle langs mekaar in 'n hoek vasgeverf sit? Of moet ons eerder sê hulle staan saam voor 'n toe deur waar hulle enigste hoop is dat 'n Getuie van die ander kant die sleutel sal bring?


Die uiteindelike Werklikheid

Namate ontwikkelinge waargeneem is en daar opgemerk is hoe sekere dinge uit ander ontstaan, het die oortuiging posgevat dat daar 'n uiteindelike werklik-heid moet wees waaruit alle dinge bestaan en waaruit hulle dan ook oorspronklik ontstaan het. Thales, die eerste beroemde Griekse filosoof, het beweer hierdie uiteindelike werklikheid is water. Ander het ander verklarings gegee. Maar of die uiteindelike werklikheid nou water of vuur of atome of getalle of wat ookal was, daar was een onvermydelike vraag wat nie lank op hom laat wag het nie: Hoe het alles begin? Selfs as ons dink ons weet hoe alles ontstaan het, wie of wat het dit laat ontstaan?

Verskillende groepe het hierdie misterie probeer oplos met 'n verslag van die oorsprong van die wêreld en die dinge en lewende wesens daarop. En byna sonder uitsondering was daar 'n oortuiging dat 'n Wese of wesens wat in sekere opsigte met die mens ooreenkom, maar wat hom natuurlik oneindig oortref, verantwoordelik gehou moet word. Die mees bekende verslag is ongetwyfeld dié van die Hebreërs, soos aangetref in die boek Genesis, waarvan die wetenskaplike en teoloog Gerald L. Schroeder sê: “Van al die ou verslae van die skepping, was net dié van Genesis werd om 'n tweede maal deur die wetenskaplike gemeenskap gelees te word. Dit alleen beskryf 'n opeenvolging van gebeurtenisse wat naby die wetenskaplike verslag van ons kosmiese oorspronge kom.” In teenstelling tot die ander ou verslae is “die ooreenkoms tussen die beweringe en tydsberekening in Genesis 1 en die ontdekkinge van die moderne wetenskap fenomenaal.” (bls. 70) Die Grieke het ook hul skeppingsverhaal gehad, maar sommige van hulle het ook gewerk in die rigting van 'n alternatiewe verklaring wat gegrond was op hul kennis van die wêreld waarin hulle geleef het en die magte wat daar aangetref word. Dit het gelei tot die sogenaamde “wetenskaplike” benadering, wat tans hoë aansien geniet, en wat berus op akkurate waarneming van wat bestaan en wat onder sekere omstandighede gebeur, die ontdekking van reëlmatighede en die daaropvolgende formulering van die wette van die natuur. Dit is gedoen vir die lewelose wêreld sowel as vir daardie gedeelte waar die lewe waargeneem word. Pogings is dan aangewend om in die lig van hierdie wette die herkoms van die huidige lewende of biologiese wêreld te ontrafel. Hierna sal ons terugkom, maar kom ons kyk eers na 'n ander oortuiging wat reeds eeue lank so 'n greep op mense uitgeoefen het, dat hulle beswaarlik van die gedagte kon loskom dat dit op 'n onlosmaaklike aspek van die werklikheid dui. Dit het te doen met hul eie plek in die werklikheid. Ondersoek van die werklikheid het onafwendbaar gelei tot die vraag: “Is ons ook deel daarvan, en indien wel, waar pas ons daarin?” En die mens het dit nie as aanmatigend beskou om vir homself en sy medemense op 'n baie verhewe plek aanspraak te maak nie.


2.DIE GROOT RAAISEL VAN DIE WERKLIKHEID


Daar is verskillende redes waarom dit vir die mens nodig is om iets van homself te weet. Een enigsins elementêre rede is dat dit tot sy voordeel is om te weet hoe ander mense onder bepaalde omstandighede teenoor hom sal optree, en dat hy dikwels hierdie vraag minstens gedeeltelik kan beantwoord deur te vra wat hy self in hulle posisie sou doen. Omgekeerd kan kennis van ander mense natuurlik die sleutel wees tot selfkennis, wanneer hy opmerk dat iemand anders iets onverwags doen, en die vraag ontstaan: “Is ek nie eintlik ook maar so nie?”

Reeds eeue gelede het die mens die taak aanvaar om hom aan homself voor te stel. Die ou Grieke, insluitende sommige van die mees gevierde filosowe, het veel gemaak van die uitdrukking “gnothi seauton”, wat beteken “ken jouself.” Hierdie woorde het dan ook in 'n opskrif bo 'n poort in Delphi by die orakel verskyn. Sokrates het gevra wat dit sou help om allerlei ander dinge te ken, as hy homself nie ken nie. Maar dit is geen geringe taak nie. Eeue later het Benjamin Franklin gesê: “”There are three things extremely hard: steel, a diamond, and knowing oneself.” Tog is daar diegene wat reken dit is die moeite werd om die taak te onderneem.

Een van die mees betroubare toetse om die mens te ken, en waarmee een mens van 'n ander onderskei kan word, is ongetwyfeld die eenvoudige vraag: “Wat wil hy hê?” Maar skaars minder verhelderend is die vraag: “Wat probeer hy vermy?” en dan spesifiek in uiterste vorm: “Waarvoor is hy bang?”

Diere het ook begeertes en vrese, en tog is verwaandheid nie die enigste dryf-veer wanneer die mens hom bo hulle verhewe ag nie. Hy lewer soveel addisionele probleme wat by niks anders voorkom nie. Dit mag reeds moeilik wees om fisiese materie te verstaan, maar dié is in die mens se liggaam ook teenwoordig. Die lewe, veral dierelewe, skep groot probleme – maar dit het die mens ook. Ook baie begeertes en vrese kom by dier sowel as mens voor. Maar daar is soveel meer waarop die mens 'n monopolie het.

O ja, die mens is baie klein in vergelyking met baie ander dinge, soos die aardbol en die ander hemelliggame, en selfs sekere diere, veral olifante en walvisse. Hy kan ook nie so goed ruik soos 'n hond en glad nie vlieg soos 'n voël nie, en hoegenaamd nie lig voortbring soos 'n vuurvliegie nie. Maar hy kan die hemelliggame en die diere bestudeer en leer ken, en hulle kan nie die kompliment omkeer nie. Gee hom die agting wat hom toekom. Ek rig my dan voorts tot diegene wat aamstem dat die mens die groot raaisel van die waarneembare werklikheid is.

Maar wat is dit wat die mens uniek maak? Wat is daar in sy gedrag, en boweal in sy verlangens en strewes en vrese, wat hom van sy medenatuurgenote onderskei? Baie eienskappe is by die mens verder ontwikkel as by enige dier. Hieroor kan seker boekdele geskrywe word, waarvan sommige hulle daarop toelê om te weerspreek wat die ander beweer. Neem nou maar die voorbeeld van die gewete. Iemand mag probeer bewys dat slegs die mens 'n gewete het. Ons ken daardie stemmetjie wat ons aanspreek as ons reken dat ons die morele wet oortree het. Maar 'n hond kan ook soms ongemak en vrees toon as hy weet dat hy doen wat sy baas hom verbied het. Is dit nie die beginstadium van die gewete nie? So is daar ook ander voorstelle om die mens bo ander lewende wesens te verhoog wat probleme oplewer.

Verskeie skrywers wend pogings aan om hul vinger op die uniekheid van die mens te lê. Hier is 'n paar daarvan: Die mens is die enigste soogdier wat pal op twee bene loop. Sy taal is iets anders as diergeluide. Hy maak sketse of beelde van dinge wat hy sien. Ook vir ander simbole is hy baie lief, byvoorbeeld die figuurlike gebruik van sy taal. Die mens is die enigste dier wat lag en die enigste wat weet dat hy eendag moet sterf. En so meer.

'n Besonder vrugbare bydrae is die waarneming dat die mens gewillig is om onmiddellike bevrediging op te offer ter wille van 'n latere beloning, terwyl die dier sy bevrediging onmiddellik wil hê. Dit hang natuurlik saam met die mens se verstandelike vermoë wat so ver bo dié van enige dier uitstyg. As hy honger is, en hy het net 'n beperkte voorraad kos, sal hy nie alles dadelik eet nie, terwyl die dier dit waarskynlik sal doen. Veral as die kos van so 'n aard is dat dit meer kos kan voortbring, soos koring wat gesaai kan word of skape of hoenders wat kan vermeerder, werk hy versigtig daarmee en offer hy onmiddellike bevrediging op terwille van die toekoms.

Die keuse is egter ook dikwels tussen twee gelyktydige vorms van bevrediging En gewoonlik gaan dit daarom dat die mens 'n bevrediging waaraan hy gewoonlik baie waarde heg, opoffer terwille van een wat verbaas, en waarvan dit ook nie onmiddellik duidelik mag wees watter aantrekkingskrag dit vir hom het nie.


Die toets van opofferings

Die mens gedra hom dikwels soos enige dier. Maar dan voer hy ook afwykende handelinge uit wat verskil van die dier se handelinge sowel as sy eie gewone optrede. Gewoonlik is so 'n afwyking 'n opoffering van die weg van die minste moeite.

Een voorbeeld hiervan is die gebruik van simboliek. Hierdie verskynsel is reeds voorgestel as die onderskeidende kenmerk van die mens. In die leër en die wetenskap en die handel word alles so kort en duidelik as moontlik genoem om misverstand en onnodige verwarring te vermy. Maar dit is nie goed genoeg vir 'n digter of 'n sanger of 'n ander gebruiker van beeld-spraak nie. 'n Meisie wie se ouers baie goed daarvoor gesorg het dat sy 'n naam kry, is nou skielik 'n roos. Na die onderwyser wat alreeds by almal bekend is as Mnr. Botha, word nou verwys as “Sprinkaan.” 'n Land het 'n naam wat aan almal bekend is, en diegene wat dit wil vereer kan dit mondelings doen, selfs in sang. Maar nou word 'n stuk bont materiaal, wat in baie gevalle glad nie beskrywe kan word as mooi nie, teen 'n paal opgehys, en dit word gesalueer en ontvang lofgesange en word op verowerde gebied (en selfs die maan) geplant. En die land se vyande verbrand dit met entoesiasme. En hulle sê nie: “Ons het dit aan 'n stuk lap gedoen,” nie. Dit is 'n simbool van 'n land. 'n Span jong mans speel teen 'n span van 'n ander land, en as hulle wen is daar 'n gejuig en gejubel, en selfs die stokou grysaards sê: “Ons het gewen!” Selfs hulle voel dat die span hulle verteenwoordig. Daar is soveel vorms van simboliek, dat dit skaars moontlik is om meer te doen as om aan te dui dat ons hier met twee komponente te doen het. Daar is eerstens 'n mens of 'n land of 'n saak of wat ook al wat aangedui moet word, en wat bekend staan as die “referent.” Tweedens is daar iets anders wat in 'n sekere verband daarmee staan. In plaas van dan eenvoudig die gewone woord vir eersgenoemde te gebruik, word na die tweede verwys. En hierdie tweede komponent staan bekend as 'n simbool. Dit is somtyds 'n woord, maar dit neem ook vele ander vorms aan, en word dikwels met diep emosie gebruik. In spreekwoorde en idiome word oorvloediglik gebruik gemaak van simboliek. Sedert die vroegste tye en waarskynlik in elke land is daar ook 'n soort simboolspeletjie in die vorm van raaisels. En dink maar aan al die verhaaltjies, byvoorbeeld Aesopos se fabel van die jakkals en die kraai. Hy het dit beslis nie vertel omdat hy in die soölogie belang gestel het nie. In 2 Konings 14 verskyn 'n vroeë voorbeeld van een koning wat van 'n seder en 'n distel praat om 'n ander een te waarsku om nie so rammetjie-uitnek te wees nie. Maar om simbole te gebruik verg meer inspanning as om reguit te sê wat jy dink. Gemak word opgeoffer.

Van verhale gepraat: selfs ouers wat baie gesteld is op die waarheid, vertel reeds vroeg vir hul kinders storietjies waarvan nie een woord waar is nie, en die groter kinders besef dit alte goed, maar geniet nogtans wat hulle hoor, en vra vir meer. En die ouers kyk self na sepies waarvan hul weet dat die spelers wat oënskynlik mekaar wil uitroei, ná die opname waarskynlik vreedsaam saam koffie gedrink het. Vanwaar hierdie gehegtheid aan onwaarhede?

Aansienlike navorsing is gedoen op die gebied van volksverhale. Navorsers (insluitende beroemde sielkundiges) het besef dat, al sou die verhale min bekend maak van die geskiedenis, daar iets uit hulle te leer is omtrent die mense wat hulle vertel het. Ek noem graag twee navorsers, 'n Duitser en 'n Engelsman, wat hulle redelik eenders oor een soort verhaal uitgespreek het.

Wilhelm Laiblin vestig die aandag op sekere verhale van die broers Grimm waarin 'n moeisame taak uitgevoer moet word, en hy sê hulle het te doen met “die ontrafeling, rangskikking, bemeestering en beteueling van die natuurlike lewenskrag, met die skepping van orde in die diep gebiede van die siel (Tiefenseele), en sodoende uiteindelik met die beteueling en bemeestering van drange.” En dit, beweer hy, staan in verband met “die integrasie van die siel in sy diepte.” (Laiblin, bls.367) Wie ook al chaos in die diepte van sy eie siel ervaar, sal 'n verhaal waardeer waarin die held orde uit die wanorde geskep het, hetsy deur briesende honde te kalmeer of op 'n ander manier. Laiblin se verklaring dat die skat op een of ander manier verband hou met integrasie in die dieptes van die siel, vind weerklank by Joseph Campbell in sy “The Hero with a Thousand Faces.”


'n Held waag dit om van die alledaagse wêreld te vertrek na 'n gebied van bonatuurlike wondere: daar word fabelagtige kragte ontmoet en 'n beslissende oorwinning word behaal: die held kom terug van die geheimnisvolle ondervinding met die mag om weldade aan sy medemense te bewys. (bls. 30)


Campbell laat ook iets val wat Laiblin se bydrae bevestig:

Die groot daad van die uitnemende held is om die sleutel van hierdie eenheid in verskeidenheid te verkry en dit dan bekend te maak.



“Die integrasie van die siel in sy diepte,” sê Laiblin. “Eenheid in verskeidenheid,” sê Campbell. Hulle stem ook saam daaroor dat die held uit hierdie wêreld na 'n ander een gaan om goeie dinge te gaan haal, en dat dit in werklikheid 'n reis na die diepte van sy eie siel is. Alhoewel hul gevolgtrekkings spesifiek van toepassing is op sekere verhale, kan gevra word of hulle nie op iets afgekom het wat meer algemeen geld nie. Druk ander verhale nie moontlik op 'n ander manier die integrasie van verskeidenheid uit nie? En is dit slegs verhale wat dit doen?

Neem die geval van 'n besige man wat gedurig op soek is na arbeidbesparende apparate. Dit is sy gewone houding. Sy motor het outomatiese ratte, en besluit self wanneer om die deure te sluit en die veërs aan te skakel en wanneer om piepgeluide te maak wat sy eienaar waarsku teen wat hy self nie altyd weet wat dit is nie. Hy stap 'n winkel binne waar hy pragtige afdrukke van skilderye en fotos te koop kan kry, en wat op so 'n manier uitgestal is, dat hy versoek word om een daarvan op die maklikse en eenvoudigste manier in die hande te kry, naamlik deur dit eenvoudig te koop en saam te neem. Hy kyk egter verby hulle en vra: “Waar is julle dose met chaos en oorbodige beslommernis?” As hy nie mooi verstaan word nie, verduidelik hy dat hy op soek is na 'n legraaisel. Of hy slaan selfs oor na Engels en praat van 'n “jigsaw puzzle.” Dié was ook oorspronklik 'n prent. Toe is die moeite gedoen om dit met 'n masjien in honderde stukkies op te snipper en in 'n chaotiese toestand in 'n doos te gooi, sodat die koper dit weer moeisaam aanmekaar kan sit gedurende die tyd wat hy met sy moderne apparate bespaar. Die heel laaste ding wat hy nou soek, is 'n apparaat wat die taak outomaties vir hom kan verrig. Die taak is immers presies wat hy soek. Hierdie man wyk af van sy gewone gedrag en offer sy geliefde gemak op. Hy koop chaos om 'n skynbaar onnodige taak te bekom. En die taak waarvoor betaal word bestaan daarin om orde uit die wanorde te skep.

Die verlange na 'n taak kom nie slegs by mans voor nie. Vance Packard vertel in sy boek, “The Hidden Persuaders,” van 'n firma wat 'n kitskoekmengsel probeer bemark het met die aanwysing: “Voeg slegs water by, roer en bak.” Al die nodige bestanddele was reeds daarin. Kan daar 'n makliker manier wees om 'n koek te bak? Die verkope was egter uiters teleurstellend. Toe bemark hulle dieselfde mengsel, maar sonder eierpoeier, terwyl die aanwysing lui: “Voeg water en eiers by, roer en bak.” En die verkope het gestyg. Packard verduidelik dat 'n vrou wat 'n koek bak, graag wil voel dit is haar eie koek, en hierdie gevoel wil nie tevoorskyn tree tensy sy self iets bydra nie. Weereens 'n afwyking van die gewone reël dat mense hou van dinge wat arbeid bespaar.

Voorbeelde van menslike gedrag wat verskil van dié van die dier, sowel as van skynbaar afwykende gedrag, kan vermenigvuldig word. Maar eerder as om dit te doen, kan ons vra wat die rede vir hierdie vorms van gedrag is. Wat wil die mens daardeur bereik om nie net graadverskille van die dier te toon nie, maar ook soortverskille, en deur sy gewone gerieflike gedrag op te offer ter wille van een wat oënskynlik moeiliker is? Watter menslike strewes word verraai deur gedrag wat die weg van die minste weerstand opoffer? Sonder om aanspraak te maak op volledigheid, en bewus van die moontlikheid dat ander die klem elders mag lê, wil ek voorstel dat aandag gegee word aan 'n aantal besondere eienskappe van die mens wat gesien kan word as drange wat hom aanspoor om sekere skynbaar afwykende dinge te doen.


Die soeker na nuwe dinge

As 'n Hebreeuse koning van duisende jare gelede, die inwoners van 'n Griekse stad 'n paar eeue later, en 'n Russiese filosoof van die vorige eeu dieselfde saak sterk beklem-

toon, is hulle ongetwyfeld op die spoor van iets waarna almal met vrug kan luister.

Die koning, wat alombekend was vir sy wysheid, het gesug: “Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.” (Pred.1:9) (Komende van 'n man met 'n duisend vrouens, lewer dit stof tot nadenke.)

Volgens die skrywer Lukas het die inwoners van Athene “vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie.” (Hand. 17:21)

Die filosoof, Nicolas Berdyaev, van wie ons nog meer sal hoor, vind nuutheid in “elke sterk, pakkende ondervinding.” (B&E, bls.160) “Ware nuutheid wat nie slegs 'n herrangskikking van dele is nie, kom altyd, as 't ware van 'n ander wêreld, van 'n ander skema van dinge,” het hy verklaar.(B&E,blss. 167,168) “By elke oomblik van 'n mens se lewe is dit nodig om 'n einde te maak aan die ou wêreld en 'n nuwe een te begin.”(B&E, bls.254)

Met nuutheid is die diere nie gepla nie. Trekvoëls wat tweemaal per jaar duisende kilometer aflê, keer na hul ou neste terug, terwyl reislustige mense hulle kan beny vir hul vermoë om nuwe lande te gaan besoek. En vinke bou hul neste net soos hul voorgeslagte, terwyl dit tog vir hulle maklik moet wees om iets nuuts voort te bring. Die taal wat ons praat het baie nuwe woorde bygekry sedert my kinderdae, maar die duiwe koer nog net soos altyd en die honde blaf ook nog op die ou manier.

Maar die mens soek na nuwe dinge. En daar is veral drie maniere waarop hy dit probeer verkry.


Deur ontdekking.

Die mens is 'n soeker, en hy verheug hom grootliks as hy iets gevind het wat vroeër nie bekend was nie. Dit geld nie slegs vir ontdekkingsreisigers wat 'n nuwe land of 'n nuwe weg na 'n bekende land ontdek nie, maar ook vir wetenskaplikes wat iets nuuts ontdek wat by hul bestaande kennis gevoeg kan word, en trouens vir enigiemand wat iets raaksien wat ander nog nooit opgemerk het nie.


Deur te oortref.

Nuutheid kan ook verkry word deur die bestaande te oortref. Dit blyk dat die mens 'n ongeneeslike uitstrekker of oortreffer of transendeerder is. Hiervoor is hy gewillig om opofferinge te maak wat byna die verstand te bowe gaan. En dit neem talle vorms aan, want op baie gebiede span hy hom in om bestaande grense oor te steek, nie net verby wat hy self voorheen bereik het nie, maar verkieslik ook verder as wat enigiemand anders nog gevorder het. Dit mag daarin bestaan om vinniger te hardloop of verder of hoër te spring, of meer Weense worsies binne vyf minute te eet, of selfs om 'n moeilike taak op 'n jonger of ouer ouderdom te volbring, as enige vorige kandidaat vir die eer. Hiervan is die “Guinness Book of Records” getuie. Die deelnemers is oortuig dat daar nie slegs vir Columbus en die ander seevaarders 'n nuwe wêreld anderkant die reeds bereikte lê en wag het nie. Maar solank hy genoeg kos en water kan kry waar hy is, is die dier tevrede met die prestasies van sy ouers.


Deur integrasie.

By die see is 'n klein seuntjie en sy hondjie altwee besig om in die sand te grawe. Maar watter een gaan daarna die uitgegraafde materiaal in 'n primitiewe klein kasteeltjie probeer saamvoeg? 'n Beproefde manier om nuwe dinge te vind is deur samestelling of integrasie of konsolidering van verskil-lende dele in 'n nuwe geheel. Dit word op talle maniere gedoen. Dit verduidelik die voortdurende belangstelling in legraaisels, waar mense betaal vir die beslommernis om 'n prent aanmekaar te sit wat hulle veel makliker kon gekry het as dit nie eers in honderde stukkies opgesny is nie. Kinders het geen speelgoed liewer as dié waarin dele saamgestel moet word nie, soos Meccano- of Tinkertoystelle of Montini-blokkies. Wanneer hulle opgroei, mag hulle musiek verkies, of kuns, of literatuur en filosofie, wat almal voorbeelde is van die kunstige komposisie en konsolidering van dele. Die dogters mag huisvrouens word wat nooit moeg word om nuwe resepte uit te toets waarin bestanddele op 'n unieke manier saamgevoeg word nie. (Dit verklaar ook die geval van die kitskoekmengsel.) In verband met die literatuur kan ek my nie daarvan weerhou om aan te haal wat Percy Lubbock van die groot Russiese romanskrywer, Leo Tolstoi, gesê het nie.


Sy hand is in die toneel gedompel, en hy haal groot fragmente daaruit.... En op hierdie trofeë gaan hy te werk met die volle krag van sy verbeelding ... hy maak hulle oor in vorms wat nooit in die lewe aangetref word nie ... En dan rig Tolstoi die behendigheid van sy kuns op al hierdie nuwe lewe; hy versprei hulle in 'n enkele, omvattende ontwerp ... (bls. 18)


Om in 'n enkele omvattende ontwerp te versprei is om elemente wat voorheen onverbonde was, te integreer of te konsolideer. Die romanskrywer doen dus in wese dieselfde as die ou storievertellers van wie Laiblin en Campbell vertel het dat hulle na 'n diep eenheid soek. Dit is volgens Will Durant ook die begeerte van die filosowe wat “nie honger en dors (soos hulle dink) na die waarheid nie, maar na eenheid.” (bls.440) Hulle was immers besig om stelsels te ontwerp waarin elke ding 'n plek kan kry. Selfs waar uitstaande individuele filosowe ontbreek, is daar 'n kultuur waarin strewes gekonsolideer word. Leo Frobenius, die pionier-navorser van die kulture van Afrika, beskryf kultuur as 'n aktiwiteit waarin dinge saam gesien word (Zusammenschau), en hy sê kulturele filosofie moet gelei word deur 'n poging om dinge as 'n eenheid te ondervind (Einheitserfühlung).(bls.37) Weereens inte-grasie, in watter vasteland die kultuur ook al aangetref word. En wat van simboliek in die algemeen? In hierdie geval word een persoon of versameling mense, of 'n belangrike saak of wat ook al, wat bekend staan as die “referent,” aangedui met verwysing na 'n ander wat sekere ooreenkomste daarmee vertoon en gebruik word as simbool. Maar deur dit te doen, word 'n band gelê tussen so 'n referent en sy simbool. Die woord “simbool” is dan ook afgelei van die Griekse woord “sumballein,” wat beteken “om saam te gooi.” En elke keer wanneer 'n referent en 'n simbool “saamgegooi” word, word 'n bydrae gelewer tot die gevoel dat die werklikheid 'n eenheid vorm.

Die beswaar mag ingebring word dat daar ook diere is wat baie dele integreer in 'n geheel. Wat van die voëls wat sulke verbasende neste bou, en die bewers, en boweal die bye? Vertoon hulle nie dieselfde verlange as die mens om te konsolideer nie? Oppervlakkig mag daar 'n ooreenkoms wees, maar daar is ook 'n wesenlike verskil tussen die integrasie van die mens en die dier. Diere integreer nie omdat die integrerende handeling in sigself vir hulle genot verskaf nie: hulle doen dit vir praktiese doeleindes, en hulle bou niks wat hulle nie na die tyd kan gebruik nie. En hulle doen dit nie op 'n nuwe manier wat verskil van dié van hul voorvaders nie. Dit is instinktiewe gedrag, en nie die gevolg van beplanning met die oog op 'n nuwe einddoel nie. Verder is dit interessant om daarop te let dat juis daardie primate wat voorgehou word as die naaste familielede van die mens, skaars 'n besondere neiging vertoon om te integreer. Behalwe om 'n paar takke te rangskik om hulle teen die wind te beskerm, bou hulle nie eens 'n eenvoudige pondokkie nie. Die integrasiedrang is die eksklusiewe eienskap van die mens.


'n Noot uit die verre noorde

Ons kan skaars beter doen as om vir Nicolas Berdyaev, wie se uitspraak oor nuutheid reeds genoem is, te vra wat hy van die integrasiedrang dink. Hy was 'n man wat nie alleen verstandelik geredeneer het oor sy plek op aarde nie, maar dit ook as 't ware met sy hele wese uitgetoets het. Hy skrywe dat hy gedurende sy lewe nooit oomblikke van vreugde ervaar het nie. Trouens, hy het hulle gevrees, moontlik omdat hy iewers 'n vangplek vermoed het. En in oomblikke van depressie, sê hy, is daar net een ding wat vir hom verligting gebring het, en dit is skeppende arbeid. “Daar is niks meer angswekkend en hopeloos as die vervelige en vermoeiende leegheid van die lewe nie,” verklaar hy, “en daar is geen uitkoms uit hierdie verveling nie, behalwe die skeppingsdaad.” (D&R bls. 40) Vir hom het integrerende skepping daarin bestaan om te skrywe. “Ek het 'n filosoof en 'n dienskneg van die 'teorie' geword, sodat ek hierdie onuitspreeklike angs kon afsweer en verligting daarvan verkry ... In die gebied van skepping verkry alle dinge diepte, betekenis, karakter en belangrikheid, in teenstelling tot die vlakheid, onbelangrikheid, toevalligheid en smaakloos-heid wat eie is aan die gebied van uitwendige feite.” (D&R bls.44) Dit was nie die voltooide boeke wat vir hom bevrediging verskaf het nie, maar die skeppingsdaad self. (D&R bls. 100) Skepping is vir hom die reaksie van die mens tot God. (D&R bls. 207) Diegene wat skeppende ekstase ondervind het, is so-te-sê in die greep van 'n hoër mag. (B&E, bls. 177) Skeppingsmag getuig van die moontlikheid dat die mens bevry kan word van die kettings van vernedering wat die laste van die wêreld aan hom opdring, en dit spreek van bevryding en transformasie. (B&E, bls. 179) 'n Nuwe element word ingevoer wat nie vroeër teenwoordig was nie. (B&E, bls. 171) Daar is 'n element van die bonatuurlike. (B&E, bls. 161) Dit is meer as 'n herrangskikking van dele wat tevore teenwoordig was. (B&E, blss. 167, 168) Skeppingskrag is 'n einde van hierdie wêreld en die begin van 'n nuwe. (B&E, bls. 254) Deurgaans beklemtoon hy die belang-rikheid van nuutheid in die skeppings-daad. “In die skeppende daad van die mens word 'n nuwe element voorgestel, iets wat nie tevore daar was nie.” (B&E, bls. 171) En dit is geen nietige ondervinding nie. “In skeppende nuutheid is daar altyd 'n element van die wonderwerk,” beweer hy. (B&E, bls.161) “Skeppende krag ... is 'n einde van hierdie wêreld en 'n begin van die nuwe wêreld.”(B&E, bls.174)

Nie almal van ons sal so liries raak oor die skeppingsdaad, die voortbring van nuwe dinge, nie, maar daar kan geen twyfel bestaan dat dit vir alle mense 'n hoogtepunt verteenwoordig nie. Ek dink aan 'n vriendin wat baie neerslagtig was na die dood van haar man. Maar een aand het sy begin om 'n trui te brei. Dit het haar aandag in beslag geneem, en dit was diep in die nag toe sy ophou. En toe het sy besef dat hier nou iets was wat sy baie geniet het. Ek neem aan dat dit 'n nuwe patroon was wat sy nog nie vantevore gebrei het nie. Werkers in 'n fabriek wat dieselfde patroon oor-en-oor met 'n masjien brei, sal nie dieselfde vervulling daaruit put nie.

Dit is nie slegs die ondervinding van integrasie en van uitreiking wat help om die mens uit sy ellende te lig nie, maar selfs die vooruitsig daarop kan hierdie uitwerking hê. Viktor Frankl was ongetwyfeld een van die baie min wat die onbeskryflikhede van die Nazi interneringskampe eerstehands ondervind het en wat nog na die tyd daaroor kon skrywe. In hierdie uiterste omstandighede het hy gevind dat die enigste hoop vir die mens daarin bestaan om te glo dat sy lewe nog betekenis vir die toekoms het. “Dit is 'n eienskap van die mens dat hy slegs kan lewe deur in die toekoms te kyk. .... En dit is sy redding in die moeilikste oomblikke van sy bestaan, alhoewel hy somtyds sy gedagte tot die taak moet dwing.” (blss.72,73) Die kern van sy gedagte is dan dat die mens bo alles betekenis soek. Solank iemand nog geglo het dat daar 'n waardevolle taak is wat op hom wag, het dit hom onderskraag in die ondraaglike werklikheid van die dag. En in baie gevalle kan 'n taak ontleed word as 'n proses van konsolidasie waardeur orde geskep word.

'n Skrywer wat ondersoek ingestel het na die mens se ononderdrukbare drang om grense verby te steek, sowel as die integrasiedrang, is die sosioloog Peter L. Berger. Hy het gesoek na “tekens van transendensie,” waarmee hy verwys het na “verskynsels wat binne die gebied van die 'natuurlike' werklikheid gevind word, maar wat oënskynlik verby daardie werklikheid verwys.” Hy noem 'n paar sulke tekens. Een daarvan is humor, en ander is die drang om te speel, die absolute verdoeming van sekere dade, en die belewing van ekstase.


Die menslike bestaan is altyd gerig op die toekoms, beide in sy bewussyn en in sy aktiwiteit. Die mens bestaan deur gedurig sy bestaan in die toekoms uit te brei. Anders gestel, die mens verwerklik homself in projekte. (bls.80)


Volgens Berger is die mens se mees fundamentele vrees die vrees vir chaos. (bls.71) Dit herinner aan Laiblin se bevinding dat sekere volksverhale uitdrukking gee aan die behoefte aan “integrasie van die siel in sy diepte,” en Campbell se verwysing na “eenheid in verskeidenheid.” Chaos is immers 'n toestand waar dinge nie geïntegreer is nie en waar eenheid in die verskeidenheid ontbreek. Dit bring ons selfs weer by die legraaisel uit. Wat kan meer chaoties wees as die toestand waarin die stukkies van 'n legraaisel hulle bevind wanneer hulle gekoop word? Maar juis daarom bied hulle 'n gleentheid tot ordeskepping.

Berger sien humor byvoorbeeld as 'n instrument waarmee die “rotsvaste vereistes” (“rocklike necessities”) van hierdie wêreld gerelativeer word deur 'n alternatiewe werklikheid te skep. Dit is dan 'n vorm van tansendensie. Deur vir iets te lag, verhef jy jouself as't ware daarbo.

Ek sou ook 'n ander aspek van humor uitlig, en hier is dit veral verhelderend om na te gaan waarvoor klein kindertjies lag. Ek het eenmaal gelees dat een van die eerste dinge wat hulle laat lag, is om 'n gewone voorwerp op 'n ongewone plek te vind. Persoonlik het dit my opgeval hoe 'n klein seuntjie lag toe iemand wat hom wou vermaak, vir hom deur 'n servetring loer. Hy het 'n servetring goed geken, en hy sou nie lag as 'n servet daarin gesteek word nie. Hy het ook die menslike oog goed geken, en hy sou dit nie snaaks vind om dit agter 'n bril te sien nie. Maar 'n oog agter 'n servetring! Dit is soos wanneer iemand blaf soos 'n hond of miaau soos 'n kat om hom te vermaak. So 'n onvanpastheid is die eerste stap na chaos. En hy lag as teken dat hy dit nie normaal vind nie. En hy vind die oorwinning aangenaam en vra vir meer.

Of is daar moontlik 'n ander verklaring vir sy genot? Voel hy nie op een of ander manier dat elemente wat ver van mekaar verwyder is, nou nader gebring word tot 'n eenheid nie? En is dit nie 'n voorbeeld van ordeskepping wat hy aanskou nie? Maar hoe vra 'n mens nou so 'n klein mannetjie?

Samevattend dan: die mens is die enigste dier wat die diepgesetelde drang openbaar om nuwe dinge te soek deur hulle eerstens te ontdek, tweedens by die bestaande verby te steek en derdens bestaande dele in nuwe eenhede saam te voeg. Dit is dan 'n onderskeidende kenmerk van die grootste raaisel van die waarneembare werklikheid, naamlik die mens.

En dit is tussen mense dat die Getuie sy verskyning gemaak het. Maar dit kon nie sonder meer geskied nie.


Die wegbereiding

Toe die Getuie in menslike vorm op aarde verskyn het, was voorbereiding nodig. Eers moes daar 'n wegbereider voor Hom uitgaan wat “die paaie vir Hom moes gelyk maak, die klowe moes opvul, elke berg en bult moes plat maak, en die krom paaie moes reguit maak.” (vgl. Luk. 3:4,5)In praktiese terme het dit beteken dat sy luisteraars hul sondes moes belei, dat hulle eerlik en ook mededeelsaam met hulle medemense moes omgaan, en dat hulle nie hul hoop op 'n vals fondament moes plaas nie. “Moenie by julleself begin sê: 'Ons het Abraham as voorvader' nie,” het die wegbereider hulle gemaan. (Luk.3:8)

Maar as daar destyds hindernisse op die pad van die Getuie was wat eers weggeruim moes word, kan gevra word of dit nie ook vandag die geval is nie. En 'n verdere vraag is of die struikelblokke presies dieselfde is as destyds, en of hulle moontlik intussen 'n heel ander vorm aangeneem het.

Dit is nie baie waarskynlik dat iemand vandag sy afkoms van Abraham of enigiemand anders as verskoning sou gebruik om die Getuie se boodskap te verwerp nie. Aan die ander kant is daar wel sekere eietydse struikelblokke. Om vas te stel wat dit is, is dit nodig om te vra wat vandag die mees algemene besware is wat teen die boodskap van die Getuie ingebring word.

En ongetwyfeld is een daarvan dat daar van die Getuie dinge gesê is, en dat Hy self dinge van Homself gesê het, wat onmoontlik is. Daar word byvoorbeeld vertel dat Hy wonderwerke gedoen het, soos om uit 'n maagd gebore te word, siekes te genees, dooies op te wek, 'n storm stil te maak, brood en vis te vermeerder, water in wyn te verander en selfs uit die dood op te staan. Maar dit is nie al nie. Een van die eerste dinge wat Johannes van Hom sê, is: “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.” (1:3) En dit is veral op hierdie laaste punt dat die aanvalle teen Hom geloods word.

Dit gaan natuurlik teen elke grein om te aanvaar dat alles deur iemand geskep kon word wat self in lewende lywe tussen ons beweeg. Die enigste manier om sy aardse bestaan te versoen met sy rol as Skepper, is om te aanvaar dat Hy ook op 'n wyse bestaan het wat vir ons onvatbaar is, en dat Hy die aardse liggaam aangeneem het. Die maklikste manier om van die probleem ontslae te raak, is egter om eenvoudig te ontken dat sy aanspraak waar is. En om te bewys dat dit onwaar is, is die mees bevredigende strategie om 'n alternatief voor te stel wat bewys dat 'n Skepper onnodig was. As dit nie moontlik is om so iets vir die totale werklikheid te bewys nie, is die tweede beste ongetwyfeld om dit vir een deel te doen en, as dit slaag, die vertroue te koester dat die oplossing van die ander dele ook sal volg.

En dit lei dan onafwendbaar na een spesifieke individu, naamlik Charles Darwin. Hy het die taak aangedurf om vir een deel van die werklikheid, naamlik vir die biologiese gebied of die biosfeer, 'n ontstaan deur bekende prosesse voor te stel. Daar is moontlik geen bewys dat hy doelbewus probeer het om die Getuie se aansprake te ondermyn nie; maar deur 'n alternatiewe verklaring te bied vir die ontstaan van die biologiese verskeidenheid wat vandag waargeneem word, en sodoende die Getuie op daardie gebied as oorbodig voor te hou, het hy ongetwyfeld sy volgelinge aangemoedig om te aanvaar dat ook die res van die werklikheid verklaar kan word met verwysing na prosesse wat ons vandag gereeld rondom ons sien afspeel, sonder dat 'n persoonlike Beplanner en Skepper 'n hand daarin gehad het. Darwin het probeer aantoon wat gedoen kan word ten opsigte van een gebied van die werklikheid, en daarmee diegene wat ander dele daarvan op 'n soortgelyke manier probeer verklaar, die vrymoedigheid gegee om te sê: “Wag net so 'n bietjie, ons werk daaraan.” So is Darwin se teorie in ons dae vir talle mense 'n struikelblok op die pad na die Getuie.

O ja, daar was ander wat hulle meer doelbewus en meer direk teen Hom en sy boodskap uitgespreek het. Daar was by-voorbeeld Nietzsche wat prontuit gesê het: “God is dood.” Maar die blatantes het dikwels minder invloed as die subtieles. En waar daar ook al vandag 'n debat tussen geloof en ongeloof voorkom, daar duik Darwin op. Aangesien sommige reken hy verdien 'n plek onder die groot denkers en bevryders van die geskiedenis, en ander reken hy verdien om met alle mag en toewyding verwerp te word, verdien hy beslis 'n hele hoofstuk in hierdie geskrif.


3. DARWIN SE BYDRAE


As iemand sou vra watter kwalifikasie ek het om Darwin hier in te sluit, reken ek ek sou sê daar is minstens een, naamlik dat ek nie 'n wetenskaplike is nie. Gevolglik kan ek dan ook niks skrywe wat ander leke nie kan verstaan nie. Die lewe is nou eenvoudig so, dat niemand op alle gebiede 'n gesaghebbende kan wees nie. Tog is elkeen verplig om op verskillende gebiede keuses te maak, en dikwels doen hy dit suksesvol op 'n gebied waarop hy 'n blote leek is. Gewoonlik ken hy darem 'n sekere gedeelte van so 'n gebied. En as 'n spesialis op daardie gebied vir hom wil raad gee, en hy maak onoortuigende bewerings oor die bekende gedeelte, moet hy hom nie verwonder as sy inligting oor die gespesialiseerde gedeelte ook onder verdenking geplaas word nie. Dit geld vir die ekonomie, die gesondheid, die opvoeding van kinders, en talle ander gebiede waarop ons almal verplig is om keuses te maak en uit te voer, selfs al is ons net leke op daardie betrokke gebied.

Ook op die gebied van die biologie geld dit. Die gemiddelde leek, wat heel waarskynlik nie eens 'n mikroskoop besit nie, talle lewende organismes nog nooit gesien het nie, en nog nooit 'n fossiel gehanteer het nie, kan hom oor baie sake glad nie uitspreek nie. Maar hy weet darem ook nie heeltemal niks van plante en diere nie. Trouens, hy mag nogal heelwat weet van die bewegings en gedrag van laasgenoemde.

En as dit nou by Darwin kom, tref dit so, dat die hart van sy teorie berus op daardie deel van die biologie wat nie uitsluitlik deur kenners verstaan word nie, naamlik die interaksie van diere en plante met hul omgewing. Dit sluit die invloede in wat die omgewing op hulle uitoefen, sowel as hulle hantering daarvan.

Die gedagte van evolusie is duisende jare ouer as Darwin, en het selfs al by die ou Grieke voorgekom, byvoorbeeld by die filosoof Anaximander. Ook nader aan sy eie leeftyd was daar evolusioniste, insluitende sy eie oupa. Verder is daar vandag mense wat aanvaar dat alle lewensvorms deur evolusie ontstaan het, maar wat glo dat dit deur 'n intelligente Ontwerper so bestuur is. En selfs diegene wat nie bereid is om alles aan evolusie toe te skrywe nie, erken nog gewoonlik dat dit wel binne spesies geskied het. Hulle aanvaar nie makro-evolusie nie, maar wel mikro-evolusie. (Van laasgenoemde proses is elke mens 'n bewys, want hy lyk anders as lede van ander rasse.) Maar waarvoor Darwin bekend is, is die meganisme wat hy voorgestel het, naamlik natuurlike seleksie as die uitsluitlike metode. Net soos 'n menslike teler een of ander eienskap by 'n spesie laat toeneem en ontwikkel deur die individuele diere wat nie 'n aanvanklike neiging in die verlangde rigting toon nie, uit die teelproses te elimineer, so, sê hy, tree die natuur ook op, met die verskil dat daar nie aan die begin 'n uiteindelike doelwit bestaan nie. Dit kom daarop neer dat diere een of ander dreigende gevaar moet oorwin om te kan oorlewe, en dat sommige lede van 'n spesie beter toegerus of geskik (“fit”) is om dit te doen as ander. Hierdie diere oorlewe dan, terwyl die minder geskiktes die emmer skop. Daar is ook seksuele seleksie, waar dié individue wat 'n beter kans staan om 'n groot nageslag te lewer, byvoorbeeld deur met hul groter aantreklikheid vir die ander geslag meer maats te bekom, 'n groter invloed uitoefen as die onaansienlikes. Maar selfs al sou dit 'n rol speel, kan dit slegs op 'n klein persentasie organe betrek-king hê, naamlik dié wat direk met voortplanting in verband staan. Die belangrikste faktor wat natuurlike seleksie aandrywe is die vroeë dood van die minder geskiktes op talle gebiede, voordat hulle 'n bydrae kan lewer tot die toekomstige lede van daardie spesie. Vroeë dood verskaf in die meeste gevalle die eliminasie waarsonder natuurlike seleksie nie kan werk nie.

Darwiniste verklaar nie alleen die ontstaan van fisiese eienskappe met hul teorie nie, maar ook dié van instinkte.

Hoewel Darwin in terme van normale variasie gedink het, soos die korter en langer nekke van kameelperde, het dit later aan die lig gekom dat daar ook toevallige mutasies plaasvind. As gevolg van die werking van die gene, kom daar soms skielik 'n nuwe eienskap na vore. Hierdie mutasies is gewoonlik skadelik, maar teoreties kan daar ook voordelige mutasies wees wat dan deur natuurlike seleksie verder ontwikkel. Eintlik bied dit 'n nuttige uitweg vir 'n Darwinis wat voor 'n ontwikkeling te staan kom wat hy nie kan verklaar nie. Hy kan net sê: “Siedaar: die gevolg van 'n mutasie.” Maar dit sou in stryd met die suiwer Darwinisme wees, want Darwin was oortuig dat alle eienskappe alleenlik deur seleksie ontwikkel.

Vir natuurlike seleksie is twee dinge dus nodig, naamlik variasie en eliminasie. Wat bepaal nou hierdie twee aspekte van die evolusieproses?

Wat laat diere varieer? Wat maak dat in dieselfde werpsel sommige hondjies kleiner is as ander, dat hulle kleur effens verskil, en dat hulle ook temperamentverskille toon? Dit bring ons by die werking van die gene en die ander faktore wat mutasies bepaal en waaroor 'n leek soos die huidige skrywer wyslik handel om hom nie uit te spreek nie. Variasie word bepaal in die verborge dieptes waar selfs die deskundiges gevorderde kennis en apparate nodig het om in te kyk.

Heeltemal anders is dit gesteld met die eliminasie-aspek. Eliminasie vind grotendeels plaas in die dier se interaksie met sy omgewing. Dit word aangetref in die voedselverkryging, waar die vinnigste jagters die meeste prooi vang en die vinnigste prooi ontsnap, waar die kameelperde met die langste nekke die droogtes oorlewe, die otters met die grootste webbe tussen die tone die meeste visse kan vang en die verkleurmannetjie wat die beste by die omgewing aanpas die meeste insekte op sy spyskaart het. En op hierdie gebied is die leek nie 'n vreemdeling nie. Alhoewel hy hom nie as 'n deskundige mag uitspreek nie, het hy vrymoedigheid om vrae te vra en in baie gevalle self te beantwoord.

Minstens vyf vrae dui op probleme met Darwin se teorie dat evolusie deur natuurlike seleksie die uitsluitlike proses was wat vir die ontstaan van alle belangrike kenmerke van alle lewende wesens verantwoordelik was.


Probleem 1: Is die dienslewering voldoende?

Darwin het gepraat van opeenvolgende stappies wat elkeen diens lewer in die evolusieproses, en hy het hulle beskryf as “finely graduated.” Met elkeen word 'n versterking toegevoeg tot een of ander eienskap wat individuele diere beter laat oorleef as ander van dieselfde spesie. Prof. Richard Dawkins sê as iemand sukkel om te aanvaar dat die hele evolusieproses uit sulke stappies bestaan het, kan hy sy geloof so 'n hupstootjie gee deur hulle baie klein voor te stel. “Hoe onwaarskynlik 'n grootskaalse verandering ook mag wees, kleiner veranderinkies is minder onwaarskynlik,” verduidelik hy. “En as ons 'n voldoende groot reeks voldoende gegradeerde tussenvorms aanvaar, sal ons in staat wees om enigiets van enigiets anders af te lei, sonder om astronomiese onwaarskynlikhede in te roep.” (Watchmaker, bls.392) Nou hy het ongetwyfeld 'n punt beet, maar daar is ook 'n punt wat hy mis. Die geldige punt is dat dit inderdaad makliker is om jou voor te stel dat 'n klein stappie plaasgevind het as 'n grote. Maar aan die ander kant is dit weer veel moeiliker om te glo dat 'n kleintjie 'n merkwaardige uitwerking sou gehad het. Ek kan my moontlik makliker voorstel dat 'n kameelperd se nek een millimeter per stappie langer geword het as tien sentimeters. Maar aan die ander kant is dit vir my baie moeiliker om te aanvaar dat die bykomende millimeter 'n noemenswaardige en lewensbelangrike verskil sou gemaak het aan die getal verhongerde kameelperde, as die langer toevoeging. Diere gaan nie sommer dood oor enige bogterige klein ongemakkie nie. Die opeenvolgende stappies moet elkeen diens lewer deur 'n aansienlike bedreiging te oorwin wat ernstig genoeg is om die agtergeblewe diere te elimineer. Wat ook al hierdeur verkry is, moet oorerflik wees en uiteindelik na die hele spesie uitbrei. Met ander woorde, hoe kleiner die stappie, hoe makliker om te glo dat dit plaasgevind het, maar hoe moeiliker om te glo dat dit so 'n lewensbelangrike rol gespeel het. Maar as u reken dat dit 'n bietjie vaag is, kan ons voortgaan na duideliker onmoontlikhede.


Probleem 2. Die afwesige versoener.

Ek was eenkeer teenwoordig waar 'n onderwyseres haar klas as 'n koor wou afrig, en sy drie seuns uitgehaal en apart laat staan het. (Om heeltemal openhartig te wees: ek was een van die drie.) Maar die rede was nie dat sy van ons 'n windmaker trio wou maak nie: inteendeel, ons sang was 'n verleentheid vir die koor. Ek het probeer om dit min of meer as 'n grap te beskou, maar een van die ander het aan die huil gegaan. Ek dink ek weet waarom: hy was die een wat eerste in die klas gestaan het, en hierdie kennismaking met die ongeskakelde verspreiding van begaafdhede of fikshede was waarskynlik meer as wat hy kon verduur. Dit beteken eenvoudig dat begaafdhede nie sodanig aan mekaar geskakel is, dat diegene wat een daarvan ontvang, noodwendig ook sekere ander fikshede sal besit nie. Die mees intelligentes is nie noodwendig die beste sangers nie, en die mooistes is nie altyd die sportsterre nie. 'n Student wat briljant is in sielkunde mag sukkel met Grieks. Einstein was disleksies. Met moontlik 'n paar uitsonderinge sal gevind word dat as kandidate vir enige doel aan tien of twintig vereistes moet voldoen, daar niemand sal wees wat die toets slaag nie, omdat elkeen iewers minderwaardig is.

Maar om volgens Darwin in die stryd om oorlewing deur te kom, sou enige individuele dier in baie meer as twintig toetse uitstaande moes wees. In hoeveel? In presies soveel soos daar eienskappe en organe is wat moet evolueer. Want elkeen van die menigte evoluerende eienskappe eis met elke stappie wat dit vorder, die eliminasie van talle wat kortkom. Die probleem vir die Darwinisme sou wees om die belange van die magdom verskillende eienskappe wat elkeen sy eise stel, met mekaar te versoen, sonder dat die een die ander in die wiele ry. Toe Darwin gesê het die sterkstes moet oorlewe en die swakstes uitsterf, het hy ongetwyfeld nie daaraan gedink dat elke sterke ook weer op sekere ander gebiede wat moet evolueer, 'n swakke is nie. En so sal elkeen 'n beurt kry om geëlimineer te word. En wie gesterf het in belang van een eienskap, kan nie weer opstaan om te oorleef in belang van die ontwikkeling van 'n ander een nie. Almal sal langs die pad gestrooi lê. En net so dood sou die Darwinisme wees.

So 'n situasie waarin elke vooruit-gang in die evolusie van een orgaan plaas-vind ten koste van 'n aantal ander organe, kan vergelyk word met 'n gemeenskap waarin besluit word om die algemene welvaart te verhoog deurdat almal mekaar se geld steel. (Of as dit mensvreters is, om almal vet te word deur mekaar op te eet.)


Probleem 3. Ontbrekende vroeë diens.

As ek net een probleem kon noem, reken ek dit sou hierdie een wees.

'n Boer gee klein kalfies en vulletjies en kuikentjies en selfs katjies kos met die oog op die diens wat hulle eendag gaan lewer. Maar kan die natuur ook as 't ware sê: “Gee hierdie nuttelose knoppie of groeiseltjie 'n kans om te evolueer, en dit sal nog eendag 'n nuttige orgaan word”? Ongelukkig nie. Volgens Darwin het die natuur nie 'n beheerder wat in die toekoms sien nie. Elke stappie in die evolusieproses moet tot diens van sy eienaar wees. Van die eerste tot die laaste lewer elkeen diens deur voor die volgende stappie 'n talryke nageslag te help verseker. Hierdie diens is die dryfkrag waarsonder die evolusieproses tot stilstand sou kom. En dit bestaan uit die eliminasie van die ongewensdes, gewoonlik deur die dood. En ongelukkig vir Darwin se teorie is daar talle voorbeelde van stadiums wanneer 'n bykomende stap geen voordeel sou bied nie. Dit is dikwels veral opvallend aan die begin van die vermeende evolusie van 'n bepaalde eienskap.

Dit geld nie vir alle ontwikkelinge nie. 'n Addisionele lengtetjie kon byvoorbeeld vir die kameelperd tot net soveel diens gewees het aan die begin van die verlenging as teen die einde. Maar in talle gevalle moet daar eers 'n kritiese punt bereik word voordat 'n ontwikkeling van enige waarde sou wees. En nou is die vraag wat die evolusieproses tot by daardie kritiese punt gedryf het.

Volgens Prof. Dawkins het die oog ontwikkel uit 'n ligsensitiewe kol. Maar wat sou die eerste kol van hierdie aard sy eienaar baat? Waarom sou die eerste gekolde diere beter oorleef as die ongekoldes? Moontlik sou dit 'n krieweling veroorsaak as lig daarop val, of 'n kielierigheid of 'n jeuking, moontlik selfs 'n ligte pyn. En wat dan? Hoe sou enigiets binne-in die eienaar van die eerste ligsensitiewe kol dit herken as 'n aanduiding van die nabyheid van gevaar of van kos, en weet wat om daaromtrent te doen? As die uitwerking van lig irriterend was, mag dit moontlik daartoe gelei het dat die dier donker plekke verkies het of die kol weggedraai het van die lig. Maar waarom sou daar in die donker plekke meer kos of minder gevare wees, aangesien nòg sy vyande nòg sy prooi ligsensitiewe kolle gehad het om tussen lig en donker te onderskei? Want as die kol nie reeds aan die begin tot handeling kon lei wat 'n onderskeid tussen lewe en dood maak nie, kon dit nie reeds vanaf die begin 'n rol speel in natuurlike seleksie nie. Dit sou nog eers 'n kritiese punt moes bereik wat dit op een of ander manier moontlik gemaak het om vyande of prooi assulks te herken. En wat sou dit daar bring?

Let ook op iets wat diens aan die oog bied deur dit nat te hou, naamlik die ooglid. Die vis het geen ooglid nie. Onder water het hy dit nie nodig nie, en as hy daaruit gehaal word, het hy gewigtiger stof tot nadenke as brandende oogappels. As ons van die vis afstam, moes ons voorouers dus êrens langs die pad die ooglid ontwikkel het, en volgens die Darwinisme moes dit in klein stappies geskied het, met slagoffers langs die pad gestrooi. Maar hoe het die eerste klein stappies in die ontwikkeling 'n lewensbelangrike verskil gemaak? Toe net 10% van die oogappel nog bedek kon word, hoeveel beter was dit as om geen ooglid te hê nie? En toe nog 25% oop was? Met ander woorde, tot watter nut was al die baie stappies buiten die laaste paar wat die oog heeltemal kon sluit? Eers aan die einde sou die kritiese punt van nuttigheid bereik word waar die hele oog nat gehou word. Hoe het die ooglid voor daardie punt geëvolueer?

Die seekoei het die besondere vermoë om sy neusgate en selfs sy ore onder water toe te maak. Maar hoeveel water het hulle uitgehou toe hulle net halfpad of driekwart kon sluit? En as die afsluitingsapparaat toe tot absoluut geen nut was nie, hoe het dit ontstaan, en hoe het dit verder ontwikkel?

Kyk nog 'n slag na die vis, want daar is nog iets wat ons het en hy nie. 'n Vis het geen knie of elmboog of kneukel in sy vin nie. Vir elke gewrig om te kon ontstaan, moes 'n been op 'n sekere punt verdeel. Om te verdeel moes dit eers op daardie plek swakker word, byvoorbeeld deur dunner te word as die res van die been. Maar as dit in klein stappies moes plaasvind, sou die proses geslagte lank geen voordeel bied nie, aangesien die been nog steeds nie kon buig nie. Oor 'n lang tydperk sou elke gewrig niks meer gewees het as 'n swakker wordende plek in die been nie. En watter lewensbelangrike voordeel het 'n swak been bo 'n sterke? En dan moes 'n soort skarnier nog stapsgewys bygevoeg word! Dit laat die kop duisel.

Die olifant kan iets vasvat deur dit tussen die boonste en onderste dele van sy snoet vas te knyp. (Op televisie is vertoon hoe een van hulle selfs 'n verfkwas vasvat en kolle daarmee verf.) Maar hoe het dit die grypende neuspunt verkry? Die boonste en onderste gedeeltes moes die vermoë ontwikkel om na mekaar toe te buig. Maar toe hierdie ontwikkeling begin het, kon hulle nog absoluut niks tussen hulle vasvat nie. 'n Kritiese punt waar hulle iets nuttigs kon vasvat moes eers bereik word voordat natuurlike seleksie kon oorneem. Wat het hulle tot by daardie punt gebring?

Ook die lengte van die slurp bied dieselfde probleem. Dit kon eers na 'n kritiese punt in sy verlenging 'n bydrae lewer. Die slurp moet kan dubbel buig om kos en water in die bek af te lewer. Voordat dit die stadium bereik het waar dit moontlik was, tot watter voordeel was die lengte?

Of dink aan die bekerplant wat insekte vang. As dit ontstaan het uit 'n blaar wat stadigaan in 'n beker verander het, hoeveel insekte sou dit gevang het toe dit nog niks meer as 'n gerolde blaar was nie? Watter diens het dié vroeë stappies gelewer? Sou die vlieë dit nie uitgelag het nie?

Die Venus vlieëvanger werk op 'n ander beginsel. Hy vang sy prooi deur in 'n kits dubbel te vou. Wat kon hy vang toe hy net gedeeltelik en baie stadig kon buig? Nie eens een persent van 'n vlieg nie.

Hierdie probleem is reeds vroeg opgemerk. Reeds in Darwin se tyd het die paleontoloog G.J.Mivart gevra: “Wat sou die nut van die eerste rudimentêre beginstadiums van sulke strukture wees?” (Darwin, bls. 191) Meer onlangs stel Prof.E.C.Olson dit so: “Een soort raaisel wat dikwels studente van evolusie gepla het, hou verband met strukture wat duidelike funksies vervul wanneer hulle eers heeltemal gevorm is, maar wat oënskynlik geen nut het gedurende die formasie en integrasie van hulle dele nie.” In die geval van insekte erken hy byvoorbeeld dat daar haas geen inligting bestaan oor die geskiedenis van hul vermoë om te vlieg nie. Dit wil voorkom asof daar in een of ander voorvaderlike tipe flappe of voue agter die kop ontstaan het, waarvan twee pare dan in vlerke ontwikkel het. “Daar mag vermoed word,” sê hy verder, “dat, toe hulle ontstaan het, hierdie voue 'n ander funksie vervul het, maar wat dit kon gewees het is nog nie eens geraai nie.” (blss. 174, 175) Wat ons wel weet, is dat dit 'n lewensbelangrike rol moes gewees het, want die evolusieproses steur hom nie aan onbenullighede nie. Maar is daar enige ander organisme waarby sulke voue 'n lewensbelangrike rol speel?

Prof. Olson se “ander funksie” lê die vinger op pogings wat soms deur dogmatiese Darwinisme wat aanvaar dat Darwin reg moet wees, aangewend word om problematiese gevalle te verklaar. Hiervolgens kan natuurlike seleksie plaasvind in twee of meer fases, terwyl elke fase 'n ander probleem oplos. Daar word dan byvoorbeeld toegegee dat die olifant se slurp aan die begin van sy verlenging geen bydrae daartoe kon lewer om kos na sy bek te bring nie. Maar, word dan gevra, is dit die enigste doel wat 'n verlengde neus kan dien? Een skrywer noem die moontlikhede dat 'n effens verlengde neus moontlik seksuele aantreklikheid kon verhoog, of dit kon die reuksintuig versterk het (wat die olifant buitendien nie nodig het om sy kos te soek nie), of die volume van die stem verhoog het. Nadat die neus dan 'n sekere lengte bygekry het om hierdie behoefte te vervul, het dit ook begin om die kos nader te bring en verder ontwikkel deur dit al beter te doen.

Die probleem met hierdie oplossing is egter dat dit nie die situasie makliker maak nie, maar eerder nog grootliks bemoeilik. Die oorlewing van geen ander dier in die bosse van Afrika hang van een van hierdie voorlopige funksies van die neus af nie. Hoe sou die toeval gerek moes word as juis die een enkele spesie wat later weens die posisie en vorm van sy bek 'n baie lang neus sou nodig kry om kos aan te bring, ook nog in vroeëre tye 'n behoefte aan 'n meer matige lang neus gehad het om 'n ander funksie te vervul waaraan geen ander dier behoefte gehad het nie.

Ongetwyfeld kan nog talle sulke voorbeelde gevind word van eienskappe wat in hul vroeë stadiums geen diens kon lewer deur oorlewing te bevorder nie. So 'n evolusieproses waarin die dryfkrag aanvanklik ontbreek, sou wees soos 'n elektriese trein wat van Kaapstad na Johannesburg moet loop terwyl daar 'n kragonderbreking tot by Worcester is. Ek dink die Engelse praat van 'n “non-starter”.


Probleem 4. Die afwesige beskermer.

Natuurlike seleksie is by elke stappie daarvan afhanklik dat sekere diere swig voor 'n bedreiging en sodoende geëlimineer word, terwyl ander van dieselfde spesie dit oorwin danksy 'n geringe vordering in die evolusie van een of ander kenmerk of orgaan wat op daardie stadium lewensbelangrik is. Die bedreiging moet die minderwaardige diere uit die weg ruim wat met hul deelname aan die voortplantingsproses die oorlewing van die spesie sou strem.

Maar nou is daar sekere bedreigings wat, as dit in 'n bepaalde geografiese gebied sou voorkom, noodwendig 'n hele aantal spesies sou affekteer wat ewe kwesbaar daarteen is. As daar dan nou beweer word dat 'n besondere eienskap van een spesie aan hierdie bedreiging toegeskrywe moet word, maar dit het duidelik nie ander kwesbare spesies beïnvloed nie, het ons weereens op 'n probleem afgekom.

Nogeens die kameelperd. Selfs as fossiele uitgegrawe sou word van kameelperde met al die neklengtes vanaf die kortste tot wat dit vandag is, en hulle sou ook in die regte volgorde voorkom soos deur Darwin se teorie vereis, sou dit nog nie bewys dat dit uitsluitlik deur natuurlike seleksie geskied het nie. Dink aan 'n vroeë kameelperd omtrent so groot soos 'n ander groterige plantvreter, byvoorbeeld 'n koedoe of 'n eland, met 'n nek en bene soos dié van een van hulle. So moes die oerkameelperd volgens Darwin een tyd daar uitgesien het. Maar tussen hierdie oervorm en die huidige vorm moes daar dan natuurlik 'n massa tussenvorms gewees het wat geleidelik langer geword het namate droogtes die korteres afgemaai het. Hierdie tussenvorms was nog nie lank genoeg om al die droogtes te oorlewe nie, dus moes talle van hulle ook geëlimineer word, terwyl dié wat nóg langer was, kon oorlewe en hulle nageslag nog steeds langer geword het totdat hulle vandag se kameelperd voortgebring het. Maar die tussenvorms was tog reeds baie langer -- en gevolglik baie geskikter om te oorlewe -- as die koedoes en die waterbokke en die sebras en die springbokke en die duikertjies en die dikdikke en al die ander wat glad nie langer geword het nie. Toe sommige kameelperde reeds baie geskikter was as al die ander plantvreters, moes hulle nogtans bokveld toe, terwyl die lede van die minder geskikte spesies blykbaar beskerm was teen die uitwerking van die droogtes. Die feit dat die kleiner spesies nie almal uitgesterf het nie, bewys eenvoudig dat die droogtes wat nodig was om die halflengte kameelperde te elimineer, nooit plaasgevind het nie. Daar was geen bedreiging wat natuurlike seleksie deur eliminasie kon moontlik maak nie. Hierdie onmisbare faktor was eenvoudig afwesig.

'n Situasie waarin lede van een spesie deur 'n ramp afgemaai word terwyl ander wat nog meer kwesbaar is, oorlewe, is soos 'n vuur wat 'n huis se balke en vloere en meubels verteer maar die papiere onbeskadig laat.


Probleem 5. Die afwesige koppelaar.

Dit is iets soos die Engelse “match maker,” maar in die huidige verband het dit nie op huwelike betrekking nie. Akkurate koördinasie of koppeling is op baie gebiede onontbeerlik, byvoorbeeld in die tegnologie. Aanskou die magtige Airbus. Hierdie kolos word finaal in Toulouse aanmekaargesit; maar so suiwer Frans is hy ook nie, want sy onderdele kom van minstens tien fabrieke in vier verskillende lande. En tog pas hulle so noukeurig by mekaar, dat miljoene mense gewillig is om hul lewens aan die voltooide produk toe te vertrou. Veronderstel nou iemand besoek die fabriek, en hy verneem van een van die werkers: “Bon jour, monsieur. Kan u my sê in watter land die plan vir die vliegtuig opgestel is?” Sy informant lyk enigsins uit die veld geslaan. “Die plan? Watter plan? Nee, daar was geen vooraf opgestelde plan nie. In elke fabriek is eenvoudig 'n innerlike drang gevoel om iets te vervaardig, en toe is dit alles hierheen gekarwei, en toe ons dit klaar aanmekaarsit het, voila, daar verskyn 'n reusevliegtuig!” As my Frans beter was, sou ek vir hom sê ek het beter humor in sy land verwag.

En tog sou iets net so verregaande in die natuur nodig gewees het as die Darwinisme korrek was.

Net soos by menslike uitvindings, kom sulke noodsaaklike samewerking van verskillende onderdele ook in die natuur voor. Michael Behe gebruik die term “onverminderbare kompleksiteit” (“irreduc-ible complexity”) vir so 'n geval in die biolo-giese wêreld, wat hy dan vergelyk met iets baie nederiger as 'n reusevliegtuig, naamlik 'n gewone muisvalletjie. Daar is 'n paar onderdele, en as enigeen ontbreek, sal die valletjie geen enkele muis vang nie. Hy noem 'n aantal voorbeelde op die gebied van die mikrobiologie, maar gelukkig is daar ook meer sigbare voorbeelde van dieselfde beginsel in plante en diere, en hulle is geensins minder oortuigend nie.

In elke dier is daar 'n algemene interafhanklikheid van organe, dele van organe en eienskappe. Maar die onontbeerlikheid van samewerking is besonder akuut in die geval waar twee of meer unie-ke organe of eienskappe totaal van mekaar afhanklik is om diens te kan verrig, terwyl hulle, as hulle met Darwin se pad gekom het, tog tot op die stadium waar hulle kon saamwerk, vanweë hul verskillende aard onafhanklik sou moes evolueer.

Kom ons kyk weer na Oom Olifant. (Hy is in elk geval een van die moeilikste diere om mis te kyk.) In die eerste plek het hy 'n grypende neuspunt nodig wat die kos kan beetkry, en tweedens moet die neus lank genoeg wees om dubbel te buig om die bek by te kom. Daar is reeds genoem dat die evolusie van elkeen van hierdie eienskappe op sy eie onmoontlik sou wees weens die afwesigheid van dienslewering aan die begin van sy ontwikkeling. Maar nou kom daar 'n verdere rede om kop te krap: die twee dele is ook totaal van mekaar afhanklik om diens te kan lewer. As enigeen van hulle ontbreek het, sou die ander een net so nutteloos gewees het vir sy taak soos 'n muisvalletjie sonder veer. Wat kan 'n grypende punt aan 'n kort neus, of 'n lang neus wat niks kan gryp nie, die olifant baat? (Trouens, die lang slurp sonder 'n grypende punt sou 'n hindernis wees wat voor die bek hang as die olifant wil wei.) En as die neus so kort was dat dit net voorwerpe kon gryp en weer laat los, sou die olifant nie eintlik veel meer kon doen as om homself te vermaak nie. Gedurende 'n lang vroeë periode van ontwikkeling sou die twee eienskappe, naamlik die lengte en die vermoë om vas te vat, geen verband met mekaar hê nie. Elkeen sou van sy eie aanvanklike neiging moes wegspring en dan deur 'n lang proses van eensame en onafhanklike ontwikkeling gaan voordat hulle kon ontmoet en saamwerk. In die afwesigheid van 'n voorafgaande plan wat alreeds voor die begin van hul evolusie bestaan het, sou daar gedurende die lang periode voordat hulle uiteindelik hul kragte kon saamsnoer, hoegenaamd geen konneksie tussen hierdie twee afsonderlike vermoëns wees nie. Hoe het dit gekom dat hulle in dieselfde spesie ontwikkel het? Die een kon net sowel in die olifant en die ander in die renoster ontstaan het.

Nou van 'n groot kolos na 'n klein kewertjie wat bekend staan as die bombardierkewer. Hierdie goggatjie verdedig homself deur 'n vloeistof teen kook-punt uit te spuit. So 'n skroeiende stortbad raai dan sy vyande aan om liewer hul geluk elders uit te toets. Tog is hy nie aan die kragnet gekoppel nie, dog 'n chemiese reaksie vind plaas en stel hitte vry wanneer een vloeistof by 'n ander gevoeg word. Twee vloeistowwe word bymekaar gebring net voor die spuitaksie, en hulle reageer op so 'n wyse op mekaar, dat 'n temperatuur teen kookpunt die gevolg is. Vanself-sprekend moet hierdie twee vloeistowwe streng apart gehou word terwyl hulle nog in die insek se liggaam is, anders sou die reaksie daar plaasvind, met gestoofde kewer as gevolg.

Hierin sien Prof. Dawkins geen bedreiging vir die Darwinisme nie. Die twee vloeistowwe, sê hy, was reeds teenwoordig in die insek se liggaam, waar hulle vir ander doeleindes gebruik is. “Die bombardierkewer se voorouers het eenvoudig aan verskillende chemikalieë wat reeds teenwoordig was, ander take opgelê.” (Watchmaker, bls. 105) Hy gebruik die woord “simply.” Nou hoe eenvoudig kan dit wees?

Wat natuurlik onontbeerlik sou wees, is dat presies die regte twee souse onder al die beskikbares uitgekies en in aparte houers versamel moes word, aangesien hulle nie kan uitspuit tensy hulle dig afgesluit is nie. Hoe dit ook al gebeur het, was die keuse van vloeistowwe, die versameling, die voorbereiding van die houers en die berging tot op hierdie stadium nog steeds hoegenaamd tot geen voordeel vir die insek nie. Om eenvoudig twee van sy vloeistowwe uit te soek en in sterk houers te versamel gaan hom nie op enige manier langer laat lewe of meer klein kewertjies laat verwek nie. Hierdie houers moes ook dig bymekaar geleë wees, anders sou hulle nie later kon saamwerk nie. Verder moes hulle in die regte deel van die liggaam geleë wees waar hulle vir verdediging gebruik kan word. (Dit sou byvoorbeeld geen waarde gehad het as hulle op die rug geleë was nie.) Die houers moes elkeen 'n soort tuit hê. As die reaksie binne een van die houers moes plaasvind, moes dit sterk wande hê wat die hitte en druk kon weerstaan. Die nodige spiere moes verskaf of aangepas word om saam te druk. Alles moes onder die eienaar se beheer geplaas word, sodat hy dit presies op die regte oomblik kan aktiveer. En om die kroon te span, moes al hierdie ontwik-kelinge in klein stappies uitgevoer word, waarvan elkeen so lewensbelangrik was dat dit gesorg het dat dooie kewers langs die pad lê. En dan sê Prof. Dawkins: “Simply.”

Maar laat ons na die ligsensitiewe kol terugkeer. Vroeër is gevra watter nut dit heel aan die begin sou hê, maar nou is dit tyd om ook te kyk na sy konstruksie. Michael Behe wys daarop dat so 'n kol, waarmee Prof. Dawkins begin, alreeds 'n baie ingewikkelde orgaan is. Dit bestaan uit verskillende samewerkende dele. En dit moet op een of ander wyse so aan die eienaar verbind wees, dat hy bewus word as die lig daarop val. Ook is hierdie bewuswording nie bloot 'n gevoel nie, want 'n gewaarwording van 'n beeld is iets anders as om byvoorbeeld hitte te ervaar. Maar selfs al laat ons hierdie ingewikkeldhede tersyde, is daar iets anders om op te let. Volgens Prof. Dawkins was daar 'n deurskynende vlies op die kol wat dit beskerm het en wat later in die evolusieproses dikker geword het en die binnekant van die oog gevorm het. Daar was dus twee kolle op mekaar: 'n ligsensitiewe een met al sy geheimenisse, en 'n skynbaar veel nederiger deurskynende een wat nogtans kon verdik. Maar deurskynende vliese verskyn nie eenvoudig goedsmoeds op allerhande plekke op die liggaam nie. Aan die ander kant is dit egter ook nie somaar niks nie, maar wel iets. En iets het iets anders nodig om dit te laat ontstaan. En dit kon baie duidelik nie van buite die liggaam daarop beland het nie, byvoorbeeld deur daarop te waai of gesmeer te word nie, want dan sou dit nie oorerflik gewees het nie, en sou dit geen verband met die evolusieproses gehad het nie. Dit kon slegs deur 'n mutasie verskyn wat die gevolg was van die toevallige werking van die gene. Dit beteken dat twee samewerkende kolle: 'n ligsensitiewe en 'n deurskynende, deur blote toeval op presies dieselfde plek op die liggaam hul verskyning moes maak waar die een later die ander nodig sou hê. Dit wil gedoen wees!

Het ek gesê: “Dieselfde plek”? Is dit die volle verhaal? Hoeveel diere het net een oog? Wat nodig sou wees, was nie een ligsensitiewe kol nie, maar twee. En toevallig sou hulle simmetries geleë moes wees. En die deurskynende vliese sou ook toevallig in simmetriese pare op presies dieselfde plekke moes verskyn.

Die toeval sou selfs nog meer moes vermag. Is daar enige ander plek op die liggaam waar die oë beter of selfs net so goed geleë sou wees as waar hulle tans op verreweg die meeste diere is, naamlik redelik hoog aan die voorkant van die kop? Ek kan aan geen beter plek dink nie. En die toeval sou dit ook moes besef.

Wanneer ons die voorafgaande astronomiese toevallighede bedink wat nodig sou wees om dit vir natuurlike seleksie moontlik te maak om die oë voort te bring, plaas Prof. Dawkins nog die kersie op die koek: volgens hom het die oog nie slegs eenmaal uit 'n ligsensitiewe kol ontwikkel nie, maar minstens veertig maal, en moontlik tot sestig maal! (Mount Imp. Bls. 127) Veertig tot sestig maal het twee simmetriese kolle toevallig op twee ander simmetriese kolle beland op die mees geskikte plek op die liggaam. En dit was maar net die begin van die ontstaan van die oog.

Enigeen wat verdere voorbeelde verlang, kan gerus op internet oplees oor die groot verskeidenheid vleesetende plante. Daar is vroeër gevra wat die bekerplant en die Venus vlieëvanger aan die begin van hul evolusie sou kon doen. Laasgenoemde se blaar kan in een-tiende van 'n sekonde dubbel vou. Hiervoor moet dit iets soos 'n veer besit, hoe dit dan ook al presies daar mag uitsien. Die vlieëvanger klap toe wanneer twee besondere haartjies gelyktydig aangeraak word, of as een twee-maal aangeraak word. Op een of ander wyse aktiveer dit dan die veer wat die blaar laat toeklik. Sonder die haartjies is die veer nutteloos, en sonder die veer dien die haartjies geen doel nie. En die blaar het stekels aan sy rand wat dien as tralies wat die gevangene verhoed om te ontsnap. Sonder hierdie tralies sou selfs die samewerking van die haartjies en die veer nutteloos gewees het. Maar die tralies sou ook geen doel dien sonder die ander twee nie.

Om te besef hoe 'n situasie sou wees waar twee of meer unieke onderdele toevallig afsonderlik evolueer tot op 'n punt van moontlike samewerking, dink weer aan die Airbus.


Wat sou evolusie kon red?

Daar is ongetwyfeld 'n vae vermoede dat, as daar genoeg tyd beskikbaar is, enigiets minstens eenmaal kan gebeur. Iemand mag dus aan die hand gee dat voldoende tyd ook die Darwinisme sou kon red. “Onthou,” sou hy sê, “dat die evolusieproses nie duisende jare geduur het nie, maar miljarde. En gedurende so 'n lang tyd kan baie dinge gebeur. Selfs iets wat net elke paar duisend jaar voorval, kon baiemaal gebeur het. Elke eienskap kon met een stappie gevorder het en dan millennia gewag het voor die volgende stap, en sodoende die ander eienskappe kans gegee het vir hulle stappe sonder om met die eerste een verstrengel te raak.”

Maar waarop sou dit neerkom? Eliminasie sou nog steeds onontbeerlik wees. En dit sou nog steeds beteken dat die eliminasie van individue wat in een opsig minderwaardig is, ook neerkom op die eliminasie van individue wat in 'n ander opsig uitstaande en vir natuurlike seleksie onontbeerlik is.

Ook sou miljarde jare nie die probleem met die nutteloosheid van die eerste stappies oplos nie. Dit sou slegs beteken dat hulle verder in die verlede verskuif word; maar as hulle van so 'n aard was dat hul geen diens aan hul eienaars gelewer het nie, sou hulle nog net so nutteloos wees.

Bykomstige tyd sou nie verklaar hoe sekere spesies beïnvloed word, terwyl ander wat meer kwesbaar is, ongestoord voortgaan nie.

Sou bykomstige miljarde jare enige hulp bied aan die natuur se koppelaar deur dit makliker te maak vir eienskappe om tot die punt van bruikbaarheid te ontwikkel waar hulle met hul onmisbare medewerkers verenig kan word? Wat dit wel sou doen, is om die tydsduur van hul onbruikbaarheid te verleng.

Wat van diegene wat tevrede is met iets minder as volwaardige Darwinisme? Gestel nou dit kon sonder enige moontlikheid van twyfel bewys word dat alle lewende wesens vanaf dieselfde oorspronklike organisme geëvolueer het tot die verskeidenheid van vandag, afgesien van wat die meganisme was. As die Darwinisme nie gered kan word nie, is dit nie minstens moontlik om darem 'n paar toutjies te trek vir so 'n meer algemene idee van evolusie nie?

Dan sou ons nog steeds moes vra wat vir die evolusieproses verantwoordelik kon gewees het, aangesien natuurlike seleksie alleen dit nie sou kon regkry nie.

En waarheen sou ons ons wend om hulp, indien nie na die ou beproefde werkswyse van ekstrapolasie nie? Hiervolgens redeneer ons dat magte en prosesse wat in die bekende voorkom, ook in die onbekende geld, soos Newton byvoorbeeld besluit het dat die wet van aantrekkingskrag wat hy onder die appelboom gevind was, ook in die verste ruimtes werksaam is. Watter verskynsel ken ons in ons eie ondervinding waarvandaan ons kan ekstrapoleer tot 'n mag wat evolusie kon aandryf?

Met ander woorde: wat kon (1) dit in baie klein stappies laat plaasvind, (2) botsings vermy tussen al die talle eienskappe wat gelyktydig moes ontwikkel, (3) evolusie reeds vanaf die vroegste stappies laat werk het toe sulke stappies nog geen voordeel gebied het nie, (4) dit beperk tot sekere spesies, hoewel ander dit nie minder nodig gehad het nie, (5) die regte interafhanklike onderdele bymekaar gebring het nadat hulle oor 'n lang periode onafhanklik ontwikkel het?

Ek weet van slegs een manier waarop dit gedoen kon word, naamlik deur wat in kunsmatige seleksie werksaam is: 'n intelligensie wat vanaf die begin geweet het wat die einde gaan wees en wat die proses op een of ander manier deur al sy stappe gestuur het.

Die gedagte dat intelligensie en voorkennis onontbeerlik sou gewees het, word ondersteun uit 'n onverwagte oord, naamlik deur Prof. Richard Dawkins.

In 'n boek wat moet bewys dat geen beplanning in die ontstaan van lewensvorms betrokke was nie, skryf hy van 'n “computer monkey”. Dis 'n rekenaar wat gestel is om hom soos 'n aap te gedra. (En dit het niks met die vrywillige aapstreke te doen wat my rekenaar alte dikwels aanvang nie.) Net soos 'n aap wat net eenvoudig op enige klawers druk sonder om hom te bekommer oor watter letters daaruit voortkom, so moes die rekenaar net eenvoudig enige letters toevallig laat verskyn. Hy vra hoe lank dit sou neem vir hierdie elektroniese aap om toevallig 'n sinnetjie met 28 letters en spasies uit “Hamlet” te tik deur oor en oor te probeer. “Om dit sagkens te stel, die frase sou lank neem om te verskyn,” besluit hy. Prof. Dawkins noem hierdie metode om te probeer om die sin te tik “enkelstapseleksie,” want elke keer begin die rekenaaraap van meet af aan en wend 'n enkele poging aan om die sin te tik. So kon evolusie nie gewerk het nie, is sy gevolgtrekking. Maar, sê hy, dit is 'n ander saak as elke poging voortbou op die vorige. Want in teenstelling tot enkelstapseleksie is daar ook kumulatiewe seleksie. Weereens word dieselfde aantal letters lukraak getik om mee te begin. Nou word die sin herhaaldelik gedupliseer, maar elke keer met 'n toevallige fout. Na elke poging ondersoek die rekenaar dan die nuwe produk, en wanneer daar 'n letter verskyn wat met die teikensin uit “Hamlet” ooreenkom, word dit nie weer uitgevee nie. Dan gaan die proses van daar af voort. Terwyl die korrekte sin oneindig lank sou neem om met enkelstapseleksie te verskyn, voltooi die rekenaar dieselfde taak in 'n japtrap met gebruikmaking van kumula-tiewe seleksie. Deur sy bevindinge uit sy eksperiment met die rekenaaraap te ekstrapoleer na wat vermoedelik in die natuur sou gebeur het, bereik Prof. Dawkins die gevolgtrekking dat enkelstapseleksie nooit die evolusieproses aan die gang sou kry nie. “As daar egter enige manier was waardeur die nodige voorwaardes vir kumulatiewe seleksie deur die blinde kragte van die natuur voorsien kon word, sou die gevolge vreemd en wonderlik wees. En inderdaad is dit presies wat op hierdie planeet plaasgevind het.” (Watchmaker, blss. 56-60)

Maar wat is hierdie “nodige voorwaardes vir kumulatiewe seleksie”? Wat is in sy eksperiment by die enkelstapseleksie gevoeg om die verskil te maak tussen mislukking en sukses?

Volgens Prof. Dawkins self word daar in kumulatiewe seleksie telkens ondersoek ingestel en 'n besluit geneem op grond van ooreenkoms met 'n teikenfrase. Dit is waarmee die rekenaaraap sukses behaal het, en wat die natuur dus sou moes doen om evolusie deur kumulatiewe seleksie te laat werk. Maar hoe het die rekenaaraap dit reggekry? Hoe kon hy na elke probeerslag vasstel of daar ooreenkomste met die teikenfrase is, tensy hierdie teikenfrase van die begin af alreeds êrens in sy ingewande gestoor was?

En hoe kon dit daar gekom het, tensy dit reg aan die begin daar geplaas is deur 'n intelligente wese wat vertroud was met die finale resultaat?

Ons weet selfs wie daardie intelligente ontwerper was. Sy naam was Richard.

As ons nou iets kan leer deur vanaf hierdie eksperiment, waarin 'n intelligente ontwerper die kritiese faktor was wat die onderneming laat slaag het, te ekstrapoleer na die gebeure in die natuur, waar Prof. Dawkins sê dat dieselfde plaasgevind het, wat sou die onvermydelike les wees?

Maar sodra ons 'n Intelligente Ontwerper ontdek het, kom verdere vrae na vore; en hierdie keer moet ons hulle nie aan Darwin stel nie, maar aan onsself. Kom ons kyk na 'n paar van hulle.


Aangesien die Ontwerper in die mens se intelligensie deel, en wel in 'n mate wat die mens in vergelyking nietig laat lyk, sou dit dan verbasend wees as Hy ook ander eienskappe met die mens deel, veral sy gehegtheid aan sekere?


As ons van Hom bewus geword het deur sy voltooide skeppinge waar te neem, watter ander afleiding kan ons maak as dat Hy benewens ontsagwekkende wysheid ook onmeetlike mag moet besit om sy planne tot uitvoer te bring?


As ons eers van Hom bewus geword het en begin besef wie Hy is, volg dit vanselfsprekend dat alle waardes deur Hom bepaal word. Sou dit verbaas as die mens vir Hom van besondere betekenis en waarde sou wees? Sou dit verbasend wees as dit vir Hom baie belangrik is wat hierdie skepsel doen, wat hy wil doen, probeer doen en wat hy nalaat om te doen?


Alhoewel dit natuurlik van Hom sou afhang of Hy evolusionêre ontwikkeling wil gebruik, wat sou Hom verhinder om dit met ander prosesse af te wissel of heeltemal daarsonder klaar te kom?


Kan ons besluit dat dit vir Hom enigsins makliker of geriefliker sou wees om groot gebeurtenisse oor lang tydperke te laat plaasvind as in 'n oomblik?


Aangesien dit Hy moes gewees het wat oorspronklik die mees onverklaarbare verskynsel, naamlik die lewe, in sy skepsels geplaas het, sou dit vir Hom enigsins 'n probleem wees om die lewe te laat terugkeer na waar dit eenmaal was? Of om dit op 'n ander manier te laat ontstaan as deur die samevoeging van die manlike en die vroulike?


Sou dit verbaas as Hy met die mens sou wou kommunikeer, en as Hy ook nog meer direkte middele sou aanwend as om Homself in sy skepping te openbaar? Sou daar nie 'n wyse van kommunikasie wees wat ooreenstemminge toon met die mens se gesprek met ander mense nie? Sou Hy nie ook deur een mens met 'n ander kon spreek nie?


Sou dit verbasend wees as Hy wat die mens gemaak het, ook nog ander wesens gemaak het wat in 'n mate met hul Skepper ooreenkom – moontlik selfs in 'n groter mate as die mens? En is dit onmoontlik dat hulle, net soos hul Skepper, van so 'n aard kan wees dat die mens hulle nie gewoonweg met sy vyf sintuie kan waarneem nie? Met ander woorde: is die bestaan van onsigbare geestelike wesens iets waaroor die mens verbaas moet wees? En is dit onmoontlik dat, hoewel sommige getrou was aan hul Skepper, ander teen hom gerebelleer het net soos met mense die geval is? Is die bestaan van engele en demone in stryd met wat ons van die werklikheid kan te wete kom?


Sou dit verbasend wees as Hy soms die gewone natuurwette ophef? Wanneer aanvaarding van 'n Skepper van die heelal eers onafwendbaar word, wat bly dan vir Hom onmoontlik? Watter wonderwerk wat ons onwillig is om te aanvaar, is groter as die skepping van die heelal en die lewende wesens? En as sulke verstommende gebeurtenisse in die verre verlede kon plaasgevind het, is daar enige logiese rede waarom gebeurtenisse wat vir ons onmoontlik lyk en wat beskryf word as wonderwerke, nie vandag kan geskied nie? Ons is terug by die vraag of moontlikheid bepaal word deur afstand in tyd?


Wat verhinder Hom om dade wat vir ons natuurlik voorkom, af te wissel met optredes wat ons nie kan verklaar nie en wat ons as bonatuurlik beskryf? Wat is natuurlike seleksie en die ander meganismes anders as sy gereedskap, en wie kan aan Hom voorskryf wanneer Hy watter een moet gebruik?

Is dit onmoontlik dat Hy doelstellings mag hê wat ons nie kan verstaan nie, en dat baie van sy dade en ook dit wat Hy nalaat om te doen, vir ons ewig onverklaarbaar mag wees?

Een ding is seker: as ons erns wil maak met die kennis van die werklikheid, sal daar by baie van ons 'n groot hersiening van voorveronderstellings moet plaasvind.

As ek onder groepdruk of enige ander druk die Darwinisme sou aanvaar, dan sou die probleme wat ek met Darwin ondervind by my kom spook. As ek kalm en na die beste van my verstandelike vermoë die feite oorweeg waarna ek verwys het, is die grootste prestasie wat ek aan Darwin kan toeskrywe, dat hy een van die meganismes aangedui het wat soms in die natuur werksaam is. As sy teorie gesaghebbend aangekondig word, mag dit oortuigend klink, maar wanneer indring-end en ontledend daarna gekyk word, verkrummel dit. Ek kan niemand dwing om met my saam te stem nie; maar as iemand my anders wil oortuig, laat ek dan voorstel dat hy kalm en duidelik begin by die vrae wat ek kalm en duidelik probeer vra het. Daarna kan ons verder gesels.

Maar ten slotte ken ons die werklikheid nog steeds ten dele, kyk ons nog steeds deur 'n spieël in 'n raaisel, lei ons ekstrapolasies maar net tot by vermoedens, en staan ons nog steeds voor 'n diepe misterie, voor 'n toe deur.

Tensy Iemand van die ander kant kom en die deur vir ons oopmaak.


Wat nou van die morele wet?

Wat is die implikasies van die verskil tussen Darwin en die Getuie vir die oeroue vraag oor wat goed en wat kwaad is?

Ons het hier te doen met die keuse tussen twee opvattings oor die alles-omvattende werklikheid waarin elke mens hom bevind en waarin al sy handelinge plaasvind. Aangesien omstandighede, insoverre dit bepaal wat die gevolge van 'n handeling sal wees, ook bepaal of dit reg of verkeerd is, en die twee opvattings oor die werklikheid teenstrydige inligting verskaf oor die omstandighede waarin die hande-linge plaasvind, beteken dit onvermydelik dat hulle sal lei tot verskillende opvattings oor wat reg en verkeerd is. In beide gevalle mag besonderhede dikwels onseker wees, en mag die keuse van die mindere euwel ons voorland wees. Maar oor die uitgangs-punte is daar minstens duidelikheid.

Volgens die een uitgangspunt is die mens die werk van 'n Skepper wat diegene straf wat Hom weerstaan, maar wat eindelose liefde bewys aan dié wat dit aanvaar, en wat selfs die swakstes en mins aansienlikes wil lei om al meer en meer aan Hom gelykvormig te word. Vooruitgang bestaan daarin om met Hom saam te werk en om die liefde wat van Hom ontvang word, ook aan ander te bewys. En dit sluit die armes en die swakkes, die siekes en die veragtes in.

Volgens die ander uitgangspunt is die mens die produk van 'n proses wat berus op die uitskakeling van die swakkes. Darwin het gepraat van “een algemene wet: die sterkes moet leef en die swakkes moet sterf.” As hy korrek was, wat sou dit dan beteken om met die werklikheid saam te werk?

Dit is skaars nodig om te wonder, want in die vorige eeu is 'n reusepoging aangewend om dit uit te toets. As Hitler nie soveel teenstand gekry het nie, sou ons moontlik vandag reeds die resultate van die uitroeiing van swakkes gesien het.

Maar moontlik sou ons tog ook nie heeltemal geweet het nie. Dit is 'n tergende taak om vanaf resultate as't ware terug te kyk en te besluit of 'n beleid reg of verkeerd was, want dikwels laat sekere kleiner foute 'n onderneming skipbreuk ly, al was daar geen fout met die uitgangspunt nie. Wat meer betroubaar is, is om te vra of die uitgangspunt korrek was, en of die werklikheid reg geïnterpreteer is. En gelukkig weet ons dat die Darwinisme juis om hierdie rede uitgeskakel moet word, en dat dit gevolglik nie nodig is om verder uit te vra oor wat die gevolg van 'n konsekwente aanvaarding daarvan in die praktyk sou wees nie. Wanneer 'n teorie dood gebore is, is dit skaars nodig om te vra watter gedrag dit sou voorgeskrywe het as dit gelewe het.



4.UITEINDELIK DIE GETUIE


Dit is ongetwyfeld hoog tyd om by die Getuie uit te kom oor Wie die hele gesprek eintlik gaan. En reg aan die begin van die bekendstelling kan aandag gegee word aan 'n verskil tussen Hom en die persoon wat vir baie mense in sy pad staan en aan wie daar reeds 'n bespreking gewy is, naamlik Charles Darwin.

Een verskil tussen Darwin en die Getuie is dat eersgenoemde se meganisme aan ons almal bekend is. Ons weet almal – of ons kan geredelik maklik vasstel – hoe natuurlike seleksie werk. Ons weet dat ouers hul eienskappe na hul kinders oordra, en ons weet ook dat sekere eienskappe diere aan die lewe hou, terwyl dié daarsonder dikwels nie die paal haal nie. En ook die verdere uitbreiding wat op hierdie waarnemings gegrond is, kan ons volg. Ons kan dan egter ook vasstel dat verskillende onmisbare voorwaardes vir die Darwinisme (wat berus op die aanname dat natuurlike seleksie 'n voldoende verklaring vir die ontstaan van alle lewensvorms is), op sekere stadiums ontbreek het. Daarom kan ons met sekerheid besluit dat Darwin verkeerd was. Maar die Getuie vertel ons van magte wat ons nie met ons sintuie kan leer ken nie, en waarvan ons die beginsels nie self kan toets nie. Hy maak daarop aanspraak dat Hy ons in die misterie kan inlei.

En tog is dit nie heeltemal 'n nuwe situasie nie. Ook in ander verbande gebeur dit dikwels dat iemand lewensbelangrike inligting aanbied wat die ontvangers nie direk kan toets nie. En tog het hulle 'n oplossing wat hulle nie heeltemal hulpeloos laat nie en wat hulle minstens help om die waarde van sy bydrae te bepaal. Hulle vra hoe akkuraat hy is in ander uitsprake wat wel getoets kan word. Sy betroubaarheid oor die onbekende word getoets aan sy uitsprake oor die bekende.Dit geld vir 'n getuie in 'n hof. Sy getuienis oor 'n gebeurtenis wat hy alleen aanskou het, dra nie veel gewig as hy daarby ook nog 'n klomp onsin praat oor iets wat almal weet nie. Dit geld ook vir 'n medikus: as die pasiënt volgens sy diagnose 'n kwaal het wat alleenlik deur 'n groot operasie verwyder kan word, kan die kranke nie vasstel of dit wel die geval is nie, maar hy brand om twee dinge te weet wat wel bekend is. Eerstens wil hy weet hoe suksesvol die dokter in die verlede was met sy diagnose en sy behandeling van ander pasiënte. Met ander woorde, hy wil sy dade toets. Maar hy luister ook as die dokter praat oor die beperkte gebied wat wel aan hom bekend is. Dit mag gaan oor basiese gesondheidsbeginsels, of dit mag selfs gaan oor heeltemal 'n ander gebied, selfs die politiek. Is hy 'n betroubare beoordelaar van wat op daardie gebiede voorkom? Om sy algemene betroubaarheid vas te stel, beoordeel die pasiënt sy woorde.

Francis Schaeffer gebruik 'n vergelyking wat by hierdie voorbeelde aansluit. Dit lui min of meer as volg: Ons het in die Alpe gaan klim, en bevind ons op 'n smal lys wanneer die donker ons oorval. As ons daar oornag, sal ons verkluim, maar ons kan ook nie waag om in die donker verder te gaan nie. Dan weerklink daar 'n stem: “Julle kan my nie sien nie, maar ek kan julle sien. Ek ken hierdie deel so goed soos die palm van my hand. 'n Entjie onderkant julle is daar 'n breë lys, en langs die lys is 'n grot waarin julle veilig kan oornag. Spring net eenvoudig, en julle is gered.” Nou hang ons lewens af van die vraag of hy betroubaar is. Maar hoe kan ons uitvind? Die beste manier, en trouens moontlik die enigste, is om hom uit te vra oor dinge waarmee ons wel vertroud is. Ons vra uit oor ander bekende landmerke en toestande. As dit blyk dat hy oor almal die waarheid praat, is dit 'n aanmoediging om hom ook in hierdie geval te glo. En om te spring!

Maar die Persoon wat in ons geval getoets moet word, spreek Hom oor veel meer uit as 'n misdaad of 'n krankheid of 'n deel van Switserland. Sy aanspraak is dat Hy nie alleen alles ken nie, maar selfs ook alles gemaak het. Gevolglik kan daar van hom verwag word om die ganse werklikheid te ken.

Om iemand te toets wat daarop aanspraak maak dat hy met 'n sekere gebied vertroud is, is dit onbevredigend om hom uit te vra oor die eenvoudige dele of aspekte van daardie gebied. Hoe hoër sy aanspraak op kennis, hoe ingewikkelder word die gebied waaroor vrae aan hom gestel word.

Wat is die toepassing daarvan op die Getuie van wie daar tans sprake is? Hy het immers dinge oor Homself gesê wat geen ander regsinnige mens sou waag om kwyt te raak nie. Hy het verklaar dat Hy uit die hemel gekom het – 'n gebied wat ons moontlik nie vir onsself kan voorstel nie, maar wat in baie opsigte oneindig verhewe moet wees bo die aarde waar ons woon. Ons kan nie kontroleer of Hy reg was nie, want ons besit nie die nodige kennis van die hemel nie. Hy het beweer dat Hy ons inlig oor sy Vader in die hemel, maar ons is beperk tot die aarde. Maar ons kan wel sy algemene betroubaarheid toets deur vrae te vra oor die mees ingewikkelde deel van 'n gebied wat nie vir ons heeltemal onbekend is nie. En aangesien die mens hierdie deel is, kom dit prakties daarop neer dat ons vasstel wat Hy weet van die mens. Van Hom is gesê: “Hy het nie nodig gehad dat iemand van die mens getuig nie, omdat Hy self geweet het wat in die mens is.” (Joh.2:25) Kan daar vasgestel word of dit waar is? Dra Hy byvoorbeeld kennis van die mens se diep verlange na die skepping van nuwe dinge deur ontdekking, oortreffing en veral deur integrasie?

Sy kennis van die mens word nie slegs geopenbaar deur direkte uitsprake wat Hy omtrent die mens maak nie. Net soos 'n onderwyser se kennis van sy leerlinge geopenbaar word deur die manier waarop hy hulle onderrig, so blyk Jesus se kennis van die mens ook op die wyse waarop Hy tot hulle spreek.

Het Jesus ooit self aan die hand gegee dat so 'n toets uitgevoer word, en spesifiek dat sy insig in 'n bekende gebied ons moet aanmoedig om te glo wat Hy oor die onbekende meedeel?


Die aardse en die hemelse.

'n Gewigtige retoriese vraag wat gewoonlik baie min aandag geniet, is Joh. 3:12. “As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle glo nie,” het Jesus aan Nikodemus gevra, “hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?” Met ander woorde, geloof in sy woorde oor die aarde wat in 'n mate aan ons bekend is, is 'n voorwaarde, of minstens 'n voorbereiding, vir geloof in sy uitsprake oor die hemelse wat onbekend is.

'n Groot deel van Jesus se lering het volgens hierdie beginsel geskied. Sy dissipels kon nie verstaan waarom dit nodig was nie. “Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse?” het hulle Hom gevra. (Matt. 13:10) Matteüs gaan selfs so ver om te sê “sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie.” (13:34) In hierdie gelykenisse het Hy aardse dinge gebruik as simbole van hemelse waarhede. Die saad van die saaier het die woord van God verteenwoordig, en so ook die suurdeeg wat die vrou in die deeg ingewerk het, terwyl die vader in die gelykenis van die verlore seun bedoel was om iets tuis te bring omtrent die Vader in die hemel.

Dit was nadat Hy sy luisteraars met gewone aardse brood gespysig het, dat Hy hulle aangespoor het om die hemelse brood te soek. (Joh.6:27) Nadat Hy water by die Samaritaanse vrou gevra het, het Hy haar die lewende water aangebied. (Joh.4:7-15) Dit is vir vissers van visse dat Hy aangebied het om hulle vissers van mense te maak. (Mark. 1:17) En as algemene beginsel het Hy neergelê: “Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou... As julle nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou?” (Luk.16:11)

Alhoewel Jesus gewoonlik gelykenisse gebruik het wanneer Hy die skares toespreek, het Hy tog ook meer direk omtrent sekere “hemelse dinge” met sy dissipels gepraat, en selfs met ander individue en groepe. En veral belangrik is die morele standaarde wat Hy hulle voorgehou het en wat hier op aarde bevredig moet word. Enigeen wat sy gesonde verstand wou gebruik kon sien dat hierdie opdragte sy eie heil en dié van die samelewing as geheel bevorder. As enigiemand sy vermaning wou volg om ander mense te behandel soos hy self graag behandel wil word, sou hy 'n voorbeeld stel; en as elkeen dit sou navolg, sou hy voorwaar bevoorreg wees om 'n modelsamelewing te lewe. Selfs diegene wat byvoorbeeld getwyfel het of die sagmoediges die aarde sou beërwe, moes maar net rondom hulle kyk om te gewaar hoeveel hoogmoediges en brutales wat die aarde op hul eie manier wou beërwe, uiteindelik alles verloor het teenoor teenstanders met dieselfde gesindheid. “Maar wie ookal dinge tot die einde deurdink, sien die wysheid van Christus se bergrede, en handel dienooreenkomstig,” sê Jürgen Moltmann. (bls.127) Die vraag vir iemand wat na geregtigheid gehonger en gedors het was nie of wat Jesus omtrent aardse dinge gesê het reg was nie, maar of hy self wou induik en gehoorsaam. En as hy die aardse aanvaar het, was hy beter voorbereid op die hemelse.


Waar was die probleem dan?

Waarom het mense dan nie eenvoudig aanvaar wat Hy sê nie?

Een van sy eienskappe wat sy luisteraars kon verwonder het, is dat Hy nederigheid gepreek en vertoon het, terwyl Hy tog allesbehalwe beskeie aansprake gemaak het oor sy eie herkoms. En ek persoonlik het gevind dat, hoewel dit na 'n diep misterie en baie vrae lei om sy boodskap te aanvaar, die gevolg van 'n verwerping daarvan totaal vernietigend sou wees en die geestelike dood sou beteken.

In verband met sy oënskynlike gebrek aan terughoudendheid oor sy identiteit, vestig J. Oswald Sanders die aandag op “vyf dinge wat elke menslike onderwyser voorheen en sedertdien gedoen het, maar wat Jesus nooit gedoen het nie.” In die eerste plek “is geen woord wat Hy gespreek het, ooit herroep of verander nie, en het Hy nooit om verskoning gevra nie.” Ander kenmerke was dat “Hy nooit, selfs by die wysste manne van sy tyd, raad gesoek het nie .... Hy het nooit 'n sonde bely nie ... Hy het nooit moeite gedoen om dubbelsinnige gedrag te regverdig nie” en “Hy het nooit gebed vir Homself gevra of toegelaat nie.” (bls.12)

Later sê hy:

In 'n artikel wat Christus as die allerhoogste gesag verkondig, merk wyle Dr. W.B.Riley op: (a) Sy spraak was sonder weifeling, (b) sy uitsprake was ondubbelsinnig – Hy het nooit taal gebruik wat vatbaar was vir verskillende uitlegginge met die oog daarop om te bedrieg nie. (c) Sy stellings het finaliteit ingesluit: Sy “Ek sê vir julle” het die bespreking afgesluit. Daar het geen hoër gesag oorgebly na wie geappelleer kon word as die hoogste Profeet nie. Sy woord was die einde van 'n geskil. (d) Hy het nie raadgewers nodig gehad of gebruik nie. (e) Sy uitsprake het neergekom op opdragte. (bls. 108)


Leslie Badham vestig die aandag daarop dat Jesus


aanspraak maak op 'n finale gesag vir sy woorde; .... beweer dat 'n mens se uiteindelike bestemming afhang van sy liefde en sy gehoorsaamheid aan Hom; .... tot in die verte kyk en al die nasies van die wêreld voor sy regterstoel versamel sien en .... Homself voorstel as die mens se Regter en Verlosser. (bls.211)


Ander lewer kommentaar op die kontras in sy lewe en gedrag. Oswald Chambers wys daarop dat Hy die mens so goed geken het dat Hy niemand vertrou het nie en tog nooit aan iemand gewanhoop het nie. (Allerbeste, Julie 30) en Emil Brunner vestig die aandag op “die intense strengheid van morele oordeel” in teenstelling tot “oneindige vergewende liefde,” (bls.366) en “sy nabyheid aan mense en nogtans sy verwydering van hulle.” (bls.367)

Jesus het aansprake omtrent Homself gemaak wat geen ander regsinnige mens sou maak nie, en Hy het die hardhartiges ondubbelsinnig kortgevat; en tog het Hy gesê: “Ek is sagmoedig en nederig van hart.” (Matt. 11:29) Was Hy verwaand of was Hy volmaak? Was dit groot-heidswaan of 'n ware weerspieëling van sy identiteit? Waar het Hy vandaan gekom?

Daar is talle mense wat Jesus sou aanvaar as Hy maar net gewillig sou wees om 'n meer beskeie posisie te aanvaar as waarop Hy aangedring het. 'n Groot profeet? O ja! Die grootste leermeester van almal? Gewis! Die edelste mens wat ooit geleef het? Alte seker! Maar definitief nie dat Hy die waarheid gepraat het toe Hy gesê het wie Hy is nie.

Emil Brunner bespreek in groot besonderhede verskeie mense en ideologieë wat aan Jesus die hoogste posisie onder die groot leermeesters van die geskiedenis toeken. En tog beskou hulle Hom slegs as die mees voortreflike onder ander van dieselfde soort. Jesus word 'n “godsdienstige genie.”


So iemand is die eerste onder gelykes, en geen intensivering van die waarde van sy eienskappe kan hom enigiets anders maak nie. Hy is, en Hy bly, asof deur 'n diep kloof geskei van wat die Christelike godsdiens bedoel met 'n Middelaar .... Godsdienstige heldeverering is nog steeds universele godsdiens, die godsdiens van algemene openbaring, en is gevolglik 'n teenstander van die Christelike geloof, op presies dieself-de wyse as enige soort idealisme, mistisisme of etiese stelsel. (blss. 39,40)


Wat Brunner op hierdie manier sê, stel C.S.Lewis op sy kernagtige en byna kortaf – maar baie beskrywende -- wyse.


Ek probeer voorkom dat enigiemand die werklik onnosel ding sê wat mense dikwels oor Hom sê: “Ek is gereed om Jesus as 'n groot morele leermeester te aanvaar, maar ek aanvaar nie sy aanspraak daarop dat hy God is nie.” Dit is die een ding wat ons nie moet sê nie. 'n Man wat net maar 'n man was en die soort dinge gesê het wat Jesus gesê het, sou nie 'n groot morele leermeester gewees het nie. Hy sou òf 'n kranksinnige gewees het – die gelyke van 'n man wat sê hy is 'n gebakte eier – of anders sou hy die duiwel uit die hel gewees het. Jy moet kies. Hierdie man was en is òf die Seun van God: of anders 'n kranksinnige of iets erger. Jy kan Hom opsluit as 'n dwaas, jy kan op Hom spuug en Hom doodmaak as 'n demoon; of jy kan aan sy voete neerval en Hom Heer en Meester noem. Maar laat ons nie kom met enige neerbuigende onsin dat Hy 'n groot menslike leermeester is nie. Dit het Hy nie vir ons oopgelaat nie. Dit was nie sy bedoeling om dit te doen nie. (Mere Chr. blss. 52,53)


Jesus het definitief ontken dat Hy 'n ekstrapoleerder is wat probeer om vas te stel wat God is deur afleidings te maak vanuit menslike ondervinding. Hy het daarop aanspraak gemaak dat Hy 'n Boodskapper en Getuie is wat van die ander kant na ons toe gekom het. Johannes sê van Hom: “Die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.” (Joh. 1:18) En Jesus self het gesê: “Nie dat iemand die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van God kom: Hy het die Vader gesien.” (Joh. 6:46) “Die struikelblok van openbaring is dus dit:” sê Emil Brunner, “dit ontken dat goddelike waarheid 'n voortsetting is van menslike denke.” ( bls.104) Met ander woorde, dit is hopeloos om met menslike denke te begin en te verwag om uiteindelik goddelike waarheid te bereik deur met vasbeslotenheid en volharding boontoe te klim.

Jesus het nie begin met die gegewens wat deur die lewe op aarde aangebied word en vandaar geredeneer tot by die uiteindelike werklikheid nie. Die persoon wat dit probeer en verder gevorder het as die ander, is wat Brunner noem 'n godsdienstige genie “wat soos 'n genie op enige ander gebied is: hy verteenwoordig niks meer as menslikheid wat tot sy hoogste punt verhef is nie – niks minder nie, maar ook niks meer nie.”(bls. 39)

Jesus het daarop aanspraak gemaak dat Hy van agter die geslote deur gekom het, van die Bron van alles wat bestaan, of wat tereg genoem kan word die Uiteindelike Werklikheid, wat vir die mens ook 'n uiteindelike misterie is. Verder het Hy verklaar dat die Uiteindelike Werklikheid persoonlik is, dus het Hy na Hom verwys as God. Hy het ook aangekondig dat God barmhartig is en die mensdom liefhet, dus het Hy nie alleen na Hom verwys as sy eie Vader nie, maar selfs mense geleer om Hom met daardie naam aan te spreek. Nou al hierdie dinge kon Hom moontlik nog vergewe geword het, as dit nie was dat Hy verder gegaan het deur aan te kondig dat Hy die Seun van God is nie. Hy het selfs gesê dat wie Hom gesien het, die Vader gesien het.(Joh. 14:9) Dit is beskou as onvergeeflike lastering.

Dit is natuurlik maklik vir enigiemand om sulke dinge te sê. Baie mense gaan rond en maak stellings omtrent hulself en omtrent God. Selfs as iemand sê: “Ek is deur God gestuur,” is dit nie verregaande nie, want per slot van sake is baie profete deur Hom gestuur. Waarom sou dit dus ondenkbaar wees dat Hy enige tyd baie mindere dienaars op spesiale sendings kon stuur, selfs onaansienlikes? Maar as iemand sê hy is die Seun van God, of dat hy self God is, mag sy luisteraars òf kwaad word, òf goedig glimlag en na hul koppe wys. Was dit dus nie enigsins veel verwag dat mense sonder meer sy woord moes aanvaar vir sulke oënskynlik verregaande aansprake nie? Hoe kon Hy verwag dat hulle eenvoudig in die donker moes spring en Hom glo sonder om vrae te vra?

Maar dit is presies wat Hy nie gedoen het nie. Trouens, soos voorheen opgemerk is, het Hy self toetse aanbeveel vir die bepaling van sy betroubaarheid.


Die Getuie se eie toetse.

Daar is 'n misverstand dat God van mense verwag om 'n verhouding met Hom aan te knoop deur eers vir Hom blinde geloof aan te bied, in ruil waarvoor Hy dan vir hulle sekere gunste sou bewys. 'n Soort sprong in die donker sou dan wees wat Hy verwag. Maar as ons na die helde van die geloof kyk, vind ons dat dit God was wat die verhouding aangeknoop het deur eers iets aan hulle te gee wat geloof kon opwek. Daar word nie in alle gevalle gemeld presies hoe God met mense gepraat het nie, maar hulle het die versekering gehad dat dit sy stem was. In sekere gevalle was daar duidelike bewyse wat vertroue kon inboe-sem. Toe Gideon voor 'n uitdaging aan sy geloof te staan gekom het, is die geleentheid eers aan hom gegee om met 'n wolvlies te eksperimenteer.(Rigters 6:37) En diegene wat berispe is vir hul gebrek aan geloof, was getuies van vroeëre handelinge van God, soos die Israeliete in die woestyn, en Tomas en die ander dis-sipels. Hulle is nie berispe omdat hulle met hul eerste ontmoeting traag was om te glo nie, maar omdat hulle getwyfel het of God sy beloftes gestand kon doen, selfs nadat hulle gesien het wat Hy voorheen gedoen het.

Per geleentheid het mense beswaar gemaak daarteen dat Jesus vir iemand kon sê dat sy sondes vergewe is. Om vir hulle te bewys dat Hy wel hierdie reg het om te doen wat hulle nie kon sien nie, het Hy vir hulle 'n sigbare bewys van sy bonatuurlike mag gelewer deur die man te genees. (Matt. 9:3-9)

Jesus het nooit verwag dat mense eenvoudig moes aanvaar wat Hy sê nie. Hy het selfs sover gegaan om te sê dat as Hy in gebreke sou bly om sekere voorwaardes na te kom, hulle Hom nie moes glo nie.

Wat was hierdie voorwaardes wat Hy gesê het Hy sou vervul?


Sy werke

Een voorwaarde was dat Hy sou doen wat ander mense nie kon doen nie. “Die werke wat Ek doen in die Naam van my Vader, dié getuig van My,” het Hy gesê. (Joh. 10:25) “As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle My nie glo nie; maar as Ek dit doen, al glo julle My nie, glo die werke, dat julle kan erken en glo dat die Vader in My is, en Ek in Hom.” (:37, 38) “As Ek nie die werke onder hulle gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle geen sonde hê nie. Maar nou het hulle dit gesien ...” (Joh. 15:24) Herhaaldelik lees ons dat mense geglo het toe hulle sy magtige dade gesien het. (Joh. 2:23) Selfs sy dissipels het in Hom geglo toe hulle die eerste wonderwerk aanskou wat hy te Kana gedoen het. (Joh. 2:11) Vanselfsprekend moes hulle reeds 'n mate van geloof in Hom besit het, of hulle sou Hom nie gevolg het nie. Maar hierdie wonderwerk was 'n bevestiging en 'n versterking. Toe Johannes die Doper begin twyfel of Jesus werklik die Messias is, soos hy geglo en selfs aan andere verkondig het, het Jesus sy afgevaardigdes aangesê om vir hom te gaan vertel wat hulle gesien het, naamlik dat mense van allerlei soorte siektes genees word. (Lukas 7:18-22) Selfs na sy hemelvaart het wonderwerke nog die woorde van sy volgelinge bevestig. (Mark 16:20) So oortuig was hulle dat tekens en wonders bedoel was om hierdie uitwerking te hê, dat hulle gebid het dat hulle moet plaasvind. (Hand. 4:30) En Paulus verwys na “tekens en wonders en kragtige dade” as “die kentekens van 'n apostel.” (2 Kor.12:12)

Dit is ongetwyfeld natuurlik om te wonder waarom Jesus nie selfs meer wonderwerke en meer aanskoulikes verrig het nie, en waarom hulle vandag so skaars is. Dit sou tog immers die monde snoer van diegene wat sy aansprake wil bestry. Waarom verwag Hy van sy volgelinge om sy woorde te verkondig teen soveel struikelblokke, as Hy net eenvoudig hulle teenstanders in die geloof in kon dwing deur sensasionele dade te verrig?

Philip Yancey skenk aandag aan hierdie vraag en verduidelik dat God liefde verlang, en dat wonderwerke dit nie voortbring nie. Hy herinner sy lesers daaraan dat selfs waar wonderwerke plaasgevind het, baie mense nog steeds geweier het om te glo. (Searching, bls.133)

In Jesus se tyd is sommige mense oortuig deur sy wonderwerke, maar van ander staan daar geskrywe: “En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie.” (Joh. 12:37) Sommige wat gesien het hoe Hy die siekes genees, het aangedring op 'n teken uit die hemel. (Matt.16:1) Of hulle het gesê as Hy van die kruis afkom, sou hulle in Hom glo.(Mark. 15:32) Hulle wou self die wonderwerke kies waardeur hulle oortuig sou word. Yancey sê die wonderwerke het skares en toejuiging getrek, maar het selde berou en langtermyn geloof aangemoedig.


Kan ons nog sy dade toets?

Ons wat nie in staat is om Hom met die oë te aanskou nie, kan ons vandag nog sy dade aanskou? Oortuig Hy nog steeds mense met sy wonderwerke?

Jesus het immers baie uitdruklik belowe dat sy volgelinge dieselfde werke as Hy sou doen, en selfs groter werke, tot sy verheerliking. (Joh.14:12) Aan die ander kant het Hy ook voorspel dat sekere mense werke in sy naam sou doen, alhoewel hulle Hom nie ken nie en ongeregtigheid beoefen. (Mat.7:22,23)

Daar word vandag nog berig dat mense op wonderbaarlike wyse in antwoord op die gebed genees word, ook van siektes waarvoor die mediese wetenskap geen raad het nie. Dit is haas elke dag by verskillende senders op die televisie te sien, waar mense verskyn wat daarop aanspraak maak dat hulle op die gebed van allerlei kwale gesond geword het.

Die maklikste, en die mees waarskynlike reaksie in die lig van die moderne tydgees, is natuurlik om dit te verwerp as leuens of toneelspel, of te verduidelik dat die mense wat getuig dat hulle genees is, nooit werklik siek was nie. Daar is ook nog 'n minder drastiese verklaring: as hulle nie infame leuenaars is nie, is hulle minstens self mislei, en kan hulle genesing toegeskrywe word aan suggestie, net soos in die geval van troosmedisyne (die Engelse praat van 'n “placebo”). Selfs hipnose mag 'n rol speel. Hulle geloof in 'n Hoër Mag kon miskien die uitwerking hê om spanning en selfs 'n hoofpyn te verlig. En aangesien hulle beter gevoel het, het hulle moontlik ook van ander kwale ontslae geraak. Maar dit, word verduidelik, is slegs die uitwerking van positiewe denke, en geen Hoër Hand is betrokke nie. Daar word ook gewys op die talle siekes vir wie gebid is en wat niks daarby gebaat het nie. Hulle het in rolstoele gekom en is in rolstoele teruggestoot. Maar dit in sigself bewys natuurlik niks, net soos die feit dat baie mense hospitaal toe gaan en nie gesond word nie, niks afdoen aan die feit dat baie gehelp word nie. As iets merkwaardigs werklik plaasgevind het, dra dit niks tot 'n verklaring by om te wys op ander geleenthede toe dit nie plaasgevind het nie.

Die eintlike rede waarom die uitsprake van mense wat sê dat hulle op die gebed gesond geword het, nie aanvaar word nie, is dat dit beskou word as onmoontlik. Daar word selfs onbewustelik gedink aan verskillende grade van moontlikheid. 'n Getuienis van genesing van hoofpyn kan moontlik nog aanvaar word, maar as dit gaan om kanker, is dit 'n ander saak. Die aanspraak wat vir my persoonlik die moeilikste is om te aanvaar, is dat sekere metaalinplantings op gebed in been verander het. Is dit nie darem 'n bietjie baie dik vir 'n daalder nie? In so 'n geval het ons immers te doen met dinge soos elemente en atome. Dit is asof 'n mens se gewilligheid om te glo, tot halt gekom het. Selfs diegene wat die voorkoms van ander genesings aanvaar, mag reken daar word nou darem 'n swaar las op hul geloof gelê.

Aangesien ek nie die saak ter plaatse ondersoek het nie, wil ek my nie uitspreek oor die waarheid van die berig nie. Maar ek wil wel wonder hoe logies so 'n reaksie daarteen is. As iemand glad nie glo dat mense op die gebed genees word nie, is dit natuurlik vanselfsprekend dat hy ook berigte van gevalle waar metaal in been verander, sal verwerp. As hy egter aanvaar dat allerlei kwale op gebed genees word, wie, glo hy, is dit dan wat die genesing bewerk? En as dit Hy is wat oorspronklik die hemel en die aarde geskep het, watter logika is dan daarin om te ontken dat Hy vandag nog tot in die atome kan ingryp? Wie kan vir Hom sê: “Tot hiertoe en nie verder nie. Destyds wel, maar nie nou nie”?

Vir diegene wat ontslae geraak het van die oortuiging dat afstand in die ruimte of die tyd die onmoontlike moontlik maak, is daar net 'n keuse tussen twee konsekwente standpunte. Die een is dat dit ewe moontlik was vir elemente om destyds en tans te ontstaan. Die ander een is dat dit ewe onmoontlik was.

Maar hoe het hulle dan oorspronklik ontstaan?

Ek het so 'n gevoel dat ons oor hierdie saak nog glad nie uitgepraat het nie. Maar ons kan ongetwyfeld verder daaroor ondersoek instel en dink.

Sy woorde

Maar alhoewel Jesus verwag het dat mense die inhoud van sy woorde moes glo op sterkte van die wonderwerke wat Hy verrig het, is dit duidelik dat sy woorde in sigself mense geensins minder beïndruk het as sy dade nie.

Selfs toe Jesus nog net twaalf jaar oud was, was “almal wat Hom gehoor het ... verbaas oor sy verstand en sy antwoorde.” (Lukas 2:47) By 'n sekere geleentheid is die tempelwagte gestuur om Hom in hegtenis te neem, maar hulle het sonder Hom teruggekom. As rede vir hul versuim het hulle nie die feit genoem dat Hy wonderwerke verrig nie, maar eerder: “Nooit het 'n mens gespreek soos hierdie mens nie.” (Joh. 7:46) Lukas deel ons mee dat die skare by Hom aangedring het om die woord van God te hoor. (5:1) En dan was daar die merkwaardige geleentheid toe baie van sy volgelinge Hom verlaat het, en Hy voorgestel het dat sy dissipels dit dalk ook wou doen. Dit was toe dat Simon Petrus die baie verbasende wonderwerke waarvan hy ooggetuie was, oor die hoof gesien het, en geantwoord het: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.” (Joh. 6:68) Die uitwerking wat die wonderwerke op Petrus gehad het, kan nie ontken word nie, vanaf die groot vangs van visse wat hulle op die bevel van Jesus gemaak het, (Lukas 5:1-10) en met insluiting van die opwekking van dooies. En tog, toe hy 'n rede moes gee vir sy gehegtheid aan sy Meester, het Petrus eerder aan sy woorde gedink. Dit was woorde van die ewige lewe wat hy nêrens elders aangetref het nie – nie by die Joodse leermeesters nie, en ook nie by die Romeine of die Grieke of enige ander nasie nie. Selfs al kon hy moontlik nie presies verduidelik waarom hulle so 'n kragtige uitwerking op hom gehad het nie, het hy op een of ander manier iets in hulle aangevoel wat saamgehang het met sy diepste behoeftes.

Baie leermeesters het rondgegaan en allerlei dinge verkondig. En tog het die mense besef dat Jesus nie gewone woorde verkondig nie. Een van die eerste dinge wat Markus ons omtrent Hom vertel, is: “En hulle was verslae oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie.” (Markus 1:22)

Wanneer mense 'n priester of 'n Fariseër in sy ampsklere gesien het, het hulle min of meer geredeneer: “Hierdie is iemand met godsdienstige status, dus moet sy woorde ernstig opgeneem word. As hulle ons nie beïndruk nie, lê die fout ongetwyfeld by ons, want hulle word uitgespreek deur 'n hooggeplaaste.” Die status van die spreker het krag aan die woorde verleen. Maar nou het presies die omgekeerde gebeur. Hier was Iemand wat die meeste mense nie geken het nie, en diegene wat Hom wel geken het, het eintlik nog minder agting vir Hom gehad, want hulle het Hom herken as die seun van die plaaslike skrynwerker, en sy familielede het almal tussen hulle gewoon. In hulle oë het Hy geen status besit wat gesag aan sy woorde kon verleen nie. En tog, wanneer Hy gepraat het, kon hulle nie ophou luister nie. In plaas daarvan dat die Spreker se status krag aan sy woorde gegee het, het die trefkrag van die woorde status aan die Spreker verleen.

Wat Paulus later van homself gesê het, was ook van toepassing op hierdie rond-gaande Leermeester: “Deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan.” (2 Kor. 4:2) Dit wil voorkom asof Paulus nie welsprekend was nie, en dat sy geskrifte meer indruk-wekkend was, want mense het gesê: “Die briewe ... is wel gewigtig en kragtig, maar die persoonlike teenwoordigheid is swak en die woord niks werd nie.” (2 Kor. 10:10) Hy het nie homself aanbeveel met geloofsbriewe wat aan hom status kon verleen of wat die aandag van sy luisteraars kon verseker nie. Selfs as hy dit sou doen, is dit moontlik dat niemand hom sou glo nie, net soos ons skaars beïndruk sou word deur 'n onaansienlike vreemdeling wat aan die deur klop en homself voorstel as 'n kabinetsminister. Maar sonder om veel oor homself te sê, en sonder om sy luisteraars aan sy lippe te laat hang, het Paulus die waarheid aan die lig gebring, en baie mense het dit as die waarheid herken.

As iemand nog 'n voorbeeld verlang van 'n onindrukwekkende leermeester wie se woorde krag gehad het, dink aan die man wat voor Jesus uitgegaan en Hom aan die mense bekend gestel het as die Lam van God, naamlik die voormelde Johannes die Doper. Daar is iets treffends in die uitwerking wat hy op een spesifieke man gehad het, naamlik Herodes. Stel u voor dat die magtigste man in die land gekonfronteer word deur 'n ongeslypte vent wat geen status in die samelewing het nie, geen besittings nie, geen invloedryke vriende nie, en wat lewe op sprinkane en wilde heuning. Herodes het alle rede gehad om 'n afkeer teen Johannes te koester, want hy het nie doekies om die feit gedraai dat die koning in sonde gelewe het met sy broer se vrou nie. Herodes het hom dan ook in die tronk gestop. Maar dan berig Markus iets merkwaardigs, naamlik: “Herodes was bang vir Johannes, omdat hy wis dat hy 'n regverdige en heilige man was, en hy het hom beskerm.” (6:20) Selfs dit kan dalk nog verklaar word. Maar hier is die verbasende deel: “en hy het ... graag na hom geluister.” Die hulpelose bandiet het die magtige heerser berispe en hom hewig ontstel, en tog het laasgenoemde graag na hom geluister! Waarom sou dit wees? Waarom sou 'n koning dit geniet om deur 'n pennielose vent kortgevat te word? Ongetwyfeld het die koning dikwels lofuitinge ontvang van opportuniste en kruipers. Maar diep in sy hart het hy geweet daar was een man in sy koninkryk wat nie vir hom sou lieg nie. Sy verlange na die werklikheid is geroer deur hierdie man se woorde. En aangesien iets binne-in hom behoefte gehad het aan die werklikheid, het hy graag na Johannes geluister. Ongelukkig was daar ander dinge waarvoor hy nog liewer was.

Wat gegeld het vir Paulus en Johannes die Doper, was nog baie meer toepaslik op die woorde van Jesus. Beide sy dade en sy woorde was bedoel om mense te oortuig. Van sy eie woorde het Jesus gesê dat hulle gees en lewe is, (Joh. 6:63) dat hulle deur die Vader aan Hom gegee is, (Joh. 17:8) en dat hulle langer sou duur as die hemel en die aarde. (Mark. 13:31) Hy het ook aan sy dissipels belowe dat, as sy woorde in hulle bly, hulle gebede beantwoord sou word. (Joh. 15:7)

Ek sou my nie daaraan waag om te probeer om 'n volledige verduideliking te gee van die krag in Jesus se woorde nie. Dit mag een van daardie dinge wees wat mense nooit volkome kan verstaan nie. Jesus het gesê: “My skape luister na my stem,” (Joh. 10:27) en hierin mag daar 'n diepe geheimenis opgesluit lê. En tog kan ons op 'n paar dinge omtrent die woorde van Jesus let wat ongetwyfeld daartoe bygedra het om die mense van sy betroubaarheid te oortuig.

.

Samehorigheid

Polkinghorne ('n fisikus sowel as 'n priester) maak 'n belangrike stelling in verband met die wetenskap en die teologie: “Uiteindelik moet elkeen sy aanspraak op kontak met die werklikheid verdedig met 'n oproep op die samehorige verstaanbaarheid (“coherent intelligibility”) wat dit bereik deur sy insigte.” (bls. xii) Met ander woorde, as 'n boodskap 'n verenigde geheel vorm wat verstaan kan word, dra dit meer oortuiging as wanneer daar aangedui kan word dat dit homself weerspreek of selfs maar net uit onverbonde gedeeltes en loshangende flenters bestaan. Dit geld nie slegs vir 'n getuienis in 'n geregshof nie, maar op elke gebied van ons ondervinding. Pannenberg sê: “Die hoogste mate van werklikheid behoort aan dit wat die eenheid bevorder van al die werklikheid wat ons kan ondervind.” Die mens, die integreerder, vind dat sy geloof gestimuleer word deur 'n geïntegreerde en samehang-ende boodskap. Deste meer as hierdie boodskap ook kan integreer wat hom pynig met sy disintegrasie. So 'n integrasie kan dikwels so diep ondervind word, dat dit moeilik is om in woorde uit te druk.



Stap vir stap vanaf die bekende.

'n Bekwame onderwyser besef dat sy inligting in 'n sekere volgorde aan sy leerlinge gebied moet word. “Van die bekende na die onbekende,” lui 'n beproefde beginsel, en “van die konkrete na die abstrakte.” As iemand bewus was van die belangrikheid van hierdie beginsel, dan was dit Jesus.

Nie alleen het die lering van Jesus oor hemelse dinge gevolg op wat Hy self oor aardse dinge gesê het nie, maar daar is reeds opgemerk dat sy hele sending voorafgegaan moes word deur dié van 'n ander man, naamlik Johannes die Doper. Jesus het van hom gesê dat geen mens wat uit 'n vrou gebore is, groter was as hy nie. (Matt.11:11) Dit behoort as 'n aansporing te dien om goed te kyk wat Johannes as sy roeping beskou het, naamlik “Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit.” (Lukas 3:4) Hoe het hy dit gedoen? Deur mense aan te sê om na hulself te kyk en bewus te word van hul sondes. Dit is waarom daar 'n belydenis van sondes moes wees. (Matt. 3:6) Aan die positiewe kant het hy sosiale betrokkenheid gepreek. Klere en kos moes met die behoeftiges gedeel word, daar moes geen oneerlike wins, geweld en valse beskuldigings of ontevredenheid met besittings wees nie. (Lukas 3:10-14) Deur hierdie dinge te leer was Johannes besig om die weg vir die Here te berei. Maar let daarop dat sy hele boodskap in verband met die lewe hier op aarde gestaan het. Johannes het min “hemelse dinge” gepreek. Maar sy boodskap was 'n voorbereiding daarvoor. Deur mense te leer dat hulle siek is het hy hulle voorberei vir die groot Geneesheer, wat hy ook bevoorreg was om aan te kondig toe hy gesê het: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Joh. 1:29)

Iemand mag verkondig dat sekere kerngedagtes eers later in sy loopbaan by Jesus opgekom het; en hy mag dit probeer staaf deur daarop te wys dat Hy hulle nie vroeër uitgespreek het nie. Maar is dit die enigste verklaring? Is dit nie ewe moontlik dat Hy hulle wel vroeër uitgespreek het, maar dat hulle net nie opgeteken is nie? Maar nog belangriker: het Hy hulle nie doelbewus van sy volgelinge weerhou totdat Hy gereken het hulle is ryp om hulle te ontvang nie? As 'n onderwyser iets eers in November aan sy leerlinge leer, beteken dit dan dat hy dit self nie in Februarie geweet het nie? “Ek het julle dit nie van die begin af gesê nie,” het Jesus gesê, “omdat Ek saam met julle was.” (Joh. 16:4) En selfs op daardie stadium het Hy gesê: “Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie.” (:12)


Diepte.

Die menslike gees word soms vergelyk met 'n ysberg, wat enorm mag voorkom, alhoewel die seksie wat ons sien slegs 'n klein deeltjie van die geheel uitmaak. En net so, word beweer, is mense se bewuste emosies en begeertes slegs 'n klein deeltjie van wat binne-in hulle aangaan. Onder die emosies wat waargeneem word is daar prosesse en spanninge wat hulle aard bepaal. Daar word gesê ons weet baie min van iemand deur net waar te neem wat hy sê en doen. Ons moet veel dieper kyk. Mense mag op 'n manier optree wat hul vriende verbaas. Selfs kinders mag gedrag openbaar wat hulle ouers glad nie kan verduidelik nie. Maar dan wys 'n sielkundige daarop dat sulke gedrag dieper wortels mag hê, byvoorbeeld 'n begeerte om aandag te trek of om wraak te neem op hul ouers of wat ookal.

God kyk ook diep in die mens se hart. Reeds in die Ou Testament vind ons 'n baie duidelike stelling van hierdie beginsel. God het Samuel gestuur om een van Isai se seuns as koning te salf. Maar Isai het agt seuns gehad. Vanselfsprekend het Samuel eerste die oudste een oorweeg. “Toe hulle inkom en hy Elíab sien, dink hy: ‘Gewis, hier staan voor die Here sy gesalfde.’ Maar die Here sê vir Samuel: ‘Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die mens sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.’” (1 Samuel 16:6,7)

Jesus het ook duidelik verklaar dat, terwyl die mens na die uiterlike kyk, God die hart aansien. Hy het gesê dat die weduwee wat twee koper muntstukkies aan die tempel gegee het, inderdaad meer gegee het as die rykes wat uit hul oorvloed bygedra het. (Markus 12:41-44) Hy het nie alleen die geld gesien wat hul in die kissie gegooi het nie, maar ook die geld wat hul tuis en in die bank gehad het. En Hy het ook die gesindheid van hulle harte raakgesien. Hy het nie net gevra: “Wat doen hulle?” nie, maar “Waarom doen hulle dit?”

Mense het die godsdienstige leiers van daardie dae raakgesien, en hulle het ook die ooglopende sondaars gesien. Hulle het eersgenoemdes geprys en laasgenoem-des verdoem. Maar wat het Jesus gesê? Hy het gesê die godsdienstige leiers was soos mense wat die beker buitekant van skoonmaak maar die binnekant vuil laat, en soos grafte wat van buite mooi lyk maar van binne vol doodsbene is. (Matt. 23:25-28)

Wanneer Jesus gepraat het, het mense besef dat sy woorde na diep werklikhede verwys, en baie luisteraars kon hulle nie verontagsaam nie. Hulle het hulle òf aangeneem òf kwaad geword.

Een van die mees indringende dinge wat Jesus gesê het wat sy diep kennis van die mens bewys, word gevind in Matteus 11:29: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele.”

Het hier nie 'n fout ingeglip nie? Wanneer 'n juk op 'n os geplaas word, kan hy tog seker werk verwag, en nie rus nie. Hoe kon Jesus rus belowe wat kom deur 'n juk op te neem? Maar wat die mens se siel nodig het, is om betekenis in die lewe te vind. (Dit is die kern van Viktor Frankl se bydrae tot die kennis van die mens.) En een van die sekerste maniere om dit te vind, is deur 'n betekenisvolle taak te verrig. Kreatiwiteit was die enigste ding wat vir Berdyaev verligting van angs besorg het. Hoe het Jesus sy eerste dissipels oorreed om hul werk te los en Hom te volg? Hy het aan hulle 'n meer betekenisvolle taak gebied. Hy het aan hulle gesê: “Kom agter My aan, en Ek sal maak dat julle vissers van mense word.” (Markus 1:17).

Hy het nie gesê die werk waarmee hulle besig was, is waardeloos nie. Inteendeel, Hy het hulle gehelp om dit meer effektief te doen deur te sê waar hulle die nette moes uitgooi. Maar toe het Hy vir hulle selfs 'n beter taak aangebied. Hy het hulle diepste behoefte aangespreek. Jesus het hulle gehelp om hul werk as vissers te doen deur vir hulle te sê “Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang.” (Lukas 5:4) Het Hy bedoel sy raad oor visvangs moes dien as 'n gelykenis wat toegepas moes word op hul werk in sy diens, en het die diep water 'n simboliese betekenis? Wat die geval ook mag wees, weet ons dat Jesus weer diepte beklemtoon het, byvoorbeeld toe Hy gepraat het van die binnekant en die buitekant van die beker,(Matt. 23:25) waar Hy beskrywe het hoe die saad op die rots verskroei het omdat dit geen diep grond gehad het nie, (Matt. 13:5) en toe Hy die verhaal vertel het van die bouer wat “diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het.” (Lukas 6:48)

Die luisteraars wat verneem het dat die mens nie onrein gemaak word deur wat in hom ingaan nie, maar deur wat uit sy hart uitkom, (Matt. 15:18) kon inderdaad getuig: “Sy woord is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dit dring deur tot die skeiding van siel en gees en gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” (Heb. 4:12) Dit het tot in die diepte van die siel ingedring.

Selfs sy wyse van aanbieding het getuig van die waarheid van die woorde “omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is.” (Joh. 2:25) Alhoewel Hy nie abstrakte terme heeltemal vermy het nie, het Hy geweet dat simboliek en verhale die menslike hart roer waar abstraksies kragteloos is. Gestel dat Jesus, toe die skrifgeleerde Hom gevra het: “En wie is my naaste?” (Lukas 10:29) sou geantwoord het: “Enige behoeftige mens wat jou pad kruis, afgesien van sy nasionaliteit.” Hoe sou dit vergelyk het met die impak wat die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan tot vandag toe uitgeoefen het? “Moraliteit in terme van abstrakte teorie het 'n koue en beperkte belang,” verduidelik Badham, “maar Jesus het dit verhelder deur dit in die lewens van mense te wys.” (blss.42,43)

Die essensiële.

Integrasie beteken nie maar net dat 'n skeppie van elke deel van die menslike bestaan geneem en dan saamgeklits word nie. Dit sou wees soos om 'n koek te bak met een koppie meel, een koppie geursel, een koppie bakpoeier en een koppie sout.

'n Groot deel van die mens se angs is die gevolg daarvan dat hy oordrewe waarde toeskryf aan dinge van bykomstige belang en die meer gewigtiges verwaarloos. So 'n persoon se prioriteite is in 'n warboel.

Veronderstel 'n kind het 'n vratjie op sy vinger, en hy het ook longontsteking. Hy is baie siek met 'n hoë koors. Wat sou ons dink van sy pa as hy baie moeite doen om die vratjie verwyder te kry, terwyl hy die gevaarlike siekte wat sy kind se lewe mag kos, totaal oor die hoof sien?

Toe Jesus op aarde was, het Hy mense aangetref wat baie duidelik in sonde gelewe het. Almal het dit geweet, en die sondaars het dit self ook geweet. Daar was die tollenaars wat belastings vir die Romeine ingevorder het en mense bedrieg het deur meer te eis as wat hulle moes en deel van die geld te hou. En daar was die prostitute, die vrouens wat onsedelike lewens gevoer het ter wille van geld. Almal het geweet dat hulle in sonde lewe. En tog het Jesus hierdie merkwaardige woorde aan die godsdienstige leiers gerig: “Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God.” (Matt.21:31)

Die Fariseërs het selde iets gedoen wat in die oë van die mense verkeerd was. Hulle het baie hard probeer om die wet van God te hou. Nou waar het hulle dan ontspoor geraak? Hulle het gedwaal deur minder belangrike dinge te beskou as die belangrikste. Hulle het nie slegte dinge behandel as goeie dinge nie, maar hulle het klein goeie dingetjies behandel as die grootste goeie dinge. Hulle prioriteite was verkeerd. Hulle was soos die pa wat hom kwel oor die kind se vratjie maar die longontsteking verwaarloos. Luister na hierdie woorde in Matteüs 23:23: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat. Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk!”

Hierdie mense het baie groot waarde geheg aan baie klein sakies, maar hulle het die meer belangrikes verontagsaam, “die swaarste van die wet.” As hulle twee hande vol kruie geoes het, sou hulle dit sorgvuldig in tien dele verdeel en een deel aan God gee, maar die reg en die barmhartigheid en die trou kon hulle weinig skeel. Jesus het nie gesê hulle doen verkeerd as hulle tien persent van die kruie gee nie, net soos Hy nie gesê het hulle moet muggies insluk nie. Hy het gesê, “Hierdie dinge moet julle doen.” Maar wat Hy beklemtoon het, is dat hulle hul gewetens gestreel het met hierdie klein dingetjies, terwyl hul ander sake verwaarloos het wat baie belangriker was. Dit is waarom Hy hulle gevra het: “Wat is belangriker?” Let op die volgende aanhaling uit Matt. 23:16-19:


Wee julle, blinde leiers, julle wat sê: Elkeen wat sweer by die tempel – dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die goud, of die tempel wat die goud heilig? En: elkeen wat sweer by die altaar – dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die gawe daar bo-op, hy is gebonde. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die gawe, of die altaar wat die gawe heilig?



Ons vind ook 'n goeie voorbeeld van die vraag “Wat is meer?” waar Jesus met die Samaritaanse vrou gepraat het. Sy het Hom gevra of die regte plek om te aanbid in Jerusalem was of op die berg in Samaria. In plaas daarvan om te sê wat die regte plek is, het Hy haar vertel dat 'n tyd sou kom wanneer hulle nie in een van die twee plekke sou aanbid nie. Met ander woorde, die plek is totaal onbelangrik. Aan die ander kant het Hy gesê die Vader soek mense wat Hom “in gees en in waarheid” aanbid. Die gesindheid is fundamenteel, en beide diegene wat daarop aangedring het dat Jerusalem die plek was om te aanbid, en hulle teenstanders wat gesê het dit was die berg, was besig om muggies uit te sif en kamele in te sluk.

Jesus het nie net vir die mense vertel “Hierdie dinge is reg en daardie is verkeerd” nie, maar Hy het ook gesê: “Hierdie dinge is minder belangrik as daardie, en dit is verkeerd om op die minder belangrikes te konsentreer ten koste van dié wat belangriker is.” En Hy het mense ook vertel wat die belangrikste ding is om te doen: “Maar soek eers die koninkryk van God, en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt.6:33)



Ongeag status.

Een ding wat mense getref het omtrent die woorde van Jesus, is dat Hy hulle nie aangepas het om mense te behaag nie. Een van die godsdiensleiers het onomwonde gesê: “Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van die mense aan nie.” (Matt.22:16)

Hierdie godsdiensleiers was nie eerlik in hul voornemens nie, want hulle plan was om Jesus in sy woorde vas te vang. En tog het hierdie man die suiwere waarheid gepraat: Jesus het Hom nie laat beïnvloed deur mense se status nie. Hy het nie sy boodskap aangepas om die hooggeplaastes te behaag nie. Dink aan die ryk jong man wat na Jesus gekom het, en aan wie Hy gesê het hy moet al sy besittings verkoop en aan die armes gee. Hy het nie geredeneer: “Dit is goed om ryk vriende te hê, dus sal ek dit 'n bietjie makliker maak vir die jongman” nie. Toe Hy sy dissipels gekies het, het Hy hulle uit die onindrukwekkende vissers gekies. Hy het 'n groot preek aan Nikodemus gelewer, wat 'n belangrike man was, maar Hy het ook 'n groot preek aan die Samaritaanse vrou gelewer.

Maar moontlik nog die allerbelang-rikste: Hy is nie beïnvloed deur groot getalle mense nie. Dit is een ding om dapper stellings te maak voor 'n simpatieke gehoor, en heeltemal iets anders om hulle te maak in die geselskap van 'n paar mense wat indringende vrae stel. Hoe het Jesus teenoor skares opgetree? Ons lees dikwels: “En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle”. (Matt.9:36) Hy het nie 'n skare gesien as volgelinge wat tot massa-histerie aangevuur moet word nie. Hoeveel sprekers van ons dag is jammer vir die skares wat hulle die geleentheid het om toe te spreek?

Het Jesus ooit die ondersteuning van 'n skare gehad? Daar was ongetwyfeld een dag toe Hy 'n skare tot een of ander soort handeling kon oproep as Hy wou. Hy kon hulle moontlik selfs aangevuur het om teen die Romeine te rebelleer. Baie mense het ongetwyfeld net gewag op so 'n oproep van Hom. Hy was op pad na Jerusalem op 'n donkie, en die mense het geskreeu: “Hosanna!” en het hul klere voor die rydier se pote gegooi. As Hy ooit 'n kans gehad het om 'n bevel te gee, dan was dit nou! Maar wat vind ons dat Hy op die donkie doen? Ons vind Hom in trane. “En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek.” (Lukas 19:42)

Min eienskappe wat van Jesus berig word, bied so 'n diep openbaring van sy kennis van die mens, as sy medelye. Matteüs skryf: “En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie.” (Matt.9:36) En wanneer Hy vir mense jammer was, was daar drie dinge wat Hy gedoen het: Hy het die siekes gesond gemaak,(Matt. 14:14; 20:34) hulle gevoed (Matt. 15:32 – 38) of hulle baie dinge geleer.(Mark. 6:34)

Jesus het dikwels skares toegespreek, maar wanneer Hy hulle tot aksie opgeroep het, was dit individuele aksie. Ook in sy lering het hy individue nie oor die hoof gesien nie. Sommige van sy groot preke is aan skares gerig, maar sommige van die mees beroemdes is gelewer aan klein groepies of selfs individue, soos Nikodemus en die Samaritaanse vrou.


Kinders in die gehoor.

Nie alleen het Hy kinders verwelkom toe sy dissipels hulle wou verdrywe nie, (Matt.19:13,14) maar Hy het bygevoeg dat die koninkryk van God aan hulle behoort, en dat diegene wat daar wou ingaan, soos hulle moes word. (Matt.18:3) Milan Machoveč sê in hierdie verband:



Die kind as voorbeeld – dit is inderdaad iets heeltemal nuuts in die geskiedenis van die godsdiens en eintlik ook in die geskiedenis van die kultuur. Voor Jesus het dit nooit êrens op aarde gebeur dat kindertyd voorgehou is as 'n menslike voorbeeld nie. As die beeld van 'n kind voor Christus in die literêre dokumente van Asië en Europa verskyn, dan is dit altyd as iets onvolledigs, gevolglik tweedeklas, en onbelangrik ten opsigte van menslike waardes. (bls.117)


Die rede waarom die kind deur Jesus as 'n voorbeeld voorgehou is, is dat hy meer ontvanklik is vir “die een ding wat nodig is” eerder as die “baie dinge” waarna in Lukas 10:41 verwys word. (bls.118) Dit is nie 'n geval dat die onvolwassene bejammer word nie, maar dit gaan oor “die behoefte van elke ten volle volwasse mens om weerstand te bied teen die neigings van die egoistiese klassebelange of die beskawing met al sy fetisje, wat so nadelig is vir die mense.” (bls. 120) Emil Brunner noem Jesus “die ontdekker van die kind,” en verduidelik:

Die kind is inderdaad absoluut menslik, menslik sonder enige bykomende kwaliteit, sonder prestasie wat een mens van 'n ander onderskei. Gevolglik is die kind vir Jesus die naaste illustrasie ... van die ware houding van die mens teenoor God.”(bls. 367)


Hoe kan hierdie eer vir die kind gerym word met die vereiste dat God met die hele verstand bemin moet word, met Paulus se aanmaning “moenie kinders wees in die verstand nie, maar wees kinders in die boosheid en wees volwassenes in die verstand” (1 Kor. 14:20) en met Petrus se aansporing: “omgord die lendene van julle verstand”? (1 Petrus 1:13) Die vraag hoe 'n volwassene kan verander en soos 'n kind kan word, herinner aan die probleem van Nikodemus toe hy gehoor het dat hy weergebore moet word. In watter opsig kan 'n volwassene soos 'n kind word? Sou dit nie beteken dat hy gewillig moet wees om alles op gesag te aanvaar en homself weerloos te stel teen al die vorme van bedrog wat die rondte doen nie? Een kenmerk van 'n kind is tog dat hy maklik mislei word. En Jesus self het gesê: “Pas op dat niemand julle mislei nie.” (Matt. 24:4) Kon Hy kinders aanbeveel het vir hulle goedgelowigheid? Voeg hierby dat Jesus sekere opdragte gegee het wat geen kind kon gehoorsaam nie en vrae gevra het wat slegs 'n volwassene kon beantwoord.

Hoe kan 'n volwassene dan soos 'n kind word? Hy kan dit doen deur uit te vind dat, ten spyte van die baie dinge wat hy weet, daar talle dinge is wat hy nie alleen nie weet nie, maar wat hy nooit met sy eie pogings kan uitvind nie. Met ander woorde, deur die aanvaarding van sy posisie voor 'n misterie.



Sonder omkopery.

Jesus het nooit die pad van geregtigheid makliker gemaak as wat dit is, om mense te trek nie. Hy het aan almal gesê: “En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.” (Lukas 14:27)

Die hart van Jesus se boodskap is dat Hy verlossing aanbied as 'n vrye gawe. Ons kan dit nie verdien nie, daarom het Hy dit vir ons verdien. Maar ons kan nie 'n geskenk aanneem as ons hande vol ander dinge is nie. En Hy het dit baie duidelik gestel dat ons nie sy gawe kan aanneem as daar dinge is wat vir ons meer werd is nie. Aanvanklik mag dit moeilik voorkom om te aanvaar, maar hoe meer ons daaroor nadink, hoe meer besef ons dat dit logies is. Alhoewel sy woorde dikwels hard mag wees, besit hulle die klank van die werklikheid.



Krag sonder geweld.

Matteüs, met sy besondere liefde vir verwysings na die Ou Testament, sê dat Jesus die profesie van Jesaja vervul het wat lui: “Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie.” (Matt.12:19, Jes. 42:2) Mense wat nie baie seker is van hul eie boodskap nie, skreeu dikwels, of hulle vloek en gebruik ander woorde wat hul luisteraars skok. Verder gebruik hulle soms fisiese geweld om mense te dwing om hul woorde te aanvaar. Daar is sterk boodskappe en swak boodskappe. Die swakkes moet ondersteun word en op verskeie maniere beskerm word. Hulle het behoefte aan skoktaktieke of uitwendige krag om hulle te laat ingaan. Daar is godsdienste en ideologieë wat sterk op militêre mag vertrou het of nog vertrou. Selfs mense met wanopvattings oor die Christelike Evangelie het somtyds geweld gebruik om hul siening daarvan te versprei of om 'n oorstappery na iets anders te verhinder.

Jesus het geglo in die inherente krag van sy boodskap. Hy het nooit op enige manier te kenne gegee dat geweld gebruik moes word om dit te versprei nie. Toe Hy voor Pilatus verskyn het, het Hy gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie.” (Joh. 18:36)

Voordat Hy na Getsemane gegaan het, het Hy gesê sy dissipels moet swaarde koop, maar toe hulle Hom meedeel dat daar twee swaarde is, het Hy gesê: “Dit is genoeg.” (Lukas 22:38) Nou elkeen het tog seker geweet dat twee swaarde nie genoeg is om weerstand te bied teen dié wat Hom sou kom gevange neem nie, veral in die hande van vissers wat ongetwyfeld selde tevore 'n wapen gehanteer het. En verder, toe Petrus begin veg, het Jesus gesê: “Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.” (Matt.26:52)

Waarom wou Jesus dan hê hulle moes die twee swaarde neem as hulle dit nie moes gebruik nie? Moontlik is die antwoord presies dit: dat Hy hulle wou wys dat die swaarde nie in sy diens gebruik moes word nie. As hulle ongewapend was, kon hulle na die tyd gesê het: “Ag, as ons net swaarde gehad het!” Maar nou het Hy hulle gewys dat, selfs as swaarde beskikbaar is, hulle nie in sy diens gebruik moet word nie. Die krag van die Evangelie lê in homself. Toe Jesus die sewentig dissipels uitgestuur het, het Hy gesê: “Kyk, Ek stuur julle soos lammers onder wolwe.” (Lukas 10:3) Deur die eeue sedertdien, en veral in ons eie tyd, is menigtes skape deur die wolwe uitmekaargeskeur, maar die boodskap gaan steeds voort. En Jesus het van Homself gesê: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.” (Joh. 12:24)

Jesus het selfs daarteen gewaarsku om 'n eed te sweer om woorde te versterk. Daar was mense wat geleer het dat sekere ede bindend is en ander nie. (Matt. 23:16-18) Jesus het dit blinde dwaasheid genoem (:17) en gesê niks meer is nodig as “ja” en “nee” nie. (Matt. 5:34-37)

Daar is een voorval in die evangelies wat die indruk mag skep dat Jesus wel geweld gebruik het om sy boodskap oor te dra, naamlik die gebeurtenisse wat plaasgevind het toe Hy die geldwisselaars en hulle kliënte uit die tempel verdryf het. En tog is daar iets baie merkwaardigs omtrent hierdie voorval. Kan 'n mens jou voorstel dat 'n hele groep hardgebakte sakemanne plus hul kliënte 'n enkele man met 'n sweep toelaat om hul tafels om te keer en hulle uit die plek te verjaag waar hulle jare lank reeds bedrywig was? Wat sou by 'n straatmark in 'n dorp gebeur as 'n enkeling met 'n sweep sou opdaag en probeer om die verkopers uit hul poste te verdryf? Dit is wel moontlik dat die verkopers bang was vir die skare as hulle Hom sou teenstaan, maar ek dink daar is nog iets anders op die spel. Dit wil voorkom asof die verklaring van sy sukses was dat sy handeling grootliks simbolies van aard was. Die krag wat hulle oorweldig het, was nie in sy handelinge geleë nie, maar in die woorde wat Hy gespreek het en die aanhaling uit die Skrif: “Is daar nie geskrywe: my huis moet 'n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak.” (Markus 11:17) Jesus se woorde het ingedring, en dié wat hulle gehoor het, het sy gesag gewaar. Moontlik het hulle selfs skuldig gevoel. Maar dit is nie omdat sy dade krag by sy woorde gevoeg het nie – eerder andersom.

Selfopenbaring.

Toe Jesus as 'n suigeling na die tempel geneem is om besny te word, het die gryse Simeon sekere profesieë omtrent Hom uitgespreek. “Kyk, hierdie kind is bestemd tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word,” het hy gesê, “sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.” (Lukas 2:34, 35)

En inderdaad het Jesus geblyk 'n Openbaarder van mense se dade en die gedagtes van hul harte te wees. “Kom kyk 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het,” het die Samaritaanse vrou aan haar vriende gesê. (Joh. 4:29) Deur haar eie verlede aan haar te openbaar, en deur selfs vir haar te vertel presies hoeveel mans sy gehad het, het Jesus haar oortuig dat sy kennis buitengewoon was. In dieselfde trant het Paulus later gesê dat as 'n ongelowige in 'n vergadering inkom waar die gawe van profesie tot sy reg kom, “kom die geheime van sy hart aan die lig. En so sal hy op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is.” (1 Kor.14:25)

Hierdie openbarings het nie altyd die vorm van stellings aangeneem nie. Hulle het dikwels verskyn as vrae, en veral belangrik is die gevalle waar Jesus die vraag “waarom?” gevra het.

Daar was selfs mense wat bang was om hierdie vraag gevra te word en wat probeer het om dit te ontduik. Toe Jesus die Fariseërs gevra het waarvandaan Johannes die Doper sy gesag gekry het, is hulle in 'n dilemma vasgevang. Hulle was te lugtig vir die bevolking om te sê dat dit van mense afkomstig was, maar aan die ander kant was hulle bang om te sê dit het van God gekom, want dan kon Jesus hulle gevra het waarom hulle hom dan nie geglo het nie. Hulle het probeer om sy “waarom?” te ontwyk. Dus het hulle maar gesê hulle weet nie.

By geleentheid het 'n ryk jongman in soveel erns na Jesus gekom, dat hy op sy knieë geval en Hom gevra het: “Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” En Jesus het begin deur hom te vra: “Waarom noem jy My goed?” (Markus 10:18) Moontlik het dit die jongman laat wonder: “Inderdaad, waarom beskou ek Hom as goed? Per slot van sake is daar baie ander leermeesters. Waarom val ek dan nie voor een van hulle neer nie? Wat is so goed aan hierdie een? En hoe goed is Hy? Hy is sekerlik goed genoeg om voor neer te val, maar is Hy ook goed genoeg dat ek van my besittings ontslae raak en die res van my lewe aan Hom toevertrou?” En bedroef het hy teen die transaksie besluit.

Tydens Jesus se verhoor voor die hoëpriester was een van die amptenare ontevrede met een van sy antwoorde, dus het hy Hom in die gesig geslaan en gevra of dit die manier is waarop Hy die hoëpriester antwoord. Dit was toe dat Jesus hom gevra het: “As Ek verkeerd gespreek het, getuig van die verkeerdheid; maar as Ek reg gespreek het, waarom slaan jy My?” (Joh. 18:23) Baie mense het Jesus daardie dag geslaan, maar ons lees nie dat Hy met enigeen van hulle gepraat het nie, behalwe hierdie man. Hy was inderdaad bevoorreg, want as hy die vraag opgevolg het, kon dit hom gelei het tot die ontdekking van werklikhede omtrent homself. As hy sou vra: “Waarom het ek Hom geklap eerder as om aan te dui wat Hy verkeerd gesê het?” kon hy uitgevind het dat hy baie onseker was van homself, en dat dit die rede was waarom hy geweld gebruik het. Hierdie man het dus 'n kans gekry om homself af te vra waarom hy so opgetree het, en sodoende meer te wete te kom van die werklikheid omtrent homself.

Na sy opstanding het Jesus vir Maria gekry waar sy naby sy graf huil, en Hy het haar gevra waarom sy dit doen. (Joh 20:15) Nou dit is natuurlik 'n vraag wat gewoonlik aan mense gevra word wat huil, maar as Maria op die saak ingegaan het, kon sy iets omtrent haarself geleer het. Watter band was daar tussen haar en die Man in die graf? Hy was geen bloedverwant van haar nie. Waarom was sy dan so ontsteld? Toe Jesus haar naam genoem het, het sy geantwoord met 'n woord wat beteken “Leermeester.” Sy was ongetwyfeld een van diegene wat hulle nie alleen verwonder het aan sy wonders nie, maar wat diep geroer is deur sy woorde. En dit is heeltemal aanneemlik dat die vooruitsig om in die toekoms sy woorde te ontbeer, een van die swaarste laste op haar hart was.

Maar ongetwyfeld die mees bekende en mees dramatiese voorval het later plaasgevind, toe Jesus reeds die aarde verlaat het. 'n Jongman het rondgegaan en die volgelinge van die Nasarener in hegtenis geneem, hulle gedwing om hul geloof af te sweer en hulle in die tronk gegooi. Hy was goed geleerd en 'n toegewyde en uitstaande stryder vir die Joodse godsdiens. Wanneer mense hom gesien het, het hulle ongetwyfeld gesê: “Hier is 'n jongman wat weet wat hy wil hê.” Hy het die indruk geskep van onweifelbare toewyding aan die taak wat hy op homself geneem het. Totdat hy te staan gekom het voor die “waarom?” van die Een wat hy vervolg het. Wat daardie dag op die pad na Damaskus gebeur het, toe hy die stem gehoor het wat hom vra: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” het 'n invloed op die geskiedenis gehad wat nie bereken kan word nie.

Maar 'n stelling is by die vraag gevoeg, naamlik: “Dit is vir jou hard om teen die prikkels te skop.”(Hand. 26:14) Wie anders sou kon raai dat hierdie doelgerigte jongman eintlik in 'n stryd gewikkel was met onsekerheid, en dat daar iets was wat hy hard gevind het? Maar die vraag “Waarom?” en die openbaring van sy innerlike chaos het 'n deel gevorm van 'n visioen wat hom in sy spore laat omdraai het. Die masker is afgeruk van die selfversekerde kampioen, en 'n bejam-merenswaardige worstelaar is aan die lig gebring wat besig was om te veg om ge-dagtes af te weer wat hom mag laat twyfel.

Die lewende en aktiewe woord wat skerper was as enige tweesnydende swaard, het nie alleen ingedring en die gedagtes en houdinge van die hart beoordeel nie, maar het hulle ook aan die lig gebring vir diegene wat gewillig was om hulle die hoof te bied.


Onuitgesproke woorde

Milan Machoveč sê:

Maar idees kan slegs inspireer wanneer hulle in 'n organiese samehang met die mens self staan .... Die “leer” van Jesus het nie die wêreld aan die brand gesteek as gevolg van een of ander duidelike meerder-waardigheid van die teoretiese program nie, maar bowenal aange-sien Hy self identies was met sy program, aangesien Hy self 'n inspire-rende invloed uitgeoefen het. (bls.93)


Ek sou verkies om die woordjie “slegs” voor “as gevolg van” in te voeg, want gewoonlik is inspirasie die gevolg van die samewerking van verskillende faktore. Die “duidelike meerderwaardigheid van die teoretiese program” mag inderdaad wel 'n rol gespeel het, veral by sekere luisteraars. Nietemin is die feit dat Jesus “identies was met sy program” 'n uiters belangrike faktor om op te let. In die heel eerste hoofstuk van sy evangelie verwys Johannes na Jesus as “die Woord.” Hoe kan 'n persoon 'n woord wees? Hy kan 'n woord wees in die sin dat hy 'n boodskap is. En Jesus het daarop aanspraak gemaak dat Hy 'n boodskap was aan sy dissipels, selfs waar Hy nie net woorde gebruik het om sy waarhede aan hul oor te dra nie. Hy het 'n boodskap aan hulle oorgedra deur wat Hy was en wat Hy gedoen het.

In die eerste plek het Hy 'n boodskap aan hulle oorgedra deur 'n voorbeeld te stel. Gedurende die laaste paasmaaltyd, toe elkeen ongetwyfeld gewag het op iemand anders om sy voete te was, het Jesus van die tafel opgestaan en self hierdie nederige taak op Hom geneem. Johannes belig 'n geweldige paradoks hierin, want hy sê waarom Hy dit gedoen het. “Omdat Hy wis dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God uitgegaan het en na God heengaan, (het Hy) van die maaltyd opgestaan en 'n doek geneem en dit om Hom vasgemaak.” (Joh. 13:3) Toe Hy gedink het aan sy onvergelyklike posisie, het Hy Homself verneder en die nederigste taak verrig wat gewoonlik 'n slaaf se lot was. En Hy het dit aan sy dissipels verduidelik: “Ek het julle 'n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.” (:15)

Maar die Lewende Woord het veel meer gedoen as om sy dissipels te wys wat Hy van hulle verwag het. Teen die einde van sy bediening het een van sy dissipels, Filippus, wat selde op die voorgrond getree het, een groot versoek uitgespreek. Hy het so dikwels gehoor dat Jesus van die Vader praat, dat hy een verlange gehad het: “Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” (Joh. 14:8) Die antwoord wat Jesus gegee het was een van die geweldigste aankondigings wat ooit gemaak is: “Ek is so lank al by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.” (:9) Met ander woorde, gedurende die tyd dat hulle Hom gevolg het, het sy dissipels soveel van God gesien as wat enige mens kan verlang om te sien. In sy eerste hoofstuk sê Johannes: “Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (:17) Toe Johannes dit geskrywe het, kon hy moontlik wel Filippus se versoek in gedagte gehad het, want hy sê: “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.” (:18) Hy het Hom bekend gemaak, nie alleen deur wat Hy gesê het nie, maar ook deur wat Hy hulle gewys het. In die boeke van Moses is die wet beklemtoon, maar nou was dit genade en waarheid.

So nou kon sy dissipels daarop aanspraak maak dat hulle iets van God geleer het. Toe hulle gesien het dat Jesus die storm stilmaak, het hulle God aan die werk gesien. Maar ook toe hulle gesien het dat Hy medelye het met die lydendes, die siekes, die blindes, die skares, die moeders met klein kindertjies. Hierin het hul ook God se gesindheid teenoor die mens waargeneem. Maar so ook wanneer Hy die hoogmoediges en die huigelaars tereggewys het. Genade het inderdaad gekom, maar ook die waarheid, selfs wanneer dit aanstoot gee.



Weereens die groot raaisel

Die groot raaisel van die waarneembare werklikheid, het ons reeds besluit, is die mens. In kort kom dit dus daarop neer dat ons moet vasstel of Jesus die mens geken het: eerstens omdat Hy sy boodskap tot mense gerig het, en tweedens omdat die mens die mees ingewikkelde waarneembare item is in die gebied waaroor Hy gespreek het.

Kan ons kontroleer of dit waar is dat Hy die mens geken het? En hoe sou ons dit kon doen, tensy ons self weet wat in die mens is? Al sou ons slegs 'n klein deeltjie weet, mag dit ons help om vas te stel of sy kennis van die meesterstuk bydra om ons te oortuig van sy betroubaarheid.

Dit bring ons terug tot ons bevinding omtrent die ware aard van die mens: dat hy by uitstek 'n integreerder is, en dat dit 'n manier is om bevrediging te verkry vir sy groot verlange wat hom van die dier onderskei, sy verlange na nuutheid.

Ons sou verwag dat 'n Getuie vanuit die uiteindelike werklikheid van hierdie ideaal van die meesterstuk bewus sou wees. Wat meer is, ons sou verwag dat dit baie vir Hom sou beteken, aangesien dit Hy self is wat hulle in sy meesterstuk ingesluit het, en dat dit ook 'n belangrike plek sou inneem in die inhoud van sy boodskap. Wat vind ons dus?


Die Groot Integreerder.

Jesus het gekom en geleef en gesterf vir een uiteindelike doel, naamlik integrasie of vereniging. Verlossing was nodig om mense uit hul gedisintegreerde toestand te lig, maar die finale vooruitsig was dat hulle uiteindelik met Hom verenig sou word.

Hierdie integrasie vind op verskil-lende gebiede plaas. In reaksie op die woorde van die hoëpriester Kajafas, merk Johannes op dat Jesus sou sterf, “nie alleen vir die volk nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot 'n eenheid saam te voeg.” (Joh. 11:52) Toe Jesus die groot gebed vir sy volgelinge gebid het, was sy versoek nie dat hulle lojaal teenoor Hom of getrou aan sy woord moes wees nie, alhoewel dit vanselfsprekend ook in sy gedagte was. Maar die kern van sy gebed was “sodat hulle een kan wees net soos Ons.” (Joh. 17:11) Hy het verder uitgestrek om “die wat deur hulle woord in My sal glo” (:20) in te sluit, en weereens is sy gebed “dat almal een mag wees.”(:21) Paulus neem die tema op wanneer hy die Efesiërs herinner “dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel.” (2:12) Hy gaan egter voort: “Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het ... sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep.” (:13,14,15) Hy het nie slegs mense verenig wat alreeds redelik naby mekaar was nie, dog Hy het spesifiek uitgestrek na dié wat “ver weg” was. Hy het dit ook baie duidelik gestel dat Hy nie gekom het om diegene te roep wat net 'n bietjie afgerond moes word om hulle geskik te maak vir die teenwoordigheid van God nie. Inteendeel, “Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.” (Markus 2:17) En al die integrasie van mense is moontlik gemaak deur die sentrale tema van die Evangelie, naamlik sy opofferende dood waarmee hy God en mens versoen het.

Maar Paulus gaan selfs verder as dit. Jesus het nie alleenlik gekom om eenheid onder mense te skep nie. Die apostel het 'n visie van 'n baie meer insluitende eenheid as hy dink aan die rede waarom Jesus gekom het om op aarde te lewe en te sterwe. “....met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig ...” (Ef. 1:10) “... en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis .... die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.” (Kol.1:20) Dit is 'n punt wat Jürgen Moltmann beklemtoon.


... hierdie eskatologiese visie van Paulus word die indrukwekkende beeld van die kosmiese Christus, deur wie se Wysheid elke ding geskep is, deur wie se bloed elke ding versoen is, en deur wie se verhoging alle dinge saam versamel sal word.” (bls. 194)


Paulus was oortuig “in Hom hou alle dinge stand,” (Kol.1:17) en so 'n uiteindelike konsoli-dasie was “die verborgenheid van sy wil ... wat Hy in Homself voorgeneem het.” (Ef.1:9)

Hoe herken ons 'n verslag as die waarheid? Een oorweging is altyd of die verskillende dele 'n eenheid vorm sonder om mekaar te weerspreek. Hierdie eenheid mag blyk uit die verslag se “organiese samehang met die mens self,” soos Machoveč dit stel, of deur Polkinghorne se “samehangende verstaanbaarheid.”

Integrasie op baie gebiede sou die uiteindelike gevolg daarvan wees om Jesus aan te neem en sy gebooie te gehoorsaam. Dit was nie slegs die gevolg van sy woorde nie, maar boweal van wat Hy gedoen het, naamlik om aan die kruis te sterwe. Maar dit mag lei tot die vraag of daar, benewens die langtermyn integrasie wat die gevolg was van die aanvaarding van sy woorde, ook 'n meer onmiddellike integrerende uitwerking was wat mense ondervind het as hulle dit aanhoor, en of dit 'n bydrae gelewer het om hulle te oortuig van sy gesag. Het sy woorde 'n kleiner onmiddellike integrasie teweeggebring wat hulle oortuig het dat hulle Hom kon vertrou met die allesinsluitende integrasie wat Hy belowe het om te bewerkstellig?

Dit was ongetwyfeld by baie geleenthede die geval, maar die onmiddellike integrerende uitwerking van Jesus se woorde is selde of ooit meer treffend geïllustreer as in die gebeurtenis toe twee van sy volgelinge op pad was na Emmaus en 'n Vreemdeling by hulle aangesluit het. Hierdie twee mense het hulle hele lewe in flarde gevind. Aan die een kant was hulle Jode wat 'n Messias verwag het wat hulle kon verlos van hul aardse vyande, wat van tyd tot tyd verskil het, maar wat op daardie tydstip die Romeine was. Aan die ander kant het hulle Jesus innig liefgehad, en hulle het geglo dat Hy die een was wat die onderdrukkers uit die land sou verdryf. Hulle het 'n netjiese skema gehad waarin hulle Hom gerieflik kon inpas. Maar nou wou dit voorkom asof Hy heeltemal daar uitgeval en in die graf verdwyn het. En hier ontmoet hulle nou 'n man wat nie alleen 'n vreemdeling is nie, maar blykbaar ook 'n baie oningeligte een wat onbewus is van die dinge wat kort tevore in Jerusalem plaasgevind het. Verder was Hy nie baie taktvol nie, want Hy noem hulle “onverstandiges, met harte wat traag is om te glo ...” (Lukas 24:25) Daar was niks wat Hom by hulle aanbeveel het nie. En tog, as hulle na Hom geluister het, was hulle harte “brandende in hulle.” (:32)

Wat het hierdie woorde dan gedoen? Hulle het die versplinterde wêreld van die twee volgelinge herstel deur te bewys dat Jesus wel in die belofte van die Messias gepas het, maar dat dit nie gebeur het op die wyse wat hulle verwag het nie. Vir die eerste keer het hulle ingesien dat sy oorwinning deur lyding moes kom. “Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?” (:26) Hy het die profesieë van hulle volk geïntegreer met die gebeurtenisse wat kort tevore plaasgevind het. En hierdie integrasie het hulle harte laat brand.

Nêrens blyk hierdie klem op integrasie duideliker as in die opsomming wat Jesus van die wet gegee het nie. Die skrifgeleerdes wat Hom gevra het wat die grootste wet is, het ongetwyfeld verwag dat Hy een van die gebooie sou uitsonder. Maar Jesus het dieper gekyk en reguit na die kern gegaan, naamlik die gesindheid van die hart, wat een van liefde moet wees. Liefde tot God en die medemens is wat die goddelike wet vereis. Ongetwyfeld is daar mense met verskillende soorte spiritu-aliteite. Terwyl een individu 'n groot hoe-veelheid teologie met sy verstand mag ken en mag insien hoe verskillende waarhede by mekaar pas, is dit nogtans moontlik om nie emosioneel geroer te word wanneer aan God gedink word nie. Aan die ander kant is dit moontlik om 'n sterk positiewe gevoel teenoor God te ondervind, en dit selfs in sang en op ander maniere uit te druk, en tog baie min te verstaan van wat Hy aan die doen is of wat Hy verwag dat die mens moet doen. Terwyl die teoloog met sy boeke en die emosionalis met sy prysliedere so betrokke mag wees in hul bedrywighede dat hulle selde iets van praktiese waarde verrig, is daar ook diegene wat min of meer niks weet nie en selfs nog minder voel, maar wat besluit dat God verwag dat hulle aktief moet wees in goeie werke.

Watter een van hierdie drie benaderings is korrek? Te oordeel aan die maatstaf wat Jesus gestel het, is elkeen wat een aspek beklemtoon met die uit-sluiting van die ander, op 'n dwaalweg. Hy het hulle verwys na Deuteronomium 6:5: “Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” Maar volgens al drie evangeliste wat die voorval geboekstaaf het, het Hy ook iets bygevoeg wat nie in die boek van Moses voorkom nie, naamlik “en met jou hele verstand.” In die lering van Jesus moet al die bekwaamhede van die mens saamgevoeg word deur die liefde tot God. Dit is nie 'n ontkenning van die feit dat sommige mense bo gemiddeld intellektueel geneigd mag wees en ander meer emosioneel of prakties, en dat alle soorte nodig is in die diens van God nie. (Spesialisasie is alreeds in die vroeë Christelike kerk beoefen toe diakens by die apostels gevoeg is.) Maar wat 'n individu ook mag besit in die rigting van natuurlike gawes moet ten volle aangewend word in die liefde tot God. Eerder as om mekaar te vermink moet elke bekwaamheid die ander aanvul. Om te verstaan wie God is en wat Hy vereis en wat Hy aanbied sal die emo-sionele gehegtheid aan Hom verhoog en dien as aansporing tot handeling in sy diens. Elke deel van die mens se wese word betrek: die hart, die siel, die verstand en die krag. Al die dele moet saamwerk as 'n geheel en met een doel. Voeg hierby dat elke individu ook vir die ander moet lewe. Dit beteken integrasie in die samelewing.

Soos ons opgemerk het, het die mens, die meesterstuk, twee uitstaande verlangens wat hy nie met die dier deel nie: om op 'n nuwe manier te oortref en te integreer. Beide hierdie strewes word aangespreek deur die inhoud van die woorde van Jesus. Aan die een kant neem dit die luisteraar verder in die werklikheid as enige ander woorde wat hy gehoor het – tot by die hart van die Skepper. Aan die ander kant neem dit hom na die ellendigste mense wat hy moet liefhê en dien. Hierdie woorde verkondig integrasie in elke verband waarin die mens homself mag bevind. Is dit dan 'n wonder dat 'n man wat hulle direk van die Spreker gehoor het, toe hy gevra is of hy Hom nie liewer wou verlaat nie, sou vra: “Na wie toe sal ons gaan?”



Die geskiedenis.

Die mens soek na betekenis. Maar kan die lewe van enige individu betekenis hê as die hele rigting van die geskiedenis sonder betekenis is? “Die probleem van kreatiwiteit lei verder na die probleem van die geskiedenis,” sê Berdyaev. (B. & E, bls. 194)

Toe die engel die geboorte van Jesus aan die herders aangekondig het, het hy 'n paar belangrike dinge omtrent Hom gesê: dat Hy Christus die Here is en dat Hy vir alle mense bedoel is. Maar daar word ligtelik oor die hoof gesien dat hy ook gesê het: “vandag in die stad van Dawid.” (Lukas 2:11) Dit het Jesus reg binne-in die geskiedenis geplaas. Hy is op 'n spesifieke tyd en 'n besondere plek gebore, en ná Hom sou dinge nie dieselfde wees as voorheen nie. Hy was nie slegs 'n ewige beginsel nie.

Wolfhart Pannenberg beklemtoon die belangrikheid van die geskiedenis, en baie van wat nou volg is geneem uit sy boek “Glaube und Wirklichkeit.” Dit is slegs die God van die Bybel, sê hy, wat betekenis gee aan die geskiedenis en die toekoms. In wat hy noem “kultiese gemeenskappe” kyk elkeen terug in die verlede, na die oorsprong van die wêreld, na die tradisies van die voorvaders; en geweldige pogings word aangewend om harmonie met die verlede te bewerkstellig deur sommige van die vroeë gebeurtenisse te herhaal. Kultiese mense leef met die rug na die toekoms.

Net so het die Griekse gode geen toekomsperspektief gehad nie. Niemand het verwag dat die inwoners van Olimpus in die toekoms anders sou optree as wat hulle in die verlede gedoen het nie.

Alhoewel die Griekse filosowe nie teruggekyk het soos die kultiese mense nie, het hulle tog ook nie na die toekoms gekyk nie. Vir hulle was die ewige werklikhede tydloos, en wanneer hulle hul tyd daaraan bestee het om hulle te oordink, het hulle in 'n ewige teenwoordige tyd gelewe. Of om Berdyaev aan te haal: “Vir die outydse Grieke was die wêreld 'n kosmos, vir die outydse Hebreërs was dit geskiedenis.” (B.&E.,bls.197) Vir eersgenoemdes was dit belangrik dat alles in 'n netjiese totaliteit gerangskik word, maar laasgenoemdes het gevra waarheen alles lei.

En daar is rede om te glo dat Jesus presies op die mees geskikte tydstip in die geskiedenis verskyn het. Leslie Badham verwys na “die besondere tydigheid van Jesus se koms.” Hy dui aan dat Hy gekom het “op die oomblik in die geskiedenis wat die waarskynlikste die ontvangs, die begrip, en die verspreiding van die Evangelie sou begunstig.” Die Jode het gevorder tot 'n vlak waar hulle die lering van Jesus kon waardeer. Maar ook nie slegs die Jode nie.


Die Grieks-Romeinse wêreld was ook letterlik ten einde raad vir 'n aanneemlike geloof. Die ou politeïsmes het hul dae gehad. Hulle verwarde mitologieë het die beter verstande vervreem en die meer eenvoudiges dronkgeslaan. As die dood van ou gelowe ooit die weg geopen het na die nuwe, dan was dit nou die tyd .... Daar was 'n behoefte aan 'n godsdiens wat op een vlak die harde eise van die filosofie kon bevredig, en aan die ander kant mense kon bevry van die growwe bygeloof en emosionalisme van die misteriegodsdienste, en wat nogtans op 'n ander vlak die eise van 'n verbeterde morele kode kon bevredig .... Enige godsdiens wat getrag het om allesomvattend te wees moes dus 'n drievoudige eis bevredig: die eis van die filosofie, die eis van die emosionele kant van die menslike natuur, die eis van die stygende etiese standaarde. ... Die godsdiens van Jesus het elke sodanige behoefte bevredig. (blss.180-182)


As ons die woorde van Jesus lees soos hulle in die evangelies opgeteken is, word ons getref deur hoeveel Hy gesê het oor die toekoms. Hy het gesê Hy kom weer. Maar Hy het ook gesê dat daar voor daardie tyd afgryslike lyding sou wees.

Pannenberg wys ook daarop dat die toekomsperspektief van die skrifte toenemend insluitend geword het. Aan-vanklik het hulle slegs gemeld wat met Israel sou gebeur, daarna is ander nasies ingesluit, en uiteindelik word daar gesê dat die kosmiese wêreld ook hernuwe sou word.

Woorde van lewe.

Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe,” het Jesus gesê. (Joh. 6:63) Dit is in ooreenstemming met wat Petrus gesê het toe Jesus gevra het of sy oorblywende dissipels Hom nie ook wou verlaat soos sommige ander gedoen het nie. Jesus alleen, het hy gesê, het die woorde van die ewige lewe, dus na wie toe kon hulle gaan?

Wat het Petrus bedoel met “ewige lewe”? Hy het waarskynlik onsterflikheid in gedagte gehad, van 'n lewe na die fisiese dood. Wie anders kon hulle dit aanbied? Die Ou Testament sê baie min oor die onderwerp, en dit lyk nie asof dit 'n baie belangrike plek in die gedagtes van Petrus se eie mense ingeneem het nie, wat nie eintlik veel meer verlang het as om lank op aarde te lewe en baie kinders te hê wat hul daarna kon onthou nie. Dit kom voor asof die Grieke meer daaroor nagedink het, en hulle het verhale gehad van Charon wat die siele van die ontslapenes met sy bootjie oor die rivier Stiks neem. Maar watter troos het hulle die gewone mens gebied? Berdyaev sê in hierdie verband:

Vir die Grieke was die gode onsterflik, terwyl die mens sterflik was. Onsterflikheid is gesien as behorende tot die helde, tot halfgode en supermense. Maar dit het daarop neergekom om onsterflikheid aan die goddelike toe te skrywe en dit van die menslike te weerhou. (D&R,bls. 292)

Kon die Griekse filosowe nie beter doen nie?

Plato het geen begrip van die onsterflike bestemming van die mens gehad nie, want die idee van onsterflikheid ... het nie betrekking op die mens nie, maar op die “universele siel.”

In teenstelling tot die Grieke, hetsy tradisionaliste of filosowe, besluit hy:

Die Christendom alleen verkondig onsterflikheid vir die hele mens, vir alles wat werklik menslik en werklik goddelik in hom is. (bls. 293)

Dit is moontlik dat Petrus reeds nagedink het oor die betekenis van die vraag: “Wat is die lewe?” En selfs as hy dit nie in woorde gedoen het nie, mag hy sommige intuïtiewe antwoorde gevind het. Hy mag opgemerk het dat, waar daar ook al fisiese lewe is, daar verskillende soorte uitbreiding voorkom. Elke ding wat lewe is òf besig om groter te word, òf het dit in die verlede gedoen. Dit brei ook uit deur meer van sy eie soort voort te bring. En hy mag opgemerk het dat hierdie uitbreiding gepaard gaan met integrasie. Die liggaam neem voedingstowwe op uit die voedsel wat dit eet en wys daarvoor plekke aan in sy eie samestelling. By die dood word die teenoorgestelde proses aan die gang gesit wanneer dit disintegreer. Voortplanting is ook die gevolg van integrasie, naamlik dié van die manlike en vroulike lede van die spesie. Hy mag daarvan bewus geword het dat die geestelike lewe van die mens ook gekenmerk word deur baie vorms van uitbreiding en integrasie, en dat dit dikwels lei tot die ontdekking van iets nuuts. Ongetwyfeld sou die ewige lewe ook gekenmerk word deur integrasie, maar volgens definisie sou dit nie tot 'n einde kom nie, of dit nou by die dood is of enige ander tydstip.

Beide die idee van hernuwing of die herstel tot sy oorspronklike toestand, en dié van die skepping van iets nuuts wat nog nie voorheen bestaan het nie, speel 'n belangrike rol in die evangelie. Dit is nie sonder rede dat die verhaal van die lewe en sterwe van Jesus en wat daarop gevolg het, bekend staan as die Nuwe Testament nie. In die eerste hoofstuk van sy evangelie spel Johannes uit wat hierdie nuutheid insluit. “Want die wet is deur Moses gegee;” sê hy in vers 17, “die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” Paulus neem dieselfde tema op waar hy praat van diens “in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.” (Rom.7:6) Die skrywer aan die Hebreërs maak die stelling dat Jesus “die nuwe en lewende weg” geopen het waardeur die mens tot God mag nader. (Heb.10:20) Hy het sy volgelinge 'n nuwe gebod gegee: dat hulle mekaar moes liefhê. (Joh. 13:34) Hy het van sy boodskap gepraat as nuwe wyn wat in nuwe sakke gegooi moes word.(Matt.9:17) “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed,” het Hy by die laaste paasmaal gesê. (Luk 22:20) Reeds in die Ou Testament is spesiale waarde geheg aan 'n nuwe lied. (bv. Ps.33:3, 96:1, Jes.42:10) en in die heel laaste boek van die Bybel word hierdie tema weer opgeneem. (Openb.5:9, 14:3) Net so is spesiale klem gelê op 'n nuwe naam. (Jes.62:2. Openb.2:17, 3:12) Van groot belang is die nuwe verhouding waarin Hy tot sy volgelinge staan. Wanneer Hy verklaar: “Ek noem julle nie meer diensknegte nie,” dan bewys dit dat Hy hulle wel eers so genoem het. Maar dit het verander en het plek gemaak vir iets nuuts: “Maar Ek het julle vriende genoem...” (Joh.15:15) In sy gesig van die Nuwe Jerusalem som Johannes alles op deur te berig: “Hy wat op die troon sit, het gesê: ‘Kyk, Ek maak alles nuut.’” (Openb. 21:5)



Nie “wat?” nie maar “wie?”

Die mens wil sekere dinge hê, en hy wil sekere dinge weet. Maar dit is nie vir hom genoeg nie, want hy het ook 'n diep verlange om in 'n persoonlike verhouding tot ander te staan, wat veral beteken dat wat hy ondervind, wedersyds moet wees. Hy heg waarde aan ander persone, en hy sal alles gee om ook deur hulle gewaardeer te word.

Dit is betekenisvol dat Petrus gevra het: “Na wie toe sal ons gaan?” Vir hom was dit nie slegs 'n intellektuele keuse tussen mededingende stelsels van denke nie, maar 'n persoonlike een tussen verskillende meesters. Die ander mense wat Jesus verlaat het, het ongetwyfeld net maar teruggekeer na die Hebreeuse godsdiens soos deur die priesters en wyse manne uitgelê. Kon Petrus nie maar dieselfde gedoen het nie? Maar was daar enigeen wat met Jesus kon meeding wat betref sy gesindheid en sy liefde tot sy volgelinge? En wat kon hulle 'n individu bied wat betref die ewige lewe? In die Ou Testament word God dikwels beskryf as ewig, maar die enigste ewige belofte wat die mens ontvang het, was dat sy nageslag in die land sou woon en op ander wyses geseën sou word. Daar mag 'n vae gewaarwording gewees het dat 'n mens se siel ná sy liggaamlike dood sou voortbestaan, en dat die kwaliteit van hierdie lewe verband gehou het met sy lewe op aarde, maar dit het nooit enige spesiale klem ontvang nie. Hoe het dit vergelyk met Jesus se belofte dat Hy sy volgelinge na Homself en na hulle Vader in die hemel sou neem?

Na wie anders kon Petrus dus gaan? Kon hy die Romeine uittoets? Hoe aan-treklik was Pilatus en die Keiser en die plaaslike Romeinse soldate? En wat het hulle gehad om te bied behalwe militêre mag? Sou iemand wat geroep is om 'n visser van mense te wees, ooit daarmee tevrede wees om mense dood te maak? Selfs hul hooggeroemde pax Romana of Romeinse vrede was niks meer as 'n afwesigheid van aktiewe oorlogvoering nie, min of meer soos om twee honde te skop om hulle te keer dat hulle nie met mekaar baklei nie. Dan was daar natuurlik die Grieke. Hulle het hulle minstens na hoër dinge uitgestrek as om die wêreld te verower. Maar hulle godsdiens, met al die binnegevegte onder die inwoners van Olimpus, het nie meer 'n aantrekkingskrag gehad vir denkende mense nie. Die filosowe het ongetwyfeld meer agting verdien, en Plato het inderdaad 'n skema ontwerp wat hy nie slegs as ewig beskou het nie, maar wat inderdaad bestaan het uit 'n integrasie van al die talle idees in 'n pira-miede met die idee van die goeie aan die bopunt. Moontlik 'n baie netjiese skema, en meer aantreklik vir die soekende gees as Zeus en kie. Maar tog het dit net idees bevat. En die lewe bestaan nie uit idees van dapperheid en lafhartigheid, van liefde en haat, van die goeie en die slegte, nie, maar uit dapper en lafhartige mense, uit dade van liefde en haat, van goedheid of kwaad. Hoeveel inspirasie kon daaruit verkry word om abstraksies te rangskik?

Petrus was heel moontlik onder die invloed van die woorde wat in Deut. 30:19 gevind word, waar God aan die kinders van Israel sê: “Die lewe en die dood, die seën en die vloek het Ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe. ”

Om die lewe te kies hang nie af van die vermoë om te sê wat dit is nie. Ons merk op dat dit altyd gepaard gaan met sekere kenmerke, en dat uitstrekking en integrasie daaronder ingesluit is. En tog kom daar altyd iets by waarop ons nie die vinger kan lê nie. Maar as die lewe bedreig word, wag ons nie vir definisies voordat ons kies nie. Selfs die kleinste diertjie gaan tot handeling oor, ook al bestaan dit net daarin om te vlug. En tog is daar een groot werklikheid wat al die mens se vreugde bedreig: die absolute sekerheid dat sy lewe op aarde tot 'n einde gaan kom. Soos Michael Green dit stel:


Ons mak, gepamperlangde gemeenskap het daartoe gekom om die dood te beskou as die grootste ramp wat enige mens kan tref: iets wat so lank moontlik uitgestel moet word, en wat dan met troostende parafrases versier moet word. Ons is nie net bang om die dood te ontmoet nie, ons is bang om eerlik daaroor te praat. Dit is die verbode onderwerp van gesprek in die hedendaagse weghardloopwêreld. (bls. 104)

Malcolm Muggeridge noem die dood “die smerige klein geheimpie van die twintigste eeu. (bls.101)Dit is 'n opmerklike feit,” sê Emil Brunner, “dat die moderne godsdiens ... die probleem van die dood ignoreer. Ons klassieke skrywers, en in besonder hulle hoof, Goethe, vermy die probleem van die dood in dieselfde mate as wat hulle die probleem van die radikale kwaad vermy.” (Mediator, bls. 566)

Maar wat is die gevolg daarvan om te swyg oor die sekerste werklikheid wat ons in die oë moet kyk? Ons kan ons nooit van die bewustheid bevry dat dit daar is en gereed is om op een of ander oomblik op ons te spring nie. Ons weet maar alte goed dat dit eendag sal blyk dat al ons pogings om dit oor die hoof te sien tevergeefs was. Wat ons nodig het, is nie om te vergeet nie, maar om te oorwin. Daar moet een of ander versekering wees dat die dood nie die einde van ons bestaan is nie.

Die Getuie het nooit die onderwerp van die dood vermy nie. Inteendeel, Hy het dikwels heel openlik oor sy eie dood en dié van sy volgelinge gepraat. Sy eie dood was 'n sekerheid wat Hy genoem het selfs as dit sy vriende gegrief het. (Matt. 17:23) Maar dit het ook 'n noot van triomf bevat, naamlik die belofte dat Hy weer uit die dood opgewek sou word. Ook is die dood nie op Hom afgedwing nie, en niemand het sy lewe van Hom weggeneem nie, maar “Ek lê dit uit Myself af.” (Joh. 10:18) En nie alleen het dit Hom aangegaan nie, maar ook sy volgelinge, want “Ek lê my lewe af vir die skape.” (:15) “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.” (Joh. 15:13) Hier is die uiteindelike oorwinning oor die dood: om dit doelbewus te aanvaar, nie omdat die lewe ondraaglik geword het nie, maar terwille van sy vriende. So 'n dood het betekenis. Yancey skryf van John Donne:



'n Draaipunt het vir Donne gekom toe hy begin het om die dood nie te beskou as 'n siekte wat permanent die lewe bederf nie, maar eerder as die enigste geneesmiddel vir die siekte van die lewe, die finale stadium in die reis wat ons by God uitbring. (Survivor, bls.209)



En dan kom die klimaks: Jesus het nie slegs vir sy vriende gesterf in die sin dat Hy die dood van hulle weggekeer het, soos 'n swemmer wat verdrink terwyl hy 'n ander se lewe red nie, of soos iemand wat sy eie liggaam tussen 'n vlieënde pyl en sy teiken plaas nie. Wat Hy gedoen het, was om die weg tot die ewige lewe ná die dood van die liggaam te open. “Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie,” het Hy gesê. (Joh. 11:25, 26) Dit is waarom Petrus en miljoene ander sedertdien alles op die betroubaarheid van die Getuie gewaag het. As iemand die dissipel sou vra: “Gee my 'n definisie van die ewige lewe,” mag hy miskien nie eens verstaan het wat van hom verlang word nie. Hy kon moontlik sy vraesteller vertel het hoe sy gees verruim geword het namate sy belangstellings uitgebrei het vanaf aardse tot hemelse dinge, van visvang tot die vang van mense, van 'n skraal nasionalisme tot 'n gewilligheid om plek te maak vir die Samaritaanse vrou (en op 'n later stadium vir die Romein Cornelius), en op baie ander maniere. Hy kon ander woorde en gebeurtenisse genoem het wat geklassifiseer kan word as vorms van integrasie. Maar dit is twyfelagtig of die visserman 'n beter sistematiese verklaring van sy keuse sou kon gee, as by die geleentheid toe hy begin sink het en uitgeroep het: “Here, red my!”

Maar veronderstel iemand sou aandring: “Asseblief, Petrus, definieer tog asseblief die term ‘ewige lewe.’” Moontlik sou hy iets kon sê wat op daardie oomblik by hom opgekom het, soos “lewe wat nooit ophou nie”. Maar as hy dieper daaroor nagedink het, kon hy besef dat dit beter aangevoel as uitgedruk word. As hy genoeg Grieks geken het, kon hy moontlik selfs die woord “mustirion” gebruik het. En as hy vermoed het dat daar gespot word met sy onvermoë om presies te sê wat dit is wat vir hom so belangrik is, kon hy selfs gevra het, “Hoe kan jy van my, 'n visserman, verwag om te sê wat die ewige lewe is, as die beste denkers van julle eie eeu nie eens kan sê wat die gewone lewe is nie?” En hy kon bygevoeg het: “Maar as jou lewe bedreig word, soek jy dan eers 'n definisie voordat jy 'n besluit neem?”

Petrus het maar alte goed geweet wat nodig is vir die lewe en gesondheid van sy liggaam, en dit het vir hom die beste analogie gebied om die behoeftes van sy gees te herken. Dit was ook omdat hy sy geloof in die Getuie geplaas het dat Paulus in staat was om te sê: “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” (Fil.1:21)

As Jesus 'n preek gelewer het deur die omstandighede van sy dood, wat het Hy met sy laaste woorde aan die kruis gesê? Kan enige sterfling die diepte peil van die duisternis waarin Hy gevou was toe Hy uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Paulus sê die ewige straf bestaan daarin om “weg van die aangesig van die Here” te wees. (2 Thess.1:9) Dit is wat Jesus op daardie oomblik ondervind het, toe Hy sy Vader gevra het: “Waarom?” Het Hy 'n antwoord op hierdie vraag ontvang? Ons word nie vertel dat dit gebeur het nie. En dit kon nie lank daarna gewees het nie, dat Hy sy laaste asem uitgeblaas het met die woorde: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” (Lukas 23:46) Hierdie woorde is herhaal deur Stéfanus, die eerste martelaar, toe hy deur die woedende skare gestenig is. “En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: ‘Here Jesus, ontvang my gees.’” (Hand. 7:59)

Ons eie pogings.

Maar is dit nodig om te wag op die vooruitsig van die naderende dood voordat ons iets omtrent God kan uitvind? Dra ons eie pogings om Hom te vind dan niks by wat van waarde is nie?

Daar is 'n aansienlike meningsverskil omtrent die vraag in hoeverre menslike denke, met ons eie kennis en ervaring as vertrekpunt, ons kan neem na die kennis van God. Een uiterste stand-punt is dat niks in ons eie ondervinding ons in so 'n rigting lei nie, en dat al ons kennis van God uitsluitlik deur openbaring in die Bybel kom. Maar dit is duidelik in stryd met Dawid wat gesing het: “Die hemele vertel die eer van God, en die uit-spansel verkondig die werk van sy hande,”(Ps.19:2) en wat God geprys het “omdat ek so vreeslik wonderbaar is” (Ps. 139:14) en met Paulus se stelling dat selfs die heidene in die skepping iets omtrent die mag van God kon leer. Aan die mense in Lystra het hy gesê God het “Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee.” (Hand. 14:17) Aan die Romeine skryf hy: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid.” (Rom. 1:20) En die Atheners is meegedeel dat God van die mense verwag het om Hom te soek. (Hand. 17:27) In ons eie tyd kan die vraag goedskiks as volg geformuleer word: “Kan die wetenskap ons na God toe lei?” En in hierdie verband is dit leersaam om weer-eens te let op Polkinghorne se “intellek-tuele rusteloosheid.” Dit word opgewek in diegene wat hulle wetenskaplike studies voortsit en vind dat elke waarneming roep om 'n verklaring. Dit duur voort totdat die punt bereik word waar hulle nie meer verklarings kan bied met die gereedskap en die gegewens tot hul beskikking nie. En so word hul dan gereed gemaak vir 'n ant-woord wat hulle uit 'n ander oord bereik. In daardie sin kan dan gesê word dat menslike kennis na God lei deur ander keuses uit te put en uit te sluit. Dit kan byna vergelyk word met 'n drenkeling wat so 'n stadium van uitputting bereik het, dat hy gewillig is om die lewensredder 'n kans te gee. Toenemend raak 'n soeker oortuig van sy onvermoë om 'n uitvoerige kennis van die uiteindelike werklikheid te bekom. Maar daar is 'n paar dinge wat die ondersoeker nie kan betwyfel nie en gevolglik gedwing word om te glo.


Hy kan nie twyfel aan hierdie onvermoë nie.


Hy kan nie betwyfel dat daar gebiede van die werklikheid is wat hy nie met sy vyf sintuie kan ken nie.


Hy word gedwing om te glo dat daar 'n Intelligensie agter die natuur is soos ons dit ken, en dat Hy krag tot sy beskikking het waarvan ons mense geen benul het nie.


Hy raak toenemend oortuig dat die Getuie wat ons in hierdie geskrif ontmoet het, die mees uitnemende Persoon is wat ooit geleef het, dat hy die aanspraak verdien het “Ek is die waarheid,” en dat Hy die mens geken het soos niemand anders nie. Van al die aardse dinge waaroor Hy gepraat het, is daar geeneen waaroor Hy meer diepgaande uitsprake gemaak het as oor die meesterstuk nie, naamlik die mens. Meer as enigiets anders wek hierdie diep kennis van die mens en sy diepste verlangens 'n reaksie in die luisteraar en oortuig dit hom dat die Getuie ook vertrou kan word wanneer Hy praat van daardie dinge wat hy nie met sy eie bekwaamhede kan verifieer nie.


Met sy eie menslike vermoëns kan hy Hom herken as die allergrootste menslike Wese en die allergrootste Leermeester. Maar hoe kan hy dit doen sonder om die inhoud van sy lering te aanvaar? En dit bring hom by die feit dat Hy gesê het Hy is die Seun van God. En Hy het ook gesê Hy is die Middelaar tussen God en die mens en die Verlosser van die mens. Hierdie dinge kan die mens slegs glo omdat hy die Getuie se woord daarvoor neem. En een van die redes waarom 'n mens gewillig is om sy woord te neem vir wat buite sy eie vermoë lê om vas te stel, is dat Hy so oortuigend praat omtrent die dinge wat wel gekontroleer kan word. Die waarheid wat Hy praat oor aardse dinge is 'n rede om te glo wat Hy sê oor die hemelse.


Wat van die misterie?

Sal ons ooit van die misterie ontslae raak? Sal ons ooit 'n plek bereik waar alles vir ons glashelder is? Of sal ons altyd moet erken dat dit 'n onlosmaaklike deel van die werklikheid uitmaak?

Reeds in Deuteronomium staan daar geskrywe: “Die verborge dinge is vir die Here onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid.” (19:29) Eeue later verklaar Paulus: “Ons ken ten dele en ons profeteer ten dele,” (1 Kor. 13:9) en “Nou sien ons deur 'n spieël in 'n raaisel.(:12) Hy sien uit na die dag wanneer ons ten volle sal ken, maar ons is nog nie daar nie. En enigeen wat ernstig oor sake nadink, sal moet erken dat hy soms oorweldig word deur wat hy nie kan verstaan nie.

Ongetwyfeld die mees tergende vraag waarmee nog steeds geworstel word, is waarom daar soveel ellende in die wêreld is. Die teoloog Heinz Zahrnt sê die probleem van lyding is die beswaar wat in ons dag die meeste mense teen die Christendom beïnvloed.(bls.304) F.R.Barry stem met hom saam. “Die koppigste, en trouens die uiteindelike struikelblok vir geloof in God en die Christelike leer is die teenwoordigheid en vernietigende krag van die kwaad, in die wêreld en in die lewens van mense.”(bls. 107) Dit is ongetwyfeld ook die grootste geheimenis vir diegene wat in Hom glo. “As daar 'n God is wat beide liefdevol en almagtig is, waarom lyk die wêreld soos hy lyk?” wonder hulle. Dit is die probleem wat alreeds vir Job gepla het. Sy vriende het 'n maklike antwoord aange-bied: lyding is 'n straf vir sonde. Dit was ongetwyfeld ook in die gedagte van mense in die tyd van Jesus, soos dié wat genoem word in Lukas 13:4, wat gereken het dat die toring in Siloam die grootste sondaars uitgekies het om op te val. Ook sy dissipels het Hom gevra of 'n sekere blinde man se lot die gevolg van sy eie sondes was of van dié van sy ouers. (Joh. 9:2) Die gevolg van die siening van Job se vriende, dui Zahrnt aan, is dat mense God sal dien bloot ter wille van die voordele wat dit hulle mag bring. In teenstelling tot hulle, kan Job se geloof en toewyding beskryf word as “godsdiens van die werklikheid.” (des wahren Seins.) Wat hom die meeste gepla het, was nie sy verskriklike lyding nie, maar die feit dat hy geen betekenis daarin kon vind nie. Vir hom was godsdiens nie 'n salige emosie nie, maar die verklaring van die wêreld deur God, waarheen dit ook mag lei. Toe hy besef het dat die heelal nie deur die mens beheer kan word nie, het hy homself onvoorwaardelik aan God oorgegee. Die profetiese toppunt word bereik in Job 19:25,26: “Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.” Selfs in die Ou Testament word die tema aangetref dat daar uiteindelik 'n verlossing uit die lyding sal wees. God is 'n medelyer wat by die mens staan in sy lyding en wat dit tot 'n goeie einde wil bring. Vir die oorsaak van lyding, sê die skrywer, is hy nie in staat om 'n teologiese verklaring te gee nie. Dit pas Christene om nederig te praat oor die verborge dinge van God, en nie asof hulle oor al die kennis beskik nie. Maar aangesien God by die mens staan in sy lyding, moet ons ook by andere staan in hulle ellende, eerder as om ons te verknies oor die oorsprong daarvan. (bls.304 et seqq.)

Job moes gelyktydig twee aanvegtinge die hoof bied: sy uitmergelende velsiekte en die misterie waarom God dit toegelaat het. Sy vriende het nie een van die twee probleme ondervind nie. Wat merkwaardig is omtrent Job, is dat sy vraag nooit beantwoord is nie, en dat dit tog voorkom asof hy tevrede gestel is. Die leser verneem van die weddenskap tussen God en die duiwel, toe laasgenoemde beweer het dat Job se toewyding slegs die gevolg was van 'n begeerte om aardse voordele te ontvang. Maar Job ontvang geen verklaring van sy lyding nie. Wat hy wel ontvang, is 'n openbaring van die majesteit en wysheid van God, met verwysing na die hemelliggame en die diere. Ons word nie vertel presies watter gedagtes deur Job se verstand gegaan het voordat hy sy uiteindelike gevolgtrekking bereik het nie, maar ek wil raai dat dit min of meer die volgende kon gewees het: “God het my gevra waar ek was toe Hy die fondamente van die aarde gelê het.(38:4) Inderdaad, waar was ek? Wat weet ek van die rede waarom Hy selfs maar die aarde gemaak het, afgesien nog van die vraag hoe Hy dit beplan het en hoe Hy dit gemaak het? Dieselfde geld vir die diere: waarom is daar soveel soorte, hoe het Hy hulle ontwerp, en hoe het Hy gesorg dat die aarde hulle voortbring? Wat my betref, ek het klaarblyklik die son nodig, en moontlik selfs die maan, maar al die ander sterre lyk vir my onnodig. En ek het geen behoefte aan krokodille en haaie nie; nog minder aan slange en skerpioene. Maar God ken die antwoorde op al hierdie vrae, en vir my is dit genoeg dat hulle deel van sy plan vorm. En wat betref die rampe wat my getref het: geld dieselfde nie daar ook nie? Is dit nie genoeg om te weet dat God in beheer is nie? Chesterton noem die boek Job “een van die kolossale hoekstene van die wêreld,” vergelykbaar met die Iliad en die Griekse tragedies. “Inderdaad beantwoord die Boek van Job slegs misterie met misterie. Job word met raaisels getroos; maar hy word getroos.” (bls.113)

Alhoewel ons nie mag hoop om ooit die probleem van lyding en die kwaad te be-antwoord nie, is daar een vertroosting wat ons aandag verdien. Volgens die Bybelse verslag het God nie die kwaad geskep nie, maar Hy het die moontlikheid oopgelaat dat dit in sy skepping kon inkom. Dit het van die mens afgehang of hy die kennis van goed en kwaad wou hê. Kon God hom nie op so 'n manier geskep het dat hy geen begeerte daarna gehad het nie? Onge-twyfeld kon Hy, maar wat sou die verskil tussen die mens en die dier gewees het as Hy dit gedoen het? Soos C.S.Lewis sou sê, die val van die mens was die prys wat God daarvoor betaal het om 'n wese met 'n vrye wil te maak. En op 'n baie vroeë stadium het God vir Kain gesê: “Die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.” (Gen.4:7) As daar geen moontlikheid van sonde was nie, kon daar geen oorwinning daaroor wees nie, en sou die mens nie die verhewe skepsel gewees het wat hy is nie. Hy sou min verskil het van die diere.

Daar is ook talle aanduidings dat die lyding van die mens God nie behaag nie. “Nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie,” merk Jeremia op. (Klaagl. 3:33) En hy sê ook: “'Is Efraim vir my 'n dierbare seun of 'n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal my sekerlik oor hom ontferm,' spreek die Here.” (Jer.31:20)

Jesus het geen formule aangebied om van al die probleme ontslae te raak nie, ook nie die een van lyding nie. Maar, soos ons voorheen opgemerk het, was dit nie Hy wat die probleem gebring het nie. Selfs as Hy nooit gekom het nie, of as ons weier om in Hom te glo, sou ons nog steeds gedwing word om 'n Ontwerper te erken, en sou ons nog steeds wonder waarom hy nie lyding uit sy skepping uitgesluit het nie. Die misterie sou nie opgelos word nie. Net soos Job, wie se vraag nooit beantwoord is nie maar wat nogtans tevrede was, bereik die volgelinge van die Getuie 'n plek waar hulle moet vertrou dat God alleen die antwoord ken, maar waar hulle 'n taak ontvang om uit te voer. In Job se geval was dit om vir sy vriende te bid. In ons eie geval mag dit ook daarin bestaan om hulle op ander maniere te dien. Soos by Petrus, mag ons liefde daartoe lei dat ons sy skape oppas.

Een gevolgtrekking behoort duidelik te wees: elke dag dat ons ons kwel oor wat ons nie verstaan nie, is 'n dag wat verlore geraak het vir konsentrasie op wat wel aan ons gegee is om te weet en vir die diens wat dit ons in staat stel om te lewer. En namate ons konsentreer op wat aan ons gegee is en meer daarvan bemeester, mag ons vind dat, hoewel die misterie altyd met ons sal wees, dit met die tyd kleiner word en ons minder pla.

Die volgelinge van die Getuie ontvang nie antwoorde op al hul vrae nie. Net soos Job, bereik hulle 'n punt waar hulle moet erken dat daar 'n geheimenis oorbly. Maar as hulle nadink oor hul diepste behoefte en hulle luister na sy stem, vind hulle ten slotte dat hulle voor 'n keuse tussen die lewe en die dood te staan gekom het. En, soos Petrus vanouds, kan hulle maar net die lewe kies.


















Die keuse van die lewe.

Die Getuie het gesê diegene wat in Hom glo het die ewige lewe. Maar wat beteken dit om in Hom te glo? Dit sluit vanself-sprekend in om Hom te vertrou en te ge-hoorsaam. En dit sluit ook in om die gawe van die ewige lewe aan te neem wat Hy vanaf die uiteindelike werklikheid gebring het en waarvoor Hy sy lewe afgelê het.

Hoe word so 'n gawe ontvang? Daar is geen standaardformule om Hom te

beïndruk wat na die hart kyk nie. Vanselfsprekend sal woorde in gebed gebruik word, en een persoon kan moontlik 'n ander tot hulp wees om 'n gepaste formulering te vind. Maar die mees vanselfsprekende wyse om so 'n geskenk te aanvaar is deur hartelik en opreg die Gewer te dank, nie alleen met woorde nie, maar met die hele lewe. Want as enigeen glo dat die Getuie werklik is wat Hy gesê het dat Hy is, sou dit totaal onvanpas wees om Hom met 'n halwe hart te dien. As daar by enigiemand 'n verlange is om na Hom te kom, is daar seker geen groter aanmoediging as die feit dat hierdie verlange wedersyds is nie. Die voorstelling van God wat in die Bybel opgeteken is, is nie dié van 'n afsydige Wese wat nou wel die aanbod maak dat die mens na Hom mag kom, maar vir wie dit nie veel saak maak wat die reaksie op sy uitnodiging is nie. Ons sien Hom as die Vader wat die verlore seun tegemoet hardloop as hy nog ver is, as die Herder wat gaan soek na die een verlore skaap, as die een wat ween oor Jerusalem wat Hom nie wou toelaat om sy kinders soos kuikens bymekaar te maak nie. Daar is vreugde in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer. En dit is Hy wat sy boodskappers uitstuur om aan te kondig: “Alles is gereed. Kom na die bruilof.”





















BIBLIOGRAFIE

(Tans nog onvolledig)


*Badham, Leslie

Barry, F.R. (1965): Questioning Faith, London,

S.C.M.Press

Behe, Michael J. (© 1996): Darwin’s Black Box –

The Biochemical Challenge to Evolution,

New York, Touchstone.

Berdyaev, Nicolas (© 1952): The Beginning and

the End, New York, Harper & Brothers.

Berdyaev, Nicolas (1950): Dream and Reality;

an essay in autobiography, London, Bles.

Berger, Peter L. (© 1969): A Rumour of Angels,

Harmondsworth, Pelican Books.

Brunner, Emil (Tr, Olive Wyon from second

German edition. (1932) The Mediator,

Philadelphia, The Westminster Press

Bryson, Bill (© 2003): A Short History of nearly

Everything, London, Black Swan.

Campbell, Joseph (Preface 1948): The Hero with

a Thousand Faces, New York, Pantheon Books.

Chambers, Oswald : My Utmost for his Highest

Darwin, Charles: (1860): The Origin of Species

Dawkins, Richard ((© 1986): The Blind Watch-

maker, Penguin Books.

Dawkins, Richard (© 1996): Climbing Mount

Improbable, Penguin Books

Durant, Will

Frankfort, H. & H.A., Wilson, John A. &

Jacobsen, Thorkild (first publ. 1846):

Before Philosophy – The Intellectual

Adventure of Ancient Man. Harmondsworth,

Penguin Books, 1949)

Frankl, Viktor E, (1st German publ. 1946): Man's

Search for Meaning, London, Hodder and

Stoughton.

Frobenius, Leo (1954 -- reprint): Kulturgeschichte

Afrikas, Zurich, Phaidon Verlag.

Green, Michael (1968): Runaway World, London,

Inter-Varsity Fellowship.

Joubert, Gideon (1997): Die Groot Gedagte,

abstrakte weefsel van die kosmos, Kaapstad,

Tafelberg Uitgewers.

Laiblin, Wilhelm (ed.) (1972): Marchenforschung

u nd Tiefenpsychologie. Darmstadt, Wissen-

schaftliche Buchgesellschaft.

























Lewis, C.S. (First published 1952): Mere Christi-

anity. London, Collins

Lubbock, Percy (1954 – first published 1921): The

Craft of Fiction, London, Jonathan Cape.

Machoveč, Milan (1972): Jesus für Atheisten,

Stuttgart, Kreuz Verlag.

Moltmann, Jürgen (© 1990, German 1989)

tr. Margaret Kohl, The Way of Jesus Christ –

Christolgy in Messianic Dimensions,

Minneapolis, Fortress Press.

Olson, Everett C. (© 1965): The Evolution of Life,

London,Weidenfeld and Nicolson.

Packard, Vance: The Hidden Persuaders

Pannenberg, Wolfhart (c1975): Glaube und Wirk-

lichkeit: Kleine Beiträge zum christlichen

Denken, München, Kaiser.

Polkinghorne, John (1988): Science and Creation,

London, SPCK.

Radcliffe-Brown. A.R. (1948): The Andaman

Islanders, Glencoe, Ill., The Free Press. (1st ed.

1922)

Sanders, J.Oswald (©1952): Christ Incomparable,

London, Marshall, Morgan & Scott.

Schaeffer, Francis (© 1972): He is there and He

is not silent in The Complete works of Francis

Schaeffer, Volume 1. Westchester, Crossway

Books.

Schroeder, Gerald L. (© 1997): The Science of

God – The convergence of Scientific and

Biblical Wisdom. New York, Broadway Books.

Watson, Lyall: (1977) Gifts of Unknown Things

Simon and Schuster.

Wilson, Colin (1988), Beyond the Occult,

London, Bantam Press.

Yancey, Philip (© 2001), Soul Survivor, How my

faith survived the church, London, Hodder

and Stoughton.

Zahrnt, Heinz (1977), Warum ich glaube.

Meine Sache mit Gott, München, Piper.



















(

Hierdie artikel kan vrylik afgelaai word by www.apkriel.co.za., ook in Engels

Opvolgartikels is 'n verdere moontlikheid.

Kommentaar word verwelkom




I





























52